×
Skakel na Engels

Week 6: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Mense wat geroosterde kaasbroodjies op kantoor maak, behoort gestraf te word! So ook mense wat loop en sjokolade aan kollegas uitdeel. Tot dusver kon my wilskrag my nog keer om voor daardie versoekings te swig, maar die vet weet, ek weet nie hoe lank ek dit sal kan volhou nie. Veral nie ná die teleurstelling dat ek hierdie week ’n hele kilogram opgetel het nie.

Die gevolge

Dís nou iets om jou gemoed te demp! Ek sê nogal in verlede week se blog die week was ’n uitdaging; min het ek geweet wat wag hierdie week op my. Dis seker verlede Saterdagaand se rooiwyn … of die feit dat ek hierdie week ’n hele paar dae met die motor ingery het werk toe pleks van met die bus, en dus heelwat minder gestap het as wat ek moes.

Die versoekings

In hierdie stadium sal ek my voortande gee as ek ’n lekker kaasbroodjie kan eet sonder om gewig aan te sit. Ja, ’n mens kán laekoolhidraatbrood gebruik, maar niks het daardie lekker eers-krakerige-en-dan-taai-gevoel onder jou tande soos die lae-GI-hawermout-en-heuningbrood wat ek altyd gekoop het nie.

Ek wonder wat sal gebeur as ek net een keer behoorlik oorboord gaan en alles eet waarvoor ek lus is. Maar nee, ek het die afgelope ses weke te hard gewerk om dit alles nou ongedaan te maak. En my doel is steeds om teen Mei skraler te wees wanneer ek saam met my vriendin in Ierland gaan toer.

’n Kenner se raad

Die afgelope week was ek by ’n bekende voedingkundige om uit te vind of ek darem soort van op die regte pad is met my dieet. Sy reken ek vaar fantasties – veral as ’n mens in ag neem dat die medikasie waarop ek is dit moeiliker maak om gewig te verloor – maar ek kan dalk ’n bietjie minder vet en meer proteïen eet.

En, soos ek nou al verskeie kere gehoor het, as ek ’n plato bereik, moet ek suiwel uitsny. So koebaai jogurt, room, suurroom, crème fraîche en kaas! Ek gaan julle mis! Maar hopelik darem nie vir altyd nie …

Kalsium

Ek was ’n bietjie bekommerd dat ek te min kalsium sal inkry as ek suiwelprodukte uitsny, maar nadat ek Sally-Ann Creed se boek The Low-Carb Creed en Dr. Google geraadpleeg het, voel ek beter daaroor. ’n Mens kan heeltemal genoeg kalsium uit groen blaargroente, amandels, sesamsaad, chiasaad en seekos soos salm en sardiens (ook in geblikte vorm) kry. My voedingkundige het ook vir my vitamien D3 gegee, wat die liggaam help om kalsium beter te absorbeer. 

Interessante kos

Tot dusver het ek gevind dat ek eintlik lekkerder eet vandat ek op Banting is, want dit is ’n uitdaging om interessante kos te maak. Dit voel asof ek iets bereik het wanneer ek een van my gunsteling-resepte in ’n Banting-vriendelike weergawe omskep het en dit smaak regtig lekker. Soms moet ek myself knyp om te glo ek mág sowaar hierdie kos eet!

Natuurlik is daar aande wanneer ek te lui is om kos te maak, en dan rooster ek net ’n stukkie vis met ’n bietjie olyfolie in die oond en gooi ’n paar slaaibestanddele in ’n bak. Maar hier is twee resepte wat ek gereeld maak. Ek hoop julle geniet dit!

Hoenderlewertjies in pikante tamatiesous

hoenderlewer

Genoeg vir 4

Die tamatiesous is my weergawe van Sally-Ann Creed se “Versatile Tomato Sauce” uit haar boek The Low-Carb Creed.

Bestanddele

3 e ekstrasuiwer olyfolie

500 g hoenderlewertjies, vars indien moontlik

varsgemaalde swartpeper

pienk Himalajasout

1 groot ui, gekap

1 knoffelhuisie, fyngedruk

’n knippie rissievlokkies, of meer na smaak

1 blik (410 g) tamatiepuree

1 blik (410 g) geskilde, gekapte tamaties

1 e appelasyn

1 t xilitol, of na smaak

’n hand vol vars basilieblare, geskeur

1 t psilliumvesel

40 g parmesaankaas, gerasper

gestoomde blomkoolblommetjies of kapokblomkool

Metode

  1. Verhit 2 e olyfolie in ’n groot pan oor hoë hitte. Braai die hoenderlewertjies vinnig daarin tot oraloor bruin, maar nog pienk aan die binnekant. Roer versigtig sodat die lewers heel bly en nie in krummels opeindig nie. (Ek gebruik ’n tangetjie om dit mee om te draai.) Geur met sout en swartpeper na smaak, skep uit en hou eenkant.
  2. Verhit die orige olyfolie oor matige hitte in ’n kastrol en braai die ui tot sag en goudkleurig. Voeg die knoffel en rissievlokkies by en braai vir nog ’n minuut. Voeg die tamatiepuree, gekapte tamaties, appelasyn en xilitol by en bring tot kookpunt. Laat prut vir sowat 15 tot 20 minute tot effens afgekook. Verwyder van die hitte en roer die psilliumvesel bietjie vir bietjie by. (As jy dit alles gelyk byvoeg, gaan dit klonte maak.) Geur met sout en swartpeper na smaak. Voeg die basilie by, maar hou ’n bietjie eenkant vir garnering. Laat afkoel en zirts met ’n staafvermenger tot glad as jy wil, of hou dit grof.
  3. Giet die sous in die pan waarin jy die hoenderlewertjies gebraai het en bring tot kookpunt. Voeg nou die lewertjies by. Verhit tot deurwarm.
  4. Skep die blomkool of kapokblomkool in vier borde, verdeel die hoenderlewertjies en tamatiesous tussen die borde, sprinkel parmesaankaas oor elkeen en garneer met basilie. Sit voor.

ELKE PORSIE (sonder blomkool): Sowat 1 751 kJ, 40 g proteïen, 15 g koolhidrate, 20 g vet (5 g versadig), 6 g vesel, 1 121 mg natrium 

Gevulde hoenderfilette met fetakaas en spinasie

gevulde hoenderborsies

Genoeg vir 4

Hierdie resep het ek oorspronklik by my voormalige kollega Shénell Baker gekry. Haar seun, Zion, maak dit gereeld vir hulle. Ek het dit effens aangepas. Jy kan basies jou verbeelding vrye teuels gee met bestanddele vir die vulsel. Gemarineerde sondroë tamaties is nogal lekker saam met die fetakaas.

 Bestanddele

4 hoenderborsfilette (sowat 180 g elk)

100 g fetakaas, in blokkies gesny

50 g spinasie of spinasiebeet, gekap

1 e gerasperde suurlemoenskil

varsgemaalde swartpeper, na smaak

1 pakkie (200 g) repiespek

2 e ekstrasuiwer olyfolie

1 knoffelhuisie, fyngedruk

2 e suurlemoensap

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Sny die hoenderfilette van die bokant af oop om ’n sakkie te maak (moenie deursny nie).
  3. Meng die fetakaas, spinasie en suurlemoenskil en geur met swartpeper. (Dis nie nodig om sout by te voeg nie, want die fetakaas en spek is reeds sout.)
  4. Verdeel die kaasmengsel tussen die filette en stop die sakkies vol.
  5. Plaas die spek plat op ’n werkoppervlak en trek die agterkant van ’n mes daaroor om dit effens uit te rek. Draai elke filet in twee repies spek toe en steek dit met ’n tandestokkie vas as jy wil. (As ek lui is, plaas ek die toegedraaide filette net so in ’n oondbak – die spek bly nogal op sy plek.)
  6. Meng die olyfolie, knoffel en suurlemoensap.
  7. Plaas die filette in ’n oondbak en giet die olyfoliemengsel bo-oor.
  8. Bak dit vir 25 minute in die oond. (Moet dit nie langer bak nie, want die hoender droog maklik uit.)
  9. Haal uit die oond en laat vir 10 minute rus voordat jy dit in skywe sny en saam met groente of slaai van jou keuse voorsit.

ELKE PORSIE (sonder groente of slaai): Sowat 1 778 kJ, 41 g proteïen, 2 g koolhidrate, 26 g vet (10 g versadig), 1 g vesel, 1 642 mg natrium.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigstoename (!) die afgelope week:

1 kg

Gewigsverlies tot dusver:

8 kg

LEES OOK:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 1-4

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 5

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 5: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close