×
Skakel na Engels

Week 8: Elmari se weeklikse Banting-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van Goeie Huishouding se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Goed vs. fantasties

Ek kan eerlikwaar sê ek het ’n goeie week gehad. Nie fantasties nie, maar goed. Wat seker wel fantasties is, is die feit dat ek uiteindelik my eerste 10 kg verloor het – jippie!? – maar ek het hierdie week net 0,8 kg verloor. Ek sou regtig graag minstens 1 kg per week wou verloor – veral ná verlede week se 1,7 kg – maar dit is seker onrealisties.?

Alkohol of nie?

Nog ’n goeie ding van hierdie week is dat ek geen alkohol gedrink het nie, nie eens oor die naweek nie!?  Ek het nie eens my glasie rooiwyn of whisky gemis nie. Soos ons almal seker (behoort te) weet, verlaag alkohol ons inhibisies en dit kan maklik daartoe lei dat ons goed eet wat ons andersins nie sou nie. Hierdie week was ek regtig nie in die versoeking om die verkeerde goed te eet nie, en ek is so ingenome met myself. (Skuus tog dat ek so my eie beuel blaas!?)

Ek het altyd gewonder wat presies van alkohol so sleg vir jou is wanneer jy op dieet is. Ek bedoel, as jy die kilojoules in ag neem, behoort dit tog oukei te wees? Maar nou het ek die antwoord in Die Banting-sakgids (Penguin Books) deur prof. Tim Noakes, Bernadine Douglas en Bridgette Allan gekry. Hulle sê alkohol is ’n toksien wat die liggaam nie kan gebruik nie, en wat die lewer dan moet verwerk. Terwyl dit verwerk word, kan jou liggaam nie vet verbrand nie. Dit is hoekom alkohol net af en toe gedrink behoort te word, en verkieslik nie in die gewigsverliesfase nie. Nou dat ek dit weet, maak dit dit makliker om nee te sê vir ‘n glas wyn.

Intussen het ek my eie ystee met sitrus-en-gemmer-rooibostee begin maak. Ek versoet dit met ’n bietjie xilitol en voeg ’n paar vars suurlemoenskyfies en ysblokkies by. Dis verfrissend en ek hoef nie skuldig daaroor te voel wanneer ek dit drink nie – en natuurlik is dit veel goedkoper as die suikerryke of kunsmatig versoete ystee wat ’n mens in winkels koop.

elmari week 8 ice tea

Happies vir af en toe

Ek het egter wel Banting Revolution se skokolade-brownies by Checkers ontdek, en dis ongelooflik lekker! Dit het nie dieselfde taaierige tekstuur soos gewone brownies nie, maar dit smaak net so goed en dit is ’n fantastiese bederfhappie. Dit kom in ’n pak van vyf. Dis ’n goeie ding dit kan gevries word sodat jy een op ’n slag kan uithaal en wag dat dit ontvries, eerder as om al vyf gelyk te eet.

’n Goeie gevoel

Iets lekkers wat hierdie week gebeur het, is dat mense begin raaksien dat ek gewig verloor het. Ek is in die sewende hemel dat ek nou in twee klerenommers kleiner kan inpas, en om dit te vier het ek vir my nuwe jeans en ’n pragtige toppie gekoop. Dit voel wonderlik wanneer jy iets in ’n winkel aanpas en dit pas sowaar. Ek pas nou ook weer in klere wat ek baie lank laas gedra het. Dit voel of ek ’n hele nuwe klerekas present gekry het!

Kos

Ek het nie regtig die afgelope week enige nuwe resepte vir middag- en aandete probeer nie, maar in die gees van Nasionale Melkterdag op Maandag 27 Februarie en Pannekoek-Dinsdag (Shrove Tuesday) op 28 Februarie deel ek graag Banting-vriendelike melktert- en pannekoekresepte met jou.

Banting-klappermelktert

Hierdie resep kom van Euodia Samson, een van Goeie Huishouding se Bobaas-bakkers in 2016. Sy is ’n rolprent-, TV- en verhoogaktrise. In 2015 het sy saam met prof. Tim Noakes gewerk om mense op die Kaapse Vlakte van die Real Food-LKHV-beweging bewus te maak. Sy is tans die koördineerder van Eat Better South Africa! en is ’n ambassadeur vir die Noakes-stigting.

FOTO: Nigel Deary

Genoeg vir 6

Bestanddele

160 ml klappermeel

450 ml volroommelk

50 ml room

100 ml xilitol

200 ml droë klapper

50 g gesmelte botter

4 groot eiers

5 ml vanieljegeursel

10 ml bakpoeier

1 ml himalajasout

Om oor te sprinkel

kaneel

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Plaas al die bestanddele in ’n bak en meng goed.
  3. Giet in ’n gesmeerde oondvaste bak.
  4. Sprinkel kaneel bo-op en bak vir 40 minute

Banting-pannekoeke

Maak 10

Hierdie heerlike resep is baie maklik en kom van die webwerf The Banting Chef, waarop daar ook ’n hele klomp ander interessante resepte is wat ek nog wil probeer. Hulle noem hierdie een “Pancake Bliss”.

banting pancake

FOTO: Wild&Grace

Bestanddele

3 e botter

1 k amandelmeel

1 e psilliumvesel

¼ k room

3 eiers

2 t bakpoeier

1 k water

’n skeutjie suurlemoensap

klapperolie, vir braai

Om oor te sprinkel

2 e xilitol

7 ml kaneel

Metode

  1. Vryf die botter in die amandelmeel in.
  2. Voeg die psilliumvesel, room, eiers, bakpoeier, water en suurlemoensap by die meel en meng vinnig met ’n staafvermenger.
  3. Laat rus die deeg vir 5 tot 10 minute.
  4. Gebruik die klapperolie om ’n pan te smeer, skep ’n dun laag deeg in die pan en bak oor mediumhoë hitte.
  5. Sprinkel xilitol-kaneelsuiker oor. Rol op en eet dadelik. 

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

0,8 kg

Gewigsverlies tot dusver:

10,5 kg

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Setsproei vir jou grimering

Hou jou grimering heeldag vars met hierdie sproei wat jy self kan maak

Close