×
Skakel na Engels

10 goed wat jy nooit vir ’n ma moet sê wat bottelvoed nie

Nommer 7 is eenvoudig verkeerd. Deur Megan Zander
bottle baby

 

1. “Bors is die beste.”

Tensy jy ’n blink, geraamde mediese graad het en sowel die ma as die baba se gesondheidsgeskiedenis bestudeer het, bly stil. Daar is hope redes hoekom borsvoeding nié noodwendig die beste vir sommige vroue en hul kinders is nie. Miskien is die ma op medikasie wat haar melk onveilig maak om te drink. Sy kan dalk nie genoeg borsmelk produseer om haar baba te versadig nie. Of miskien is haar baba vroeggebore en moes op formulemelk geplaas word om gewig aan te sit. Sy verkies dalk eenvoudig om borsmelk uit te pomp en dit in ’n bottel vir haar kind te gee. Of miskien wil sy bloot nie borsvoed nie, en dis 2016, en sy hoef nie. Haar liggaam, haar reëls.

2. “Maar jou borste is enorm! Jy moet melk hê?”

Om geseën te wees met ’n aansienlike borsmaat is goed vir baie dinge, soos om my gesig te beskerm as ek struikel, my selfoon vas te hou wanneer ek nie sakke het nie, en om as ’n borslap te dien sodat ek nie kos op my jeans mors nie. Maar moenie aanvaar net omdat ek groot borste het ek ’n reusagtige hoeveelheid melk produseer nie. Melkvoorraad is vir almal anders. En, nuusflits: Om met ’n vrou wat jy nie ken nie oor haar borste te praat is net so simpel nadat sy ’n baba gehad het as voor dit. Buitendien, as ons oor my tweeling gaan praat, kan ons op dié in die stootwaentjie fokus, asseblief?

LEES OOK: Die baie goeie rede om jou kinders se tande te hou

3. “Hoe sal jy ’n band met jou baba vorm as jy nie borsvoed nie?”

Enige tyd wat jy saam met iemand deurbring, is tyd wanneer jy ’n band vorm. Of ’n ma nou haar kind borsvoed of ’n bottel gee, sy hou hom vas terwyl sy hom kos gee en sit hom op haar skoot terwyl sy eet sodat hy nie huil nie. Sy neem hom selfs in sy stoeltjie saam badkamer toe as sy moet gaan en die baba soos menslike velcro optree wat nie lank genoeg van haar kan weg wees sodat sy kan gaan piepie nie. Dus, bors of geen bors nie, ek en my babas het genoeg van ’n band.

4. “Borsvoeding sal jou help om die babagewig te verloor.”

Asseblief tog, sê vir my jy het nie daarvan gepraat nie, Ek is ’n nuwe ma, wat beteken my lewe bestaan basies daaruit om die baba te voed, oor die baba te stres en blaaskansies te probeer vat wanneer die baba haar oë toemaak, net om vyf minute later wakker gemaak te word omdat die afleweringsbode nie die boodskap op die deur gelees het wat hom smeek om nie te klop nie. Ek het spieëls en twee (op die oomblik bloedrooi) oë. Ek weet presies hoe my lyf lyk en is ten volle bewus van die gesonde dieet wat ek moet volg en die oefening wat ek moet doen indien en wanneer ek wil. Ek lyk dalk nou soos ’n bal, maar die laaste ding wat ek nodig het, is druk om a.) te borsvoed en b.) te borsvoed net omdat dit my sal help om my lyf van voor die swangerskap terug te kry.

LEES OOK: Die beste manier om jou baba aan die slaap te kry

5. “Het jy … probeer?”

Wag – ek gaan jou laat klaar praat, maar voordat jy my vra of ek tussen voedings pomp om my voorraad te vergroot of ’n tepelbeskermer gebruik om my baba se suiging te verbeter en of ek pap geëet of spesiale kruietee gedrink het in ’n poging om meer melk te produseer, weet asseblief dat dit nie saak maak of ek elke enkele een van hierdie dinge of niks daarvan probeer het nie. Wat ek nou doen, is om my baba te voed, so ek het geen van jou “wonderlike” borsvoedingstruuks nodig nie. Die enigste ding wat ek hoef te probeer is om te stort voordat die baba wakker word, want dit is al so lank sedert ek my bene geskeer het dat ek dalk ’n dubbele skeermes nodig het, en dit gaan ’n rukkie vat. Nou, wat was jy besig om te sê?

6. “Formulemelk het nie teenliggame soos borsmelk nie. Jou baba gaan siek raak.”

Ja, oukei, dis waar dat borsmelk teenliggame het wat formulemelk nie het nie, en dit kan jou kind dus nie teen ’n klomp siektes en infeksies beskerm nie. Maar babas kry in elk geval in die laaste drie maande van swangerskap teenliggame van hul ma. So moenie bekommerd wees nie, my baba is oukei met haar bottel en haar teenliggame. Buitendien, klein kinders en hul natuurlike habitat (crèche, skool, die speelterrein, ensovoorts) is van nature vuil en vol kieme. Dit maak nie saak hoeveel handreiniger jy gebruik nie, kinders wat siek word, is onafwendbaar – ons weet almal dit gaan een of ander tyd gebeur.

LEES OOK: 10 dinge waaroor jy en jou maat sal stry wanneer julle eers babas het

7. “Borsvoeding is ‘natuurlik’ ”

Wat natuurlik is, is ’n ouer se instink om ’n honger kind kos te gee – punt. En soms is iets “onnatuurliks” dalk ’n beter keuse. Soos, jy sal dit waarskynlik verkies dat mense deodorant en mondspoelmiddel gebruik, of hoe? (Jig.)

8. “Formulemelk sal jou baba vet maak.”

As jy bedoel hierdie spesiale formule wat my vroedvrou aanbeveel het om hom te help om gewig aan te sit, gee hom oulike rolletjies, dan sê ek dankie dat jy dit raakgesien het! Dit was harde werk, maar ek is so bly dit werk. Maar as jy nou regtig probeer om ’n baba sleg oor sy lyf te laat voel, sies vir jou.

9. “Borsvoeding maak babas slimmer.”

Daardie borsvoedende ma by die speelgroepie wat haar oë rol elke keer wanneer ons formule-voeding-ma’s ’n bottel uithaal, kan dalk dink haar spesiale sneeuvlokkie is slimmer as ons babas, maar glo my wanneer ek sê alle babas pak blokkies in presies dieselfde wankelrige toring wat ná drie sekondes omval, ongeag watter vloeistof hulle vir middagete gehad het. As sy dit sou waag om ons van die teenoorgestelde te oortuig, kan ons haar opvoed deur te sê borsvoeding word nié geassosieer met kinders met ’n hoër IK nie, en universiteitsaansoeke het nie ’n blokkie wat jy moet afmerk om te sê of jy geborsvoed is nie.

10. “Ek is te lief vir my baba om haar formulemelk te gee.”

*Ontvriend haar summier op Facebook.*

Van:  Cosmopolitan

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 dinge wat jy van ’n tweede swangerskap moet weet

#6 is beslis ’n verligting.

Close