×
Skakel na Engels

10 briljante kampeer- en karavaanwenke

Maak jou kampeerervaring een vir die boeke!
karavaanwenke

1. Maak ’n handwasstasie

Vermy onnodige handwas-uitstappies na die badkamer deur julle eie handwasstasie op te stel. Plaas ’n groot houer met ’n kraantjie op die punt van ’n tafel en maak dit vol water. Sit ’n papierhanddoekrol bo-op of langs die houer neer om jou hande af te droog en plaas ’n botteltjie vloeibare seep op die tafel. Die waterslimmes (en ja, ons álmal behoort te wees) kan ’n emmer op die grond neersit om die ekstra water op te vang. Hierdie water kan later gebruik word om die kampvuur te blus.

2. Bêre speserye in mini-houertjies

As die kosliefhebber in jou ’n speseryrak nodig het wanneer julle gaan kamp, maar daar nie genoeg plek is nie, kan jy klein hoeveelhede speserye in mini-houertjies soos Tic Tac-botteltjies saamneem. Merk die houertjies met ’n permanente merkpen sodat jy nie deurmekaar raak nie. Sodoende kan jy al jou gewone speserye by jou hê – maak nie saak hoe ver jy van die huis af is nie. Lekker kook!

3. Neem ’n roereier-mengsel in ’n plastiekbottel saam

Vir ’n heerlike bord roereier in die oggend, kan jy jou mengsel vooraf by die huis aanmaak en dit in ’n plastiekbottel saamneem. Hou telling van die hoeveelheid eiers wat jy in jou mengsel breek sodat daar genoeg vir almal is. Onthou net om die mengsel koel te hou!

4. Gebruik ’n koplamp en ’n beker water om lig te maak

Verlig julle tent of buite-area deur ’n koplamp om ’n beker water vas te maak – met die liggie wat na binne skyn. Sodoende sal die lig deur die plastiek skyn en julle sal ’n sagte maar effektiewe lig hê. Enigiemand vir ’n potjie kaarte?

5. Neem jou voorafgemaakte pannekoekmengsel in ’n drinkbottel saam

Een of ander tyd gaan jou kampeerders lus raak vir ’n soetigheid en pannekoek was nog altyd ’n wenner – maar dis ’n beslommernis om al die bestanddele saam te piekel. In plaas van ’n gesukkel om vir al jou pannekoekbestanddele te probeer plek maak, kan jy die beslag by die huis aanmaak en in ’n bottel gooi. Wanneer dit by baktyd kom, kan jy dit net oopmaak en die gewenste hoeveelheid in jou pan giet. Njammies! 

6. Hou jou kos en drinkgoed apart in jou koelhouer

Voorkom dat jou eetgoed klam en pap word deur jou drankies en kos in die koelhouer apart te hou. Doen dit deur jou drinkgoed en ysbakkies of -sakke onder in die houer te pak en ’n afkoelrak bo-op jou drinkgoed te plaas. Sodoende kan jy al jou kos op die koelrak pak en voorkom dat dit aan jou drinkgoed en ys raak. 

7. Bring kole in eierboksies

As julle wil vuur maak, maar nie ’n hele sak kole wil saamry nie, kan jy van eierboksies gebruik maak. Plaas ’n kool in elke holte waar die eiers veronderstel is om te kom en siedaar – jou vuurtjie is in wording. Gebruik kleeflint en rekkies om die eierboksies stewig toe te maak sodat die kole nie uitval en gedurende die rit in die motor rondrol nie. 

8. Skep ’n sagte vloer met skuimrubbermatte

As jou kind ’n skuimrubberspeelmat het wat van legkaartstukke gemaak is, kan jy een vir ’n sagter tentvloer gebruik. Plaas dit eenvoudig onder die matrasse. Behalwe dat dit die ideale manier is om seer voete en knieë te voorkom, kan jy die spasie in julle tent vir ’n gerieflike kamp-ervaring inrig – afhangende van die beskikbare plek, natuurlik. Dit sal ook ’n bietjie kleur en pret aan julle naweek verleen en die kinders sal iets hê om mee te speel as daar enige ekstra stukke is. Boonop maak dit maklik skoon!

9. Gebruik watteballetjies as vuuraanstekers

As jy nie genoeg vuuraanstekers het nie, kan jy ’n klomp watteballetjies in gesmelte kerswas doop. (Dis waarom jy altyd ’n noodvoorraad kerse en vuurhoutjies byderhand het!) Vuurmaak was nog nooit so maklik nie.

10. Bou ’n pot-en-panstasie met ’n belt

Hou jou potte en panne skoon en in gelid deur ’n belt tussen twee boomtakke te span en ’n paar S-hake daaraan te hang. Nou het jy ’n kastrolstasie waaraan jy jou kombuisgoed kan hang. Boonop dien dit as droograk vir jou gewaste potte en panne. 

FOTO: iStock/jacoblund

LEES OOK:

10 nuttige wenke as jy nie kan slaap nie

Gesinsgeregte met net 5 (of minder) bestanddele

Die ideale boeke om oor ’n naweek te lees

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
17 slim kampeerwenke

Gaan julle die vakansie kampeer? Dié slim wenke sal help dat die ervaring minder rof en grof is

Close