×
Skakel na Engels

Week 16: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Neem my op vlerke …

Wat ’n rondomtalie-week! Nadat ek al die laaste goedjies uitgesorteer het, is my tas gepak en ek is gereed om Donderdag op my vakansiereis te vertrek! Ek is tegelyk senuagtig en opgewonde.

Terug na Banting: Ek moet erken dat ek ’n bietjie teleurgesteld is oor my gewigsverlies die afgelope week. Ek weet ek het oorspronklik in my eerste bloginskrywing einde Januarie 2017 gesê ek wil 10 kg verloor voordat ek op 27 April op my vakansie Europa en Ierland toe vertrek.

Nadat ek dit binne die eerste agt weke van my nuwe Banting-leefstyl reggekry het, het my doelwit drasties verander. Ek het dit nooit hardop erken nie, maar ek het regtig gehoop ek kan 20 kg verloor voordat ek vertrek. Helaas is dit nou net 18,5 kg nadat ek die afgelope week net 0,8 kg verloor het. Ja, dis onrealisties om meer te wou verloor en ek besef dis steeds fantasties, maar ek voel ’n bietjie verkul.

En ja, ek weet ek is die enigste een wat die skuld daarvoor moet kry. Niemand anders het gekul nie, net ek. Omdat ek die afgelope vier maande so konstant en so baie gewig verloor het, het ek dit soort van as vanselfsprekend begin aanvaar dat dit só sou voortgaan. Daarom het ek soms ’n glas wyn gedrink en selfs aartappels geëet. Duidelik het slim nou sy baas gevang. Maar nou ja, dit help nie om nou te kla nie.

Ek het geweet wyn kan gewigsverlies vertraag, en ek weet ek moet weer skouer aan die wiel sit, maar dit gaan nie nou dadelik gebeur nie. Ek het vrede daarmee gemaak. Ek sal weer aan die werk spring wanneer ek oor drie weke terugkom van my vakansie.

Ek weet ek gaan verkeerd eet, want soos ek voorheen gesê het, Parys is beroemd vir hul soetgebak, croissants en baguettes, en die Iere eet aartappels saam met amper alles. Ek wil elke land se kultuur en kos beleef, en daarom gaan ek goed eet en drink wat ek nie by die huis sal eet nie. Dis mos die hele punt!

Lees: 10 reise waarop elke vrou behoort te gaan

Die groot Banting-verhoor

Op ’n ander noot, kom ons gesels oor die uitslag van die Tim Noakes-verhoor die afgelope week. Selfs al is jy net effens geïnteresseerd in Banting, sal jy saamstem dat dit beduidend is. Noakes is op 21 April 2017 onskuldig bevind nadat die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) hom van onprofessionele gedrag aangekla het weens iets wat hy in Februarie 2014 op Twitter vir ’n vrou gesê het. Die klag is oorspronklik deur Claire Julsing-Strydom, voormalige president van die Vereniging vir Dieetkunde van Suid-Afrika, ingedien.

Die hele verhoor het uiteindelik oor soveel meer gegaan as net sy antwoord op Pippa Leenstra se vraag. Hier is haar twiet: “@ProfTimNoakes @SalCreed is LCHF eating ok for breastfeeding mums? Worried about all the dairy + cauliflower = wind for babies?? [sic]” Sy twiet was: “Baby doesn’t eat the dairy and cauliflower. Just very healthy high-fat breast milk. Key is to ween [sic] baby onto LCHF.”

Waarop dit neerkom, is dat Noakes vir Leenstra aangeraai het om haar kind op ’n laekoolhidraat-hoëvet-dieet te speen, wat hy “regte kos”genoem het. Hy het aangevoer dat hy nie raad oor borsvoeding gegee het nie, maar oor spening.

Die RGBSA het aangevoer dat Noakes onkonvensionele en onwetenskaplike raad gegee het, en dat hy onprofessioneel opgetree het deur via sosiale media raad te gee.

Was dit onkonvensionele raad? Miskien, as jy in ag neem dat baie mense glo dat babas op styselryke kos gespeen moet word. (Dis ’n hele ander blik wurms wat ek nie nou wil oopmaak nie.) Was sy raad onwetenskaplik? As jy in ag neem dat Noakes ’n mediese dokter en internasionaal gerespekteerde wetenskaplike in sportwetenskap en voeding is, dink ek nie so nie.

Was dit skadelik? Volgens advokaat Joan Adams, voorsitter van die RGBSA se professionele-gedragskomitee, het die klaer nie bewys dat enige iemand deur sy twiet benadeel is of dat hy enige norme of standaarde van die mediese professie oortree het nie. Vier uit die vyf lede van ’n onafhanklike paneel het in Noakes se guns beslis.

Hier is waar dit interessant raak. Noakes het beweer dat Julsing-Strydom se klag nie net oor borsvoeding gegaan het nie, maar oor die dieet wat hy in sy boek The Real Meal Revolution (in Afrikaans as Die kosrevolusie beskikbaar) aanbeveel, en waarmee sy nie saamstem nie.

Ek dink nie ek is bevoeg om oor die verdienste daarvan te bespiegel nie, maar hierdie verhoor het beslis die deur oopgemaak vir meer kritiese denke oor die manier waarop ons (en dieetkundiges) geleer is – en word – om te eet. Hopelik sal meer wetenskaplik bewese inligting meer geredelik aan meer mense beskikbaar word oor hoekom ’n hoëkoolhidraatdieet nie noodwendig beter vir ons is as ’n hoëvetdieet nie, en dat vet nie die vyand is nie.

Tot siens vir eers!

Nou ja, dis al vir hierdie week. Ek gesels weer met julle wanneer ek terug van my vakansie is – hopelik nie te veel swaarder nie! 

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

0,8 kg

Gewigsverlies tot dusver:

18,5 kg

LEES OOK:

Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek: Week 15

Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek: Week 14

Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek: Week 13

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 15: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close