×
Skakel na Engels

Word jou kind deur ’n opvoeder geboelie?

Dis nie net kinders wat boelies op skool is nie
geboelie

Deborah Herd het gaan uitvind wat jy kan doen wanneer ’n onderwyser jou kind afknou.

Niall* (10) was ’n gelukkige leerling. Hy het ’n groot vriendekring gehad, in die A-span rugby gespeel en was die vinnig-ste swemmer in sy graad. Hy het akademies gefloreer en was trots daarop om in dieselfde laerskool te wees as waar sy pa was.

In graad vyf het iets egter verander. Niall het begin maagkrampe en hoofpyne kry en was die meeste aande olik en huilerig. Hy wou nie meer skool toe gaan nie.

Dit het sy ma, Deidre*, nie lank geneem om agter die kap van die byl te kom nie. Niall het erken dat sy nuwe onderwyser die oorsaak van die probleem was. Sy was ’n boelie en hy was blykbaar haar hoofslagoffer. Haar sarkasme, buierigheid, skreeuery, vingerwysery en emosioneel manipulerende gedrag het die eens selfversekerde en gelukkige skoolseun in ’n senuweewrak verander.

Ongelukkig is Niall se onderwyser nie ’n uitsondering nie, en sy ondervinding nie ’n geïsoleerde een nie. Die meeste skole het ’n onderwyser wat ’n berugte boelie is – daardie een by wie ouers hoop hul kind nié beland nie. Een ma wat ek ken, het haar dogter se skool in kennis gestel dat sy haar kind uit die skool sou haal as hulle haar in ’n spesifieke onderwyser se klas sou indeel. ’n Ouer suster het ’n aaklige jaar by dié onderwyser gehad en die ouers het geweier dat hul jongste dogter dieselfde nagmerrie beleef. Gelukkig vir dié kind is daar aan hul versoek voldoen – iets wat skole gewoonlik nie toelaat nie.

Maar elke jaar word nuwe kinders in afknouende onderwy-sers se klasse geteister. Anne Cawood, ’n Kaapse skoolraadgewer, maatskaplike werker en die skrywer van Children Need Boundaries (Metz Press), sê party kinders loop so erg deur dat hulle die letsels nog lank ná skool oorhou. “Boeliemetodes is nie doeltreffend nie en kan kinders emosioneel knak – dikwels met lewenslange negatiewe gevolge. Ek het baie volwasse kliënte wat steeds die sielkundige letsels van ’n uiters streng en afknouende onderwyser dra,” sê sy.

Cawood gee toe dat afknouery deur onderwysers ’n “sensitiewe” kwessie is, maar ook een wat algemener in Suid-Afrika voorkom as wat openlik erken word. “As ’n ouer van vier volwasse kinders, die ouma van vier tienerkleinkinders en veral as ’n skoolraadgewer het ek dié probleem al baie waargeneem. Dis iets wat voortdurend in baie van ons skole kop uitsteek,” sê sy.

Doeltreffende onderrig

Weens ’n kombinasie van ooreising en onkunde behandel onderwysers kinders te teregwysend, sê sy. Toe lyfstraf in 1996 onwettig verklaar is (wat volgens Cawood ’n “geweldig positiewe stap” was), het onderwysers eenvoudig nie opleiding in doeltreffende tugmetodes gekry nie. Baie gebruik dus steeds gewelddadige metodes of mishandel kinders emosioneel.

“Dis ’n voortdurende probleem in ons skole en dra by tot die nimmereindigende siklusse van geweld in baie gemeenskappe,” sê sy. “Geen onderwyser behoort sarkastiese, veroordelende of kras aanmerkings te maak nie. Net soos met doeltreffende ouerskap is dit die volwassene se plig om te leer hoe om eerbiedige, ferm en onveroordelende taal te gebruik wanneer dit by die hantering van kinders kom.”

Natuurlik sal die meeste van ons saamstem dat party kinders selfs die geduldigste opvoeder sal beproef. Onderwys is ’n stresvolle beroep, veral in vandag se kindgesentreerde wêreld. Behalwe in die mees bevoorregte skole is die klaskamer toenemend ’n uitdagende en soms gevaarlike werkplek met klasgetalle wat gedurig toeneem en hulpbronne wat so afneem dat dit dikwels nie eens aan die basiese vereistes vir doeltreffende onderrig voldoen nie.

As jy sosiale kwessies soos dwelms, geweld en wapens daarby voeg waarvan die vernielende uitwerking duidelik in ons klasse en skoolgange ervaar word, sal jy dalk wonder hoekom iemand ’n onderwyser wil word. Ondanks dié struikelblokke is daar baie onderwysers wat bereid is om vroeg op te staan, saans laat te werk, naweke sport af te rig en relatief min te verdien omdat hulle ’n passie vir opvoeding het en ’n liefde vir leer in ons kinders wil vestig.

Ongelukkig is nie alle onderwysers so toegewyd nie. Dis asof party nie eens van kinders hou nie. Ouers en leerders wonder dalk hoekom hulle dié beroep gekies het. Natuurlik is dit nie die bedoeling van alle onderwysers wat as boelies beskou word om emosionele skade aan te rig nie. Party is bloot uitgesproke en hul persoonlikheid kan party kinders oorweldig. “Dis dikwels ’n geval van onderwysers wat bloot nie moeite doen om beter vaardighede en strategieë aan te leer wat hulle sal help om kinders doeltreffend te beheer nie,” sê Cawood.

“Onderwysers behoort negatiewe gevoelens met die gebruik van ‘ek’-taal pleks van ‘julle’-taal uit te druk. Dis byvoorbeeld beter om te sê: ‘Ek voel baie geïrriteerd wanneer kinders aanhou praat nadat die klok gelui het,’ as om te sê: ‘Julle luister nooit nie … Julle is almal ongeskik en onhebbelik.’ Laasgenoemde aanmerking sal baie kinders angstig en onseker laat voel.”

En soos ouers is onderwysers ook net mense. Hulle beleef ook slegte dae en normale irritasies, en daar sal uiteraard kinders wees met wie hul persoonlikheid sal bots. Dit is egter noodsaaklik dat onderwysers verstaan hoe om ferm perke en reëls op kalm en beslissende maniere te stel.

Cawood benadruk dat skoolhoofde ’n beslissende standpunt moet inneem wat die behandeling van kinders betref. “Eerbiedige taalgebruik, die toelating van gevoelens terwyl gedrag beperk word en die ferm toepassings van gevolge wanneer die reëls oortree word, sal ’n gevoel van vertroue en veiligheid onder kinders skep – en tot ’n goed gedissiplineerde en gelukkige skool lei,” sê sy.

Jou plan van aksie

Maar hoe gemaak as jy, soos Niall se ma, vermoed dat ’n onderwyser jou kind boelie, hetsy opsetlik of nie? Gaan praat jy met die onderwyser? Of sal dit die probleem vererger? Baie onderwysers kla dat vandag se kinders nie behoorlik gedissiplineer word nie. En ja, soms is dit die geval.

Ons ken almal kinders wat frustrerend moet wees om te onderrig – hulle praat sonder ophou, is ontwrigtend en praat gedurig terug. Ons ken almal kinders wie se ouers hulle oppiep. Ons ken almal ouers wat dink hul kind kan nie ’n voet verkeerd sit nie en wat dit nie kan verduur as enige iets by die skool hul kind ongelukkig maak nie.

Party kinders gaan skool toe sonder dat hulle ooit die konsekwente toepassing van ouderdomsgepaste perke beleef het, sê Cawood. “In dié gevalle word die ouers aangemoedig om empatie met hul kinders te hê, maar om hulle terselfdertyd op ’n liefde-volle dog ferm manier aan te moedig om die probleem self te hanteer.

Kinders moet leer hoe om sterk te staan – anders gaan die lewe vir hulle baie moeilik wees.” En dis belangrik om vas te stel of die onderwyser nie bloot ’n streng opvoeder is wat die reëls konsekwent toepas vir ’n kind wat nie wil hoor nie. Dit is nie afknouery nie. As jy egter jou kind aangemoedig het om die situasie te probeer hanteer en hy of sy steeds nie met die onderwyser oor die weg kom nie, het enige ouer die reg om vrae te vra.

“Party kinders is sensitiewer en skamer as ander en dit kan tot groot skade ly as so ’n kind aan sy eie genade met ’n uitermatige streng onderwyser oorgelaat word. Volwassenes het dikwels nie ’n idee hoeveel skade ’n sarkastiese onderwyser aan ’n kind kan doen nie. Wanneer ’n ouer met my oor ’n ongelukkige kind kom praat, gebruik ek die volgende as my maatstaf: As dit die enigste 

kind is wat probleme ervaar, kan dit ’n geval van ’n oorsensitiewe kind wees wat hulp nodig het. As nog ouers egter kla, beskou ek dit as ’n probleem wat die skool moet hanteer. Dit kan ’n geval wees van ’n onderwyser wat hulp nodig het met sy of haar benadering tot kinders. Ek glo nie dis aanvaarbaar om dit te ignoreer wanneer ’n ouer werklike kommer uitspreek nie.”

Wat geld dus as afknouery? Volgens Cawood kan enige oneerbiedige, ongevoelige, vernederende en veroordelende taal of gedrag as emosionele afknouery beskou word. Sy moedig ouers aan om deeglik na hul kinders te luister. “Let op lyftaal. Toon empatie. Maar moenie hul probleme oorneem tensy dit werklik nodig is nie,” sê sy. “Moedig jou kind aan om sterk en selfversekerd te wees.”

Dis ook belangrik om vir jou kind te wys dat jy nie enige tekens van onaanvaarbare of afknouende gedrag van ander volwassenes sal duld nie, dat jy hulle sal beskerm en vir hulle sal opstaan. “Probeer eers om jou kind te help om die situasie te hanteer, en gaan praat dan met die onderwyser – rustig en op die regte tyd,” sê Cawood. Baie onderwysers sal reageer deur te sê die kind moet ’n dikker vel ontwikkel en dat die manier waarop hy of sy die kinders hanteer nie op afknouery neerkom nie.

“As daar geen verandering is nie, gaan praat met die skoolhoof. Maak seker jy fokus op die onderwyser se gedrag en val nie sy of haar persoonlikheid aan nie. ‘Ek is ontsteld oor die manier waarop die onderwyser blykbaar met die kinders praat wanneer sy vir hulle kwaad is … Dit blyk baie sarkasties en kras te wees.’ ”

Hoe het Niall se ma dus gereageer? Deidre het haar seun geken en was bewus van die onderwyser se reputasie. Sy het dus geweet haar seun verbeel hom nie. Pleks van die onderwyser aan te vat, het sy haar hulp ingeroep. Sy het die onderwyser laat weet dat Niall onder die indruk is dat sy nie baie van hom hou nie en dat hy nie meer wou skool toe kom nie. Sy het die onderwyser gevra om die oplossing te wees. Dit het gewerk. Sy het die afknouery laat vaar. Dis wat die meeste boelies doen wanneer hulle uitgedaag word.

Deidre het ook seker gemaak dat Niall weet dat hy by die reëls moet hou. Hy kon nie sy onderwyser enige verskoning gee om haar ou streke uit te haal nie. Dit was nie Niall se gelukkigste jaar op skool nie, maar hy het geleer hoe om sy man te staan, was weer sy ou self en het sy liefde vir skool herontdek.

As jou kind se onderwyser minder toeganklik as Niall s’n is – en baie van hulle is – kan jy die skoolraadgewer kontak. As dié ingryping nie suksesvol is nie, moet jy ’n afspraak met die skoolhoof maak. “Praat altyd rustig en objektief, en neem in ag dat kinders soms anders by die skool optree,” sê Cawood. “As dit egter blyk dat meer as een kind weens dieselfde onderwyser psigosomatiese simptome van stres en angstigheid ontwikkel het, moet dié onderwyser baie ernstig geëvalueer word.”

Teen die tyd dat kinders op hoërskool kom, het hulle hopelik al ’n mate van selfversekerdheid ontwikkel en ken hulle hul regte. “As die situasie op laerskoolvlak op ’n positiewe manier hanteer is, behoort hulle nou goed te vaar,” sê Cawood.

* Name is verander.

FOTO: iStock/Wavebreakmedia

LEES OOK:

10 speelgoed wat jou kind sal help om fikser te word

10 terug-skool-toe-wenke vir jou kinders

Hoe om stinkerige skoolsakke skoon te maak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 voordele van ’n troeteldier

Dis waarvoor (vierpotige) vriende daar is!

Close