×
Skakel na Engels

Werk aanlyn terapie?

Kan aanlyn terapie doeltreffend wees in die behandeling van jou geestesgesondheid? Deur die Goeie Huishouding-webspan
aanlyn terapie

Ons leef in ’n wêreld waar jy aanlyn raad kan kry vir enigiets van ’n kraan wat lek tot jou sekslewe. Nou wonder jy dalk, kan jy jou geestelike welstand ook aan die internet toevertrou? Nie almal het ’n mediese fonds wat vir sielkundige hulp betaal nie en deesdae leef ons immers “op afstandbeheer”, wat die moontlikheid van aanlyn behandeling al meer aanloklik maak. 

Onlangse navorsing deur die Royal College of Nursing in Brittanje het bevind dat 72% van werknemers van die Britse Child and Adolescent Mental Health Services (CAMHS) glo pasiënte kry nie gou genoeg hulp nie, en 69% het daarop gewys dat jong pasiënte weens ’n tekort aan beddens buite hul woongebied vir opname en behandeling gestuur word. Die vraag is egter: Kan “praatterapie” deur “tikterapie” vervang word?

Ons het met dr. Antonis Kousoulis, assistent-direkteur van die Britse Mental Health Foundation, oor die voor- en nadele van aanlyn terapie gepraat. Hy sê: “Sommige pasiënte verkies aanlyn terapie omdat dit groter anonimiteit verseker, en mense dus minder geïnhibeer maak. Aanlyn terapie kan ook geriefliker wees omdat dit nie tot tradisionele kantoorure beperk is nie en dit nie nodig is om te reis om ’n afspraak by te woon nie.”

Die voor- en nadele

Aanlyn sielkundige berading lyk veral aanloklik vir mense wat ongemaklik daarmee is om van aangesig tot aansig hul probleme met ’n sielkundige te bespreek, en ook vir diegene wat nie hul huis wil verlaat nie. Dié aanslag bied ook meer tyd en ruimte vir pasiënte om hul gedagtes te formuleer voordat hulle tot die “gesprek” bydra.

Die nadeel is dat pasiënte dan ook meer tyd het om hul antwoorde te redigeer en kan sukkel om hulself gevoelvol uit te druk. “ ’n Groot deel van kommunikasie tussen mense is nie-verbaal, met stemtoom en lyftaal wat die boodskap versterk. Daarom sal persoonlike terapiesessies beter wees vir sommige pasiënte,” sê dr. Kousoulis.

Hoewel aanlyn terapie ’n goeie keuse vir sommige mense kan wees, moet dit nie as ’n plaasvervanger vir persoonlike sessies gesien word nie. Volgens die geestesgesondheidsorganisasie Mind is die verhouding tussen ’n terapeut en pasiënt belangrik, en kan dié verhouding ’n groot uitwerking op die pasiënt se vordering hê. 

Die afstand tussen ’n pasiënt en terapeut kan noodsaaklike vertroue tussen die twee bemoeilik. Video-oproepe of Skype kan wel ’n sterker verhouding help bou, al sit die pasiënt en terapeut nie in dieselfde vertrek nie.

Die internet bied natuurlik ook bykomende ondersteuningstelsels benewens konvensionele terapie, soos aanlyn forums of ondersteuningsgroepe  vir mense wat hulle in dieselfde bootjie bevind. Dis egter belangrik om altyd jou eie veiligheid in gedagte te hou – moet nooit jou persoonlike inligting aanlyn bekend maak as jy nie honderd persent seker is jy kan die persoon vertrou nie.

Lees ook: 14 gesondheidswebwerwe wat jy kan vertrou

Ander moontlikhede

As aanlyn terapie nie vir jou is nie, maar ook nie persoonlike sessies met ’n sielkundige nie, kan jy ander moontlikhede oorweeg. Welsyns- en gesondheidsorganisasies bied telefoniese berading, krisis-blitslyne en selfs teksboodskapdienste na jou selfoon.

Wanneer jy moet kies, vra jouself wat presies jou behoefte is, hoeveel tyd jy aan terapie wil afstaan, en die aard van die “werk” en interaksies waarvoor jy kans sien. Kognitiewe gedragsterapie is ’n gewilde keuse vir aanlyn berading aangesien die klem val op breinoefeninge tussen sessies en dat die pasiënt se vordering aangeteken word.

Google kan jou dalk help om jou terapie-opsies te oorweeg, maar dr. Kousoulis glo dit is beter om heel eerste jou huisdokter se raad oor die saak te vra. Mense wat aan ligte angs of depressie ly, kan wel voel dat aanlyn alternatiewe vir hulle beter sal wees.

“Hoe ernstiger die pasiënt se gesondheidsprobleme is, hoe minder geskik is aanlyn berading,” sê dr. Kousoulis. “Dis belangrik dat ’n dokter bepaal hoe ernstig die probleem is aangesien ons selde besef hoe ’n groot invloed ons geestelike gesondheid op ons algehele menswees het.”

Praktisyne wat in geestelike gesondheid spesialiseer, gee natuurlik nie bloot raad en verleen ’n simpatieke oor nie, maar bepaal ook of ’n pasiënt medikasie of bykomende terapie benodig. Dit kan moeilik wees om dié soort diagnoses te maak wanneer die pasiënt nie voor jou sit nie.

Dr. Kousoulis beklemtoon dat mense wat besorg is oor hulle geestelike gesondheid, nie te lank moet wag voordat hulle om hulp aanklop nie. “Doen dit gouer as later. Dikwels soek mense hulp wanneer hulle reeds ’n krisis beleef, en selfs dan moet hulle ’n tyd lank wag vir hulp.”

Van: Netdoctor UK

FOTO: iStock/Rawpixel

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Keer dat jy hierdie algemene Facebook-fout begaan

Maak met ons stap-vir-stap-gids seker alles wat jy op Facebook plaas is nie vir die publiek beskikbaar nie. Deur Carrie-Ann...

Close