×
Skakel na Engels

Week 7: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Verlede week het ek mos gesê ek wonder wat sal gebeur as ek net een keer behoorlik oorboord gaan en alles eet waarvoor ek lus is. Ek het toe uitgevind – niks! Wel, nie heeltemal niks nie. Maar kom, laat ek verduidelik.

Die partytjie

Verlede Saterdagaand het ek en ’n paar vriende ’n PAC-partytjie (People Against Cupid) gehou om Valentynsdag (nie) te vier (nie). Almal het iets bygedra om te eet of drink. Ons het almal vleis geneem om te braai; ek het ’n Banting-vriendelike slaai met hope veelkleurige groente, avokado, olywe en fetakaas gemaak; iemand het peuselhappies soos olywe, agurkies, beskuitjies, tzatziki, spanspek, piekeluitjies en dies meer gebring; nog iemand het skyfies en hoemoes gebring; my huismaat het knoffelbrood gemaak; en een baie stoute vriendin het nagereg gebring – geposjeerde pere, roomys en vla.

Ek was regtig amper die hele aand soet. Toe drink ek een glas rooi wyn, en toe nog een … en teen die tyd dat die nagereg uitgepak word, kon ek myself net nie meer help nie: Ek móés Marana se geposjeerde pere proe. Met roomys. En vla. Dit was fantasties!

Die volgende paar dae het ek die skaal met vrees en bewing dopgehou. Ek het 0,5 kg opgetel, wat my baie teleurgesteld in myself laat voel het. En toe ek myself vanoggend weeg, sien ek ek het sowaar 1,7 kg sedert verlede week verloor! Jippie! Dis 9,7 kg sedert ek op 1 Januarie begin Bant het, en nog net 0,3 kg voordat ek my eerste 10 kg-mikpunt haal!

Miskien het ek my gestel terug in gewigsverliesmodus in geskok – ek weet nie – of miskien was ek net regtig gelukkig. Of miskien het dit gehelp dat ek die res van die week baie pligsgetrou by my eetplan gehou het en elke dag minstens twee liter water gedrink het. Of miskien was verlede week se ekstra kilogram die gevolg van hormone en waterretensie. Wie sal weet? Ek is net so verlig!

LEES OOK: 5 dinge wat jou maag vir jou probeer sê

Ondersteuning en inligting

Wat ook al. Ek wil julle vertel van hierdie wonderlike Facebook-groep genaamd Banting for Weight Loss. Dis fantasties om deel van ’n groep te wees wat verstaan waardeur jy gaan. Almal is saam met jou bly wanneer jy gewig verloor, en as jy opgetel het, sê hulle vir jou om geduldig te wees en nie mismoedig te raak nie. Om gewig te verloor is nie altyd ’n maklike proses nie, en mense wat nog nooit met hul gewig gesukkel het nie, besef nie waardeur jy gaan nie. Om voor-en-ná-foto’s te sien van mense wat 30 kg of meer verloor het, is ongelooflik inspirerend. As hulle dit kon doen, kan ek mos ook!

Toe ek vroeër in die week my lot bekla het omdat ek (in daardie stadium) 1,2 kg opgetel het, het een vrou my getroos: “Dis ’n maraton, nie ’n naelloop nie. Moenie dat 1,2 kg jou gees breek nie.” En toe sê sy presies die regte ding om my te laat beter voel: “Onthou, 9 kg = 18 x botterbakkies!” Wanneer ek só daaraan dink, besef ek dat ek eintlik fantasties vaar!

Nog ’n man in die groep het vir my ’n skakel vir ’n baie interessante artikel oor goeie en slegte vette gestuur, getitel “10 Facts About Fat”, geskryf deur dr. Mark Hyman, die skrywer van The New York Times se topverkoper Eat Fat, Get Thin. Ek dink die belangrikste ding wat ek daaruit geleer het, is dat dit jou help om gewig te verloor wanneer jy die regte vette eet, terwyl te veel suiker en die verkeerde soorte vet jou vet maak.

Volgens ander kenners soos die voedingkundige Sally-Ann Creed en die wetenskaplike prof. Tim Noakes sluit dit saadolies, sogenaamde groente-olies (kanola- en sonneblomolie) en kunsmatige smere soos margarien in.

Hier is voorbeelde van goeie vette:

  • Avokado’s
  • Neute (amandels, okker-, pekan- en makadamianeute)
  • Sade (pampoen-, sesam-, chia- en sonneblomsaad)
  • Olierige vis soos sardiens, makriel, haring en wilde salm wat ryk aan omega 3-vetsure is
  • Ekstrasuiwer olyfolie
  • Vleis en ander produkte van weiveld- of vrylopende diere
  • Organiese klapperolie

LEES OOK: Neute en sade vir Banting: die goeies en die slegtes

Hope en hope vet?

Een wanpersepsie van Banting is dat al jou kos in die vet moet swem. Hoewel ’n dieet baie hoog in vet sommige mense (veral mans) kan help om gewig te verloor, kan sommige vroue volgens kenners eerder gewig optel as hulle te veel vet inneem, veral wanneer hulle oorgewig is en nog hul eie liggaamsvet moet verbrand.

Die feit is, wanneer jy vleissnitte met meer vet aan eet , asook olierige vis en hoender met die vel aan, hoef jy nie veel meer vet by jou kos te voeg nie. Die grootste persentasie van ’n gesonde bord kos behoort grootliks uit (hoofsaaklik) groen groente te bestaan, en die res uit proteïen en vet. Groen groente bevat baie min koolhidrate, en daarom kan jy BAIE daarvan eet. Ek sou sê minstens 500 g groente per dag. Jy het die vesel nodig!

Suiker

Baie mense besef nie dat suiker jou kan vet maak nie, of dat dit sleg vir jou is nie. Het jy geweet dat, volgens Hyman se artikel, die gemiddelde Amerikaner jaarliks 152 pond (amper 69 kg) suiker en 146 pond (66,2 kg) meel eet? Dis amper 450 g suiker en meel saam elke dag! Ek sou baie graag wou weet hoe Suid-Afrikaners vergelyk. Die feit is jy kan nie al die suiker verbrand wat jy eet nie, en jou liggaam stoor dit as vet, sê Hyman.

Kosinspirasie

Laastens, kom ek wys vir julle gisteraand se heerlike aandete. Dis ’n pampoen-wrap van die handelsmerk Banting Revolution wat ek by Checkers gekoop het, gevul met babaspinasie, komkommer, geel en oranje soetrissies, kersietamaties en avokado. Dit het pragtig gelyk en was net so njammies! En die beste van alles? Dit was gesond!

pumpkin wrap

Ek hoop julle het ’n fantastiese week! Groete tot volgende keer.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

1,7 kg

Gewigsverlies tot dusver:

9,7 kg

LEES OOK:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 6

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 5

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 1-4

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 6: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close