×
Skakel na Engels

Week 5: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Hierdie week was ietwat van ’n uitdaging. Ek dink wanneer jou dieet vir jou werk, verwag jy dat dit sal aanhou werk. Die eerste deel van die week was fantasties – teen Vrydag het ek 1,3 kg verloor – maar Sondagoggend het die skaal vir my gesê ek het weer 200 g opgetel.

Dit is waarskynlik hoekom mense vir jou sȇ om jouself nie elke dag te weeg nie, maar net een keer per week, met dieselfde klere aan, net nadat jy opgestaan het. Jou gewig is geneig om te wissel weens faktore soos waterretensie en hormone. Ja, ek dink – ek weet eintlik – ek moet daardie raad volg en die drang weerstaan om myself elke vyf minute te weeg.

Die goeie

Saterdag het ek saam met ’n vriend gekuier wat ek nog nie sedert Desember verlede jaar gesien het nie. Die eerste ding wat hy vir my gesê het, was: “Haai, jou gesig lyk soveel skraler!” Dis seker fantasties, maar ek wens eintlik die res van my het ook dunner gelyk.

Dis vanselfsprekend dat ’n mens die verandering aan jouself vinniger raaksien as ander mense. Wanneer jy soveel gewig het om te verloor – kom ons wees eerlik, ek moet die gewig verloor wat ’n gemiddelde ampertiener weeg – sal dit langer neem voordat ander mense dit raaksien. (Ek het wel vir my ma ’n foto van myself gestuur en sy sȇ ek lyk skraler, maar sy is immers my ma!)

Die slegte

So hier kom die slegte deel: Saterdagaand breek aan en my woonstelmaat maak ’n bottel rooiwyn oop. Ek het regtig beplan om net een klein glasie te drink, maar toe staan die bottel daar en ons maak hom klaar. Moet ek alle alkohol in my huis verbied? Moet ek net strenger met myself wees? Hoe?! Is die rooiwyn die rede dat die skaallesing met 200 g gestyg het?

Gepraat van alkohol, ek het hierdie wonderlike plaasvervanger opgespoor. Hulle noem dit The Duchess Virgin Gin & Tonic. Dis nogal duur teen sowat R17 per 275 ml-bottel (na gelang van waar jy dit koop), maar dit smaak soos die ware Jakob, dit bevat geen kilojoules nie en dis suikervry! Dit word met stevia en xilitol versoet, wat albei Banting-vriendelik is.

Wat om te eet

In verlede week se blog het ek belowe ek sal met julle deel wat ek eet. Banting is eintlik baie maklik*. Hier is die basiese moets en moenies:

  • Alle groen blaargroente is toelaatbaar, asook ander groente wat bo die grond groei.
  • Diereproteïene en seekos is goed, maar maak net seker van die kwikinhoud van vis soos swaardvis, en lees die etikette van verwerkte vleise – as dit enige vorm van suiker bevat, soos dekstrose, bly weg.
  • Die meeste kase is ook oukei – bly net weg van laevet- en geprosesseerde kase.
  • Dierevette is goed, asook ekstrasuiwer olyfolie, klapper-, avokado- en makadamia-olie.
  • Neute en sade soos amandels, dennepitte, makadamia-, okker- en pekanneute, pampoenpitte en sonneblomsade is veilig, maar in matige hoeveelhede.

Die bogenoemde kosse is almal op die groen lys van Die kosrevolusie deur Tim Noakes, Sally-Ann Creed, Jonno Proudfoot en David Grier, en bevat tot 5 g koolhidrate per 100 g.

Kosse op die oranje lys moet minder gereeld en in matigheid geëet word, maar dis beter om dit te vermy as jy probeer gewig verloor. Dit sluit vrugte, groente met ’n hoër koolhidraatinhoud soos botterskorsie, patats en wortels, en heuning in.

Wat om nie te eet nie

Bly weg van kosse op die rooi lys. Dit bevat óf te veel koolhidrate óf dis nie goed vir jou liggaam nie. Dit sluit die volgende in:

  • Alle kitskos.
  • Alle verwerkte kosse.
  • Alle grane, waarvan koring seker die grootste sondaar is. Dit beteken ook geen brood, koek, koekies, beskuit, gekrummelde kos, rys, ontbytgraan, of souse wat ’n verdikkingsmiddel soos mielieblom bevat nie.
  • Alle saadolies soos sonneblom-, druifpit- en kanola-olie, en margarien.
  • Alle versoeters soos agawestroop, fruktose, aspartaam, sakkarien, sukralose en suiker.
  • Alle vrugtesap.
  • Alle peulplante soos sojabone, lensies en kekerertjies.

Die goue reël

Eet net tot jy versadig is, en eet stadig. Dit help dat jou brein betyds die boodskap kry dat jy genoeg gehad het sodat jy jou nie ooreet nie. Eet baie gesonde groen groente. Eet ’n porsie proteïen so groot soos jou handpalm en voeg gesonde vette by, soos avokado, neutolies, avokado-olie en klapperolie. Eet vetteriger vleise en eet die hoendervelletjie, die vet aan jou lamstjoppie, en olierige vis. Wees net versigtig vir te veel proteïen – dis ’n hoëvetdieet, nie ’n hoëproteïendieet nie.

Ekstra hulp

Ek gebruik die slimfoon-app MyFitnessPal om my te help om tred te hou van wat en hoeveel ek eet. Jy voer al die bestanddele wat jy eet in die app in en dan sȇ dit vir jou hoeveel koolhidrate, proteïen en vet dit bevat. Na gelang van jou lengte, huidige gewig, doelgewig en hoeveel gewig jy per week wil verloor, gee dit jou ’n getal kilojoules wat jy per dag kan inneem. Nadat jy die bestanddele vir byvoorbeeld ontbyt ingevoer het, sȇ dit vir jou hoeveel kilojoules, vet, proteïen en koolhidrate jy vir die dag oor het. Jy kan ook invoer watter oefening jy die dag gedoen het, en die app sȇ vir jou hoeveel kilojoules jy verbrand het.

elmari banting ontbyt

Vir ontbyt eet ek gewoonlik twee gekookte eiers, soms met ’n kwart avokado en/of twee tot drie skyfies tamatie. Dit is genoeg om my tot middagete aan die gang te hou. Een oggend het ek nie eiers in die huis gehad nie en ’n sny Banting-brood** met salami en tamatie geëet.

Ek het aanvanklik ’n bietjie honger geraak tussen maaltye en dan ’n bakkie volroomjogurt geëet, maar nou peusel ek nie meer nie. Die feit dat ek in my derde week net 0,3 kg verloor het, het my ook laat wonder of ek ’n plato bereik het, en volgens die ghoeroes moet vroue suiwel uitsny as hulle ’n plato bereik. (Dit is ook hoekom ek nie meer melk in my koffie drink nie.)

Vir middagete eet ek gewoonlik oorskiet van aandete, of ek maak ’n vars slaai met ’n proteïen, soos hoender, streak-repies of geblikte tuna, en met ’n bietjie avokado en/of ekstrasuiwer olyfolie om meer vet in te kry. Omdat ek net vir myself kosmaak, is dit maklik om vier tot ses porsies te berei van geregte wat ek dan oor die volgende paar dae kan eet. Ek probeer om nie dieselfde kos vir middag- en aandete te eet nie, en daarom het ek gewoonlik twee geregte in my yskas wat ek in porsies verdeel het. Dit bevat altyd proteïen, vet en koolhidrate.

elmari banting lasagne

Resepte

Resepte wat ek tot dusver probeer het, sluit in frikkadelle met tamatiesous en murgpampoentjie-zoedels (van The Low-Carb Creed deur Sally-Ann Creed); Banting-lasagne met eiervrug in plaas van pasta; Banting-herderspastei met kapokblomkool; Banting-bobotie met blomkoolrys; pangebraaide vis met geroosterde groente; lamstjops of hoender met gestoomde groente, bedruip met olyfolie of botter; gevulde hoenderfilette met fetakaas en sondroë tamaties, in spek toegedraai; en Banting-pizza.

Volgende week sal ek ’n paar resepte met julle deel.

* Let asseblief daarop dat hierdie blog geensins mediese advies bevat nie. Voordat jy met ’n dieet begin, is dit raadsaam om met jou dokter te praat, veral as jy gesondheidsprobleme het.

** Ek wil my eie Banting-brood begin bak – daar is ’n paar lekker resepte in Low-carb is Lekker Twee (Penguin Random House) deur Inè Reynierse, waarvan ek verlede week ’n resensiekopie ontvang het – maar ek het al daarvan by my plaaslike Superspar gekoop. Dis nie iets wat jy elke dag behoort te eet nie, net as ’n bederfhappie. Anders as “gewone” brood is dit laag in koolhidrate (minder as 5 g per 100 g), hoog in proteïen en hoog in vet.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

1,1 kg

Gewigsverlies tot dusver:

9 kg

LEES OOK:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek – Week 1-4

3 heerlike Banting-nageregte

Banting-vrugte: Hoeveel kan jy eet?

Banting-resep: Blomkool-“broodstokkies”

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 1-4: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close