×
Skakel na Engels

10 dinge waaroor jy en jou maat sal stry wanneer julle eers babas het

Daar sal vreugde wees en daar sal twiste wees

Om babas te hê plaas druk op ’n verhouding. Julle is besig, gestres en albei probeer ouerskap baasraak terwyl julle maar min slaap.

So met die spanning wat hoog loop, sal jy dalk vind dat julle oor die volgende goed stry:

  1. Wie is die moegste?

Dit is verreweg die algemeenste stryery onder nuwe ouers, want wanneer julle in die middel daarvan is, is jy oortuig dat jý die swaarste kry:

“Ek was heelnag op met die baba en ek het hééldag na haar gekyk. Intussen het jy by ’n lessenaar gesit en met volwasse kollegas gesels terwyl jy warm koffie gedrink het. Ek is beslis die moegste.”

“Ek moes opstaan en agt uur gaan werk nadat ek wakker gemaak is toe jy laas nag vir die baba opgestaan het. Intussen het jy op die rusbank in jou pajamas TV gekyk terwyl die baba op jou bors geslaap het. Ek is beslis die moegste.”

Die waarheid is dat niemand ligtelik daarvan afkom wanneer jy ’n pasgebore baba het nie, of jy nou gaan werk of met die baba tuis bly.

  1. Dis jóú beurt 

Niemand hou daarvan om doeke om te ruil nie en daarom maak baie paartjies beurte, maar dis nie altyd so eenvoudig nie!

“Ek moes laas nag ’n poefontploffing skoonmaak – dit moet tog sekerlik as twee beurte tel! Jy het vandag nog net twee piepiedoeke skoongemaak.”

“Maar wie moes verlede week daardie diarree skoonmaak? Jislaaik, ek moes haar frokkie afsny!

Die rusie word gewoonlik voorafgegaan deur ’n dooie punt terwyl julle vasgevang raak in ’n stryd om te kyk wie die reuk van babapoef die lankste kan verduur.

  1. Waar is die (vul verlore baba-artikel hier in)?

Wanneer julle ’n baba het, verander jou eens georganiseerde huis in ’n see van sokkies sonder maats, vuil wasgoed en plastiekspeelgoed, wat dit baie moeilik maak om enige iets op te spoor.

Dis gewoonlik op die ongerieflikste tyd moontlik wanneer jy ontdek dat die ding weg is. Jou baba wil eenuur in die nag kos hê, maar jy kan nie die koliekdruppels kry wat toegedien moet word voordat jy die baba voed nie. Die kleintjie skree en jy kan nie haar fopspeen kry nie, of jy is besig om haar doek om te ruil en die klam lappies het verdwyn.

Aangesien die baba nog nie goed kan optel nie, gee jy jou maat die skuld dat dit verdwyn het en begin ’n hetige fluistergeveg in die donker terwyl jy na die verlore artikel soek.

  1. Huiswerk

Dis verstommend hoe een klein babatjie so ’n gemors kan skep! Jy het nou ook minder tyd en energie om jou huis skoon en netjies te hou.

As een van julle dus nie jul kant bring nie, kan dit tot ’n egskeiding lei! Ek het dit ernstig oorweeg om my man te los weens vuil skottelgoed wat vir drie dae gelos is “om te week”.

  1. Onbehulpsame raad

Wanneer jy ’n nuwe baba het, is dit irriterend genoeg dat dit voel of die hele wêreld jou ongevraagde “raad” gee oor hoe jy jou kind met voed, troos of aan die slaap kry.

Wanneer jy dus al drie uur probeer om die baba te kry om te slaap en jou maat stel voor jy sit haar “slaperig maar wakker” neer, is dit soos om ’n rooi vlag voor ’n bul te waai.

  1. Wie het die baba wakker gemaak?

Wanneer jy ’n baba het wat baie gedurende die nag wakker word, is dit regtig stresvol. Wanneer jy haar dus uiteindelik aan die slaap het, doen jy alles wat jy kan om hulle nie wakker te maak nie – soos om sekere reëls te volg om te keer dat julle mekaar die skuld gee:

“Jy het die toilet gespoel, jou idioot!”

“Jy het op daardie krakerige vloerplank getrap.”

“Jy haal te hard asem.”

“Jy het dit gejinx deur te sê sy het laas nag goed geslaap!”

Hierdie debat gebeur dikwels deur middel van teksboodskappe om te keer dat julle enige ander geraas maak.

  1. Wie het die leë Calpol-bottel terug in die kas gesit?

Dit is die ouerskap-ekwivalent van die leë melkkarton terug in die yskas te sit! Behalwe dat dit baie erger is om 02:00 met ’n baba te sukkel wat tande kry as om jou tee swart te drink.

  1. Hoe om nie die baba te breek nie

As ouers doen julle alles wat julle kan om jul kosbare baba teen enige gevaar te beskerm. Die rusie begin egter wanneer jy en jou maat verskillende idees het van wat “gevaarlik” is.

Struwelinge oor die regte manier om bottels te steriliseer, of die bande van die karstoeltjie styf genoeg is en of die temperatuur van die baba se badwater reg is, kan alles tot die Derde Wêreldoorlog lei.

  1. Vermy babapligte

Kom ons wees nou maar eerlik: Om tyd alleen te hê wanneer jy eers kinders het, gebeur nie baie nie. Wanneer jou maat dus vir ’n halfuur op die toilet bly, kan dit jou bloed laat kook!

Jy weet maar te goed “hardlywigheid” beteken eintlik hy sit met sy slimfoon en speel in die vreedsame paradys van ’n leë badkamer.

  1. Wie verdien ’n medalje?

Julle stry dalk ’n paar keer wanneer julle babas het, maar ondanks al die moegheid en die trane is jy verstrom oor watter fantastiese ouer jou maat is.

Om kinders groot te maak is uitputtend, frustrerend en uitdagend, maar dit is ook die ongelooflikste ding wat julle al ooit saam gedoen het. As jy empatie en simpatie het en die snaakse kant probeer raaksien, sal jul verhouding sterker as ooit tevore anderkant uitkom.

 

Deur Emily-Jane Clark (www.stolensleep.com)

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hier is die 20 gewildste babaname van 2015

Soek jy inspirasie? Kyk wat doen die koninklike familie

Close