×
Skakel na Engels

10 goed wat jy nie vir jou dokter moet wegsteek nie

Want jy plaas jou gesondheid op die spel Deur dr. Roger Henderson
dokter

“Daar is baie redes waarom mense dokter toe gaan – party báie ernstig, ander heeltemal onbenullig. Die probleem is, dikwels is mense baie teësinnig om sekere belangrike besonderhede met hulle dokter te deel.

In ’n ideale wêreld sal jou dokter amper alles van jou weet, al laat dit jou ongemaklik voel. Om belangrike feite te verswyg maak ’n diagnose baie moeilik en kan jou in gevaar stel. Alles – en ek bedoel álles – kan jou gesondheid affekteer en jy behoort enige iets met jou dokter te bespreek waaroor jy besorg is.

Die algemeenste dinge wat pasiënte van my as dokter weerhou waarvan ek eintlik behoort te weet, is:

1. Jy het opgehou om jou medikasie te neem

Weiering om doktersvoorskrifte te volg is ’n massiewe probleem in die algemene praktyk met sommige beramings wat toon dat tot 70% van pasiënte nie by ’n behandelingsplan hou nie, óf omdat hulle vergeet óf omdat hulle dink dat hulle “beter” is omdat die simptome opgehou het. Dit kan ’n groot invloed op onder andere jou bloeddruk en cholesterolvlakke hê, en kan selfs beteken dat onnodige ekstra medikasie voorgeskryf word omdat die dokter dink dat jou toestand nie op die behandeling reageer nie – terwyl dit korrek behandel sou word as die oorspronklike behandeling korrek gevolg is. Jou dokter sal verstaan as dit die geval is – ons is almal menslik! As jy die medikasie egter nie soos verskryf kan neem nie, behoort jy eerlik daaroor te wees sodat dit nie tot latere probleme lei nie.

2. Hoeveel jy REGTIG rook of drink

Jou dokter sal jou nie arresteer as jy te veel rook of drink nie. Maar ons moet ’n akkurate idee hê oor hoe jou leefstyl jou gesondheid kan beïnvloed. Dieselfde beginsel geld indien jy dwelms vir ontspanning gebruik – jou dokter sal jou nie by die polisie aangee nie! Die reëls van dokter-pasiënt-vertroulikheid is presies dít – enige iets wat jy sê, sal vertroulik bly tensy daar gevoel word dat jy of ander mense in onmiddellike, dreigende gevaar verkeer. Dokters moet weet wat jou leefstyl behels sodat hulle ’n akkurate diagnose kan maak, die regte toetse kan laat doen en jou gesondheid beskerm.

3. Jy is ongelooflik gespanne, depressief of word mishandel

As jy in ’n verhouding is waar jy op enige manier mishandel word, is dit ontsettend belangrik om die moed bymekaar te skraap om daaroor te praat sodat jou dokter kan help. En wat depressie betref, hoe vroeër die simptome van hierdie toestand behandel word, hoe beter. Jou dokter kan goeie raad gee, jou vir berading verwys of aanbeveel dat jy medikasie vir jou simptome gebruik. Sodra die ys gebreek is, sal jy dit makliker vind om oor hierdie soort probleme te praat. Onthou dat depressie ’n té groot probleem is om geheim te hou.

4. Jy gebruik kruieaanvullings of oor-die-toonbank-medikasie

Die meeste mense dink dat aangesien kruieaanvullings natuurlik is, dit nie met voorskrifmedikasie kan inmeng nie, maar ongelukkig is dit nie die geval nie. Sogenaamde “gewigsverliesaanvullings” kan jou hart aantas, groot hoeveelhede vitamines en minerale kan gevaarlik wees en Chinese aanvullings het die potensiaal om jou gesondheid te knou. Indien jy onseker is, behoort jy eers jou dokter te vra – “natuurlik” beteken nie altyd skadeloos of veilig nie.

5. Jy het finansiële probleme

Ek praat elke dag met iemand wie se simptome deur groot finansiële stres veroorsaak word. Dit mag as gevolg van ’n dobbelverslawing, bipolêre versteurings of angstigheid en depressie wees, maar het ook dalk eenvoudig binne die huidige finansiële klimaat opgebou. Jou dokter hoef nie te weet wat jou bankbalans is nie, maar hy moet ’n idee hê van hoe diep die probleem lê sodat hy jou die regte raad kan gee en kan verstaan of daar ’n geassosieerde sielkundige of psigiatriese probleem is.

6. Jy slaap nie

Slaapprobleme kan baie oorsake hê en indien dit nie ondersoek word nie, kan dit chronies en moeilik behandelbaar wees. Moontlike oorsake sluit in stres, depressie of angstigheid, menopousale veranderinge en obstruktiewe slaapapnee (’n potensieel gevaarlike toestand). Jou dokter mag onder andere voorstel dat jy nie kort voor slaaptyd oefen nie, by ’n streng slaaptydritueel en slaaptyd hou, alkohol of kafeïne saans uitsny en ’n gesonde dieet volg.

7. Jy het maag- of blaasprobleme

Ons kan geweldig verleë wees wanneer dit by ons maagfunksies kom of as ons sukkel om te piepie. Maar in die geval van ingewands- sowel as blaaskanker is dit wel moontlik om van skaamte dood te gaan. As kinders is ons geleer om nie toiletpraatjies te maak nie omdat dit ongemanierd is. Ongelukkig kan dit volwassenes onwillig maak om te noem dat daar bloed in hulle stoelgang is of as hulle opelyfroetine verander. Dieselfde geld vir mense wat bloed in hulle urine sien; hulle swyg eerder en hoop dit gaan weg. My raad is baie eenvoudig – indien jy onseker is, behoort jy jou dokter daarna te laat kyk. Jou huisdokter sien elke dag ’n paar pasiënte met maagprobleme en hulle is heeltemal gewoond daaraan, glo my!

8. Jy is abnormaal moeg

Alhoewel ouderdom die grootste oorsaak van moegheid is, is daar ’n groot hoeveelheid ander mediese oorsake insluitend diabetes, depressie, anemie, skildklierprobleme en hartsiektes, om maar net ’n paar te noem. As jy dit nie aan jou dokter noem nie, kan hy nie vasstel of dit bloot as gevolg van ouderdom is en of daar ’n ernstiger probleem is nie.

9. Jy het probleme met seks

As daar een ding is waaroor mense moeiliker praat as oor ons maag, is dit ons sekslewe. Jy het dalk geen behoefte om jou seksualiteit met jou huisdokter te bespreek nie, maar erektiele disfunksie kan ’n vroeë aanwyser van toestande soos diabetes of hartsiektes wees, en pynlike seks of bloeding ná seks by vroue kan op hormoon- of baarmoederprobleme dui, alles toestande wat aandag nodig het. Seksueel oordraagbare siektes is ook aan die toeneem, veral by die 40+ ouderdomsgroep. Maak dus ’n punt daarvan om enige ongewone simptome te noem. Seks is immers ’n uitstekende manier om jou fisieke en geestelike gesondheid ’n hupstoot te gee! Ook hierdie soort gesprek vind daagliks in jou dokter se spreekkamer plaas, so moenie skaam wees nie.

10. Jy het ’n sterk familiegeskiedenis met enige mediese probleem

Dis byvoorbeeld altyd goed om ’n familiegeskiedenis van hartsiektes aan jou dokter te noem. Sowel as kanker, beroertes, diabetes, ens. Sodoende kan jy hiervoor getoets word en kan daar met vroeë voorkomende behandeling begin word, indien nodig. Moenie vreeslik wik en weeg oor of jy dit aan jou dokter moet noem nie – jou huisdokter kan jou óf gerusstel óf julle kan bespreek of daar enige ondersoeke nodig is. Hoe dit ook al sy, jy sal meer gemoedsrus hê.

Onthou – die sleutel tot enige verhouding, insluitend dié met jou dokter, is eerlikheid. Om ’n ongemaklike onderwerp te vermy, voel soms na die maklike uitweg, maar as jy stilbly oor iets wat moontlik nadelig vir jou gesondheid is, kan ernstig probleme ontstaan. Wees openhartig en praat die volle waarheid sodat jy dit beste moontlike raad kan kry.” – Dr. Roger Henderson

Van Good Housekeeping UK

Hooffoto: iStock/nensuria

LEES OOK:

Dokters deel 5 maniere om jou risiko vir demensie te verlaag

4 eetvoorskrifte wat hartdokters volg

6 dinge oor probiotika wat jou maagdokter wil hê jy moet weet

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om vinnig van ’n koorsblaar ontslae te raak

Koorsblare kan werklik jou lewe vergal, maar ons is hier met raad en hulp!

Close