×
Skakel na Engels

10 dinge wat jy van ’n tweede swangerskap moet weet

#6 is beslis ’n verligting.

 

  1. Jy sal eers op week 37 onthou dat jy swanger is.

Onthou jy al die dingetjies waarmee jy jou gedurende jou eerste swangerskap besig gehou het? Die hospitaalsak, die oulike 0-3 maande-kleertjies, die Pinterest-blaaie met kinderkamerversierings, die lieflike ooievaarstee met die glutenvrye kolwyntjies, die voorgeboortelike jogaklasse en masserings om alles mooi los te maak? Al hierdie dinge is nou deel van die verlede. Jy sal so besig wees om jou kleuter se glipsie reg langs die krummels wat hy in die mat ingetrap het op te vee dat jy nie eens sal registreer dat daar ’n tweede kind in jou maag is nie. Wanneer mense jou oor jou geboorteplan uitvra, sal jy jou skouers ophaal en sê: “Ek gee nie om nie. Solank ek ’n Burger King kry as dit verby is.” En dis ’n baie goeie antwoord.

  1. Jy sal slegter voel as met jou eerste swangerskap.

Ja, jy is ouer, en dis deel van die “sleg voel”, want tyd is ’n wrede nar wat dink dis skreeusnaaks om jou met ’n nuwe, snaakse voetbrugpyn te treiter. Maar intussen is jy ook besig om agter boetie nr. 1 aan te hardloop, hom kos te gee, hom met ’n gestoei uit die bad te sleep en weer en weer en weer te buk om sy agterstewe af te vee. Daar is minder tyd om die vreugde van jou swangerskap in te drink en meer tyd om te mompel: “Dit voel of my rug wil afbreek; kan hierdie baba nie net geboo– KLIM NOU DADELIK VAN DAARDIE BOEKRAK AF!”

  1. Jy sal skuldig voel.

Een aand gaan dit jou in die middel van ’n slaaptydstorie tref dat die tweede kind die eerste se lewe gaan ruïneer, dat jy boetie nr. 1 aan sy lot oorlaat, dat jy besig is om die wonderlike lewe wat julle gesin reeds het te verwoes. Stadig oor die klippe, suster: Niks is besig om verwoes te word nie – dit gaan wonderlik wees! Kind nr. 2 gaan soveel genot en vreugde by jul hele gesin se lewe voeg! En twee maal soveel kryttekeninge op jou nuwe koffietafel, ja. Maar ook – vreugde!

  1. Alles gaan van voor af vreemd wees.

Aardige, waterige mosterdkleurige poef. Ontploffings wat oral uitloop. Die laaste stukkie harde naelstring. Die gesukkel met die te klein lyfie in die bababad terwyl sy kermend protesteer. Die stryd om haar sover te kry om jou bors te “vat”. Die frustrasie van “watter-knopie-kom-waar” aan die slaappakkie wat jou beste vriendin jou present gegee het. Dit was nie so lank gelede nie, maar dit gaan van voor af vreemd voel.

  1. Alles wat erg was, gaan weer erg wees.

Om elke uur op die uur wakker te word. Om te probeer uitreken van watter bottel sy hou (hoe ken sy die verskil?!). Die middernagtelike doek omruil. Die aaklige slaapregressie op vier maande wanneer hulle van die ses tot agt uur se slaap afsien en heelnag wakkerbly. Slaapdissipline. Dit wás ’n marteling, en dis wéér ’n marteling, en jy kan nie tienuur soggens ’n uiltjie knip nie, want jou oudste staar na jou en vra vir jogurt.

  1. Jy gaan 110 persent rustiger oor alles wees.

Jy het die baba ’n week laas gebad. Wat daarvan? Sy haat dit om op haar magie te lê en jy gaan haar dit nie máák doen nie. Waaroor die bohaai? Jou kind sal wel iewers leer hoe om haar kop op te lig. Verder was sy vir ’n uur sónder haar kombersie in die stootwaentjie, en daar was ’n koel briesie. Jy is ’n vrou wat die grense toets – en eintlik geniet jy dit!

  1. Nuwe ouers gaan jou ’n pyn gee.

Daar is niks erger vir ’n ouer van ’n tweede kind as ’n senuweeagtige, oorywerige nuwe ouer nie. ’n Paar jaar gelede was jy daardie ouer, maar nou vervul dit jou met afgryse dat jy eens op ’n tyd drie afsonderlike Facebook-inskrywings geplaas het waarin jy gevra het watter organiese slaapsak snags die lugdeurlatendste is. As gesoute ouer rus jy in die wonderlike wete dat nie een van daardie dinge saak maak nie. Maar wat, gee die nuwelinge kans om dit self uit te vind.

  1. Jou oudste gaan jou dalk vir ’n klein rukkie haat.

Dit is onafwendbaar dat jy en baba nr. 2 aan die heup, bors of die bottel verbind gaan wees. Jou oudste kind kan uitgesluit voel óf aan sy pa begin hang en jou bestaan ignoreer. Hy mag selfs wreed teenoor jou optree. Dit kan jou gevoelens seermaak, maar wees nie bevrees nie. Soos alles in die lewe sal dit ook verbygaan.

  1. Jy sit jou voete nie weer by daai gehate musiekgroepie nie.

Die enigste een wat die kindermusiekgroepie meer haat as jy is jou baba. Basta met die geleerdes wat vertel hoe goed dit vir haar klein, ontwikkelende breintjie is om musiek te hoor. Jy gaan nie twee maal die dieselfde fout maak nie! Jy het jouself belowe om die eendjie-liedjie ’n mis te gee en na ’n bietjie Beyoncé te luister. Dis nie net goedkoper nie, dis ook hope meer pret vir jou.

  1. Jou kinders gaan mekaar besig hou wanneer hulle oud genoeg is, en dit gaan jou lewe soveel makliker maak.

Jy weet mos hulle sê dat die televisie die beste kinderoppasser is? Hulle jok. Jou kinders is die beste kinderoppassers – vir mekaar. Oor nie te lank nie gaan hulle albei 6:45 die oggend opstaan, en in plaas daarvan om na jou te roep of jou slaapkamer te bestorm, sal hulle mekaar wakker maak en saam boekies deurblaai sodat jy nog ’n bietjie kan lê – totdat jy agtuur paniekerig wakker skrik en wonder wat van hulle geword het. Ontspan. Alles wat jy as ’n ouer gedoen het, was ’n moeisame aanloop tot hierdie manjifieke oomblik! Koester jou in die glorie. Jy het dit verdien.

Van: www.goodhouskeeping.co.uk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die 10 beste dinge van ma-wees

Die voordele van ouerskap waarvan hulle jou nie in die voorgeboorteklas vertel nie. Deur Emily-Jane Clark

Close