×
Skakel na Engels

Week 9: Elmari se weeklikse Banting-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van Goeie Huishouding se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Voorwaarts, dapper stryder

Wonderlik, wonderlik, wonderlik! Ek het ’n absoluut wonderlike week agter die rug! Ek het nog 1,4 kg afgeskud, wat beteken dis nou altesaam 11,9 kg. En soos my vriendin Mariette op die Facebook-groep Banting for Weight Loss gesȇ het: Dis amper 24 x 500 g-bakkies margarien! Ek moet nog 28,1 kg verloor, en ek weet dis baie, maar ek weet ek kan dit doen. Trouens, ek is vasberade om my doelwit te bereik.

Om my gewigsverlies so openbaar te maak waar almal dit kan lees, is vreesaanjaend, maar dit hou my toerekenbaar. Ek weet ek kan nie laks wees nie, want dan sal almal daarvan weet. Dit beteken egter ook dat ek baie ondersteuning van my kollegas en vriende kry. Ek moet my redakteur, Sally Emery, daarvoor bedank, want sy is die een wat my gevra het om hierdie blog te skryf.

Die voordele

Kom ek gee julle ’n praktiese voorbeeld van hoe Banting my lewe die afgelope nege weke beïnvloed het. Ek pas nou in broeke twee nommers kleiner. En iets wat my ’n bietjie verleë maak om te deel, ek het altyd vreeslik ongemaklik in die ronde stoeltjies in ons kantoor se raadsaal gesit,want dit was net te klein. Nou pas ek in! Ek het ook soveel meer energie, ek hoef nie meer so baie te slaap as voorheen nie (sewe en ’n half uur teenoor nege uur per nag), ek kan makliker buk om my skoene aan te trek, my voete raak nie meer so seer nie, my enkels swel nie meer so erg soos voorheen nie, en dis baie makliker om op te staan wanneer ek op die vloer sit. Ek kry ook nie meer sooibrand nie.

’n Wonderlike geskenk

Nog iets wat gebeur het sedert ek my storie in die openbaar begin vertel het, is dat mense my blog lees wat ek nie in my wildste drome kon voorsien nie, soos ’n vrou van Checkers wat, nadat sy in my blog gelees het hoe ek hul pampoen-wraps geniet het, my verlede week gekontak het om te vra of ek nog van hul Banting Revolution-produkte wil beproef. Vrydag is ’n pakkie by die kantoor afgelewer met verskeie van hul produkte: hul Original Porridge Mix, appelasyn, vlassaadpoeier, xilitol, bosbessiegeur vonkeldrankie, amandelmeel, broodmengsel, pizzabasisse, saadrolletjies, sjokolademuffins, sjokoladebrownies, neutbrood, wafelhappies en pampoen-wraps. Dis so gerieflik om hierdie produkte te hȇ, veral omdat ek baie daarvan kan vries en dit uithaal wanneer ek dit nodig het.

checkers banting range

Aartappels

Een van my vriendinne het my hierdie week gevra hoe ek dit regkry om sonder aartappels klaar te kom. “Ek kan my nie my lewe sonder aartappels indink nie,” het sy gesȇ.

Hierdie naweek het ons weer by my huis gebraai. Nadat ek die Banting 2.0 Real Lists hierdie week afgelaai en gesien het dat aartappels nie meer op die rooi lys is nie, maar op die oranje B-lys, het ek besluit om ’n baba-aartappelslaai vir die braai te maak. Ek het Jonno Proudfoot, uitvoerende hoof van Real Meal Revolution (RMR) ge-e-pos om hom te vra of ek maar aartappels kan eet, en dit is wat hy gesȇ het: “Ja, as jy in die herstel- of instandhoudingsfase is, is aartappels in beperkte hoeveelhede oukei. Geniet jou braai en die aartappelslaai. Groot aartappels, klein aartappels, baba-aartappels – dis alles op die oranje B-lys.”

Lees ook: Koslyste

Om dit duidelik te stel, die kenners by RMR sȇ op grond van hul navorsing moet die lyste gevolg word in ooreenstemming met die verskillende fases van Banting:

  • Waarneming (observation) – verkry ’n begrip van die status quo en berei jou voor op jou eerste stappe
  • Herstel (restoration) – sny kosse op die rooi lys uit en fokus op die bou van goeie gewoontes en om jou dermkanaal te regenereer
  • Transformasie – raak streng sodat jy jouself verstandelik én fisiek kan “transformeer”
  • Instandhouding (preservation) – ontwikkel gewoontes om die goeie resultate in stand te hou wat jy behaal het

In my Google-soektog het ek gesien aartappels het sowaar ’n laer koolhidraatinhoud as patats, wat voorheen as beter as aartappels beskou is.

RMR sȇ die volgende op hul webwerf: “Ons is nogal opgewonde daaroor dat ons mense gemoedsrus kan gee dat aartappels nie ’n absolute sonde is nie. Dit bevat trouens minder koolhidrate as patats. Hoewel patats vitamien A bevat, moet dit saam met vet geëet word om die voordele daarvan ten volle te kan benut. Ons het dit op die oranje B-lys geplaas, maar dit moet liefs in die transformasiefase vermy word.”

Oukei, ek is in die transformasiefase, wat beteken ek behoort nog nie regtig aartappels te eet nie, maar ek het gedink wat de drommel, dis net een aand. En dis nie asof ek ’n hele sak aartappels gaan verslind nie, net so 100 g. Dalk sal ek later spyt wees, maar ek sal julle volgende week vertel wat gebeur het.

Hier is die resep wat ek gebruik het. Ek het dit van die webwerf Epicurious gekry. Ek het baba-aartappels pleks van rooiskilaartappels gebruik en basilie pleks van die origanum en kruisement. En ek het net 1 t pienk Himalajasout gebruik pleks van 2 t gewone sout.

Aartappelslaai met suurlemoen, olyfolie en kruie

Genoeg vir 6

elmari potatoes

Bestanddele

900 g rooiskilaartappels, geskil en in 2,5 cm-stukke gesny

¼ k ekstrasuiwer olyfolie

½ k fyngekapte rooi-ui

½ k fyngekapte rooi soetrissie

¼ k vars suurlemoensap

3 e gekapte vars origanum

2 e gekapte vars kruisement

2 t sout

¾ t varsgemaalde swartpeper

Metode

  1. Stoom die aartappels tot net sag (sowat 10 minute).
  2. Plaas die aartappels in ’n groot bak. Voeg die olie by en meng.
  3. Voeg die ui, soetrissie, suurlemoensap, origanum, kruisement, sout en peper by.

Wenk: Kan 4 uur vooraf gemaak word. Bedek, verkoel en laat vir 1 uur by kamertemperatuur staan voor opdiening.

Lees nog gewigsverliesstories

Dis al vir hierdie week! Ek hoop julle het ’n fantastiese week.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

1,4 kg

Gewigsverlies tot dusver:

11,9 kg

LEES OOK:

5 belangrike resultate van ’n Banting-studie

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 8

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 7

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 6

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kuier saam met ons by die Sondag-piekniekkonserte op Backsberg

Ons is baie trots om aan te kondig dat ons die mediavennoot vir vanjaar se Sondag-piekniekkonserte op Backsberg is! Maak...

Close