×
Skakel na Engels

Wees bewus van die versteekte koste wanneer jy ’n motor koop

Dit is belangrik om die ekstra koste te verstaan. Deur Caira-Lee Durand
versteekte koste

Om noukeurig te begroot is een van die heel belangrikste stappe wanneer jy ’n nuwe of tweedehandse motor wil koop – maar is jy seker dat jy al die gepaardgaande koste in berekening gebring het?

Inligting oor die ekstra koste wat die aankoop van ’n voertuig meebring, sal jou help om te besluit of dit die regte tyd is om ’n motor te koop. Volgens Imperial Auto is dit verstandig om die langtermyn-koste te oorweeg wat dié eienaarskap vergesel – die uitgawes wat jou nog lank gaan volg nadat jy in jou nuwe kosbaarste besitting by die handelaar weggery het.

Rykoste

Hierdie koste, ook bekend as “afleweringsgeld”, behels die uitgawes wat die handelaar aangaan om die motor padgereed te maak. Dit behels dat die verkoper die motor registreer, ’n nuwe nommerplaat laat maak, ’n voorafleweringsinspeksie doen en brandstof ingooi. Maak seder dat jy dit by jou finale prys ingereken het, en betaal dit kontant indien moontlik – dit maak nie sin om rente op hierdie deel van die koopprys te betaal as jy dit enigsins kan vermy nie.

Versekering

As jou motor gefinansier is, sal jy dit nie in ontvangs kan neem tensy jy omvattende versekering uitgeneem het nie. Die finansieringsfasiliteit by wie jy ’n motorlening aangegaan het, sal jou ’n kwotasie gee, maar jy is nie verplig om dit te aanvaar nie en kan uitkyk vir die beste versekeringspakket. Let ook daarop dat daar verskeie versekeringsopsies is wat jou nie net teen voertuigskade beskerm nie, maar koste dek wat met ’n ongeneeslike siekte of die verlies van ’n gesinslid verband hou.

Diensplanne

Baie nuwe voertuie sluit ’n diensplan in wat vir ’n beperkte tyd geld, en op die korte duur is dit ’n wonderlike waardetoevoeging en kostebespaarder. Indien jou motor nie van ’n diensplan vergesel word nie, moet jy uitvind hoeveel dienste normaalweg kos en jou verwagte mylafstand bereken om te bepaal hoe dikwels jou voertuig gediens moet word en of dit beter is om ’n diensplan te koop. Moenie vergeet om die bykomende rente in te reken indien jy sou kies om dit by jou finansieringsooreenkoms in te sluit nie.

Waarborge

Indien jy ’n tweedehandse motor koop, is dit ’n goeie idee om uit te vind hoeveel dit gaan kos om die waarborg op die voertuig te verleng. Dit verseker dat jy vir spesifieke meganiese probleme gedek is wat nie andersins deur die handelaar se waarborg gedek sou word nie.

Brandstofverbruik

Alhoewel die brandstofpryse maandeliks fluktueer, is dit die moeite werd om te probeer skat wat jou brandstofkoste gaan wees – veral as jy na ’n nuwe klas voertuig opgradeer. Die meeste handelsname publiseer brandstofverbruiksyfers gebaseer op ’n gekombineerde stedelike en landelike siklus. Dink aan die roetes wat jy die gereeldste ry en doen ’n bietjie navorsing om uit te vind wat jou verwagte brandstofkoste sal wees.

Bande

Jou droomkar is dalk ekstra aanloklik omdat dit groter wiele en bande het, maar vind uit wat dit jou gaan kos om hulle te vervang, want jy behoort minstens elke 50 000 km ’n nuwe stel kry. Standaardgroottes is geneig om minder te kos, terwyl ongewone groottes jou kontantvloei waarskynlik gaan belemmer – veral as jy al vier gelyk moet vervang. Onthou, dit is nooit ’n goeie idee om net een band te vervang nie; koop nuwe bande altyd in pare om seker te maak dat daar gelyke trekkrag aan die voor- of agterkant van die voertuig is.

Vervangingsonderdele

Doen navorsing oor wat die vervangingsonderdele vir jou nuwe motor gaan kos, en vergelyk pryse met dié van ander handelsname en modelle. Dit is ook die moeite werd om uit te vind of die handelaar die onderdele aanhou en of dit op aanvraag van oorsee bestel moet word; hierdie scenario’s kan lang vertragings in die geval van herstelwerk veroorsaak.

FOTO: iStock/tommaso79

Uit: WOW

LEES OOK:

Wat sê jou motor se kleur van jou?

8 maniere om veilig met kinders te bestuur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dís wat jy moet weet voordat jy ’n motorlening aangaan

Is jy seker jy het al die inligting? Deur Juliet McGuire

Close