×
Skakel na Engels

Week 15: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Dogterlike raad

Jy weet jy doen iets reg wanneer jou 80-jarige moeder jou op ’n Sondagaand bel om jou dieetraad te vra!

My ma het haar lewe lank nog nooit ’n probleem met haar gewig gehad nie – wel, nie sover ek ooit kon agterkom nie. Sy was altyd die een wat my op die regte spoor probeer hou het. Sy het nog altyd gesond geëet, maar die laaste tyd het sy ’n bietjie gewig aangesit, Toe sy my vra oor maaltydplaasvervangers, kon ek vir haar sê wat die Banting-ghoeroes sê (ek beweer glad nie ek is ’n kenner nie ?): Bly weg daarvan! Eet regte kos wat lyk soos dit veronderstel is om te lyk: groente, ’n eier, ’n stukkie vis, hoender of vleis – niks kunsmatigs nie.

’n Wolf in skaapsklere

Toe ek haar vra wat sy eet, blyk dit sy eet soms ’n muffin vir middagete, of ’n laevet-jogurt en vrugte. En sy het geen benul gehad hoeveel suiker daar in muffins of laevet-jogurt is nie. Of dat die fruktose in vrugte steeds ’n vorm van suiker is en dat jy versigtig moet wees hoeveel daarvan jy eet nie.

Te veel suiker is sleg vir jou liggaam. Punt. Die probleem is dat ons dink muffins en jogurt is gesond. Maar net omdat die verpakking sê “hoog aan vesel” of “laag aan vet” beteken dit nie dis gesond nie. Tensy jy die etiket lees, gaan jy nie weet hoeveel suiker ’n produk bevat nie. Wat die meeste muffins – selfs die “gesonde” semelmuffins – betref, kan jy net sowel koek eet. En die oomblik dat jy die vet uit die jogurt haal, smaak dit nie meer so lekker nie – dis hoekom vervaardigers suiker byvoeg.

Dit was goed om hierdie gesprek met my ma te hê, want dit het my weer aan my eetgewoontes laat dink, en oor hoekom ek my dieet en leefstyl verander het. Ek moet wel erken dat ek die naweek twee stukkies nougat geëet het wat ek gekry het toe ek my kombuiskaste skoongemaak het. Ek moes dit seker net weggegooi het, maar wie wil nou kos weggooi! Die goeie ding is dat ek weet dis nie iets wat ek elke dag sal eet nie, en ek het regtig elke happie geniet.

Ierse kos

Dit bring my by die volgende punt: wat ek op my vakansiereis gaan eet. Ek kan nie glo ek vertrek oor ’n bietjie minder as ’n week nie, op 27 April! Maandag het ek tyd gehad om na die reisplan vir die Ierse deel van ons reis te kyk wat my vriendin Irize vir my ge-e-pos het, en ek wil omtrent bars van opgewondenheid. Luister net na die dromerige klank van die name van die bed-en-ontbytplekke waar ons sal tuisgaan: Cherrybrook in Avoca, Wicklow; Mystical Rose Country House in Killarney, Kerry; Loughrask Lodge in Ballyvaughan, Clare; Woodbine Cottage in Westport, Mayo; Abbey House in Boyle, Roscommon; Atlantic Shore in Newtown, Bantry, Cork. Ek kan nie wag om die pragtige omgewing en geskiedkundige besienswaardighede te sien nie, en om die plaaslike gasvryheid en kultuur te ervaar. Terwyl ek so deur die verblyfplekke se webwerwe gesnuffel het, het ek ook sommer gekyk watter ontbyte beskikbaar is – en dit blyk dat hulle almal Banting-vriendelike opsies soos Ierse gerookte salm, spek, eiers in alle vorms, tamaties en sampioene het.

Hoewel dit nie heeltemal Banting-vriendelik is nie, wil ek beslis die volle Ierse ontbyt probeer – geroosterde spek, wors, swart en wit poeding, geroosterde tamatie en gebakte eiers. Baie mense sal waarskynlik eerder omkom voordat hulle swart poeding (’n soort bloedwors) eet, maar ek gril nie maklik nie – ek het immers (twee keer!) haggis geëet toe ek in 2015 in Skotland was. (Ter interessantheid: Swart poeding word gewoonlik van vark- of beesvet, varkbloed en hawermout gemaak, sê Wikipedia. Wit poeding bestaan uit varkvleis en -vet, brood en hawermout wat in ’n groot wors gevorm word.)

Hopelik is dit nie net die ontbytopsies in Ierland wat Banting-vriendelik is nie, maar ander maaltye ook!

Resep

Om hierdie week se blog af te sluit, hier is my resep vir hoenderkerrie.

Chicken curry elmari

Elmari se hoenderkerrie

Genoeg vir 4 tot 6 porsies

Bestanddele

1 e ekstrasuiwer olyfolie of klapperolie

8 hoenderdye (sowat 1 kg)

pienk Himalajasout, na smaak

1 groot ui, gekap

2 e kerriepoeier

1 t borrie

1 t fyn komyn

½ t gemaalde koljander

½ t garam masala

2 tot 3 steranyse

’n klein knippie gemaalde kardemom (of 2 kardemomsade, gekneus)

1 e vars gemmer, gerasper

1 t knoffel, fyngedruk

½ t rissievlokkies, opsioneel

1 x 400 g-blik geskilde, gekapte tamaties

1 k hoenderaftreksel

vars koljanderblare, grofgekap

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit die olie in ’n groot oondkasserol en braai die hoenderstukke aan weerskante tot goudbruin. Geur met sout, skep uit die kasserol (los die uitgebraaide vet in die kasserol) en plaas eenkant.
  2. Braai die uie in die kasserol tot sag en lig goudkleurig. Voeg die speserye by, roer om te meng en braai vir ’n minuut.
  3. Voeg die tamaties en aftreksel by en bring tot kookpunt. Proe vir geur en voeg sout by indien verkies.
  4. Skep die hoenderstukke terug in die kasserol, skep van die sous oor elke porsie en plaas die deksel op die kasserol, of bedek met foelie. Plaas in die oond vir 45 tot 50 minute. (Draai die hoenderstukke halfpad deur om.)
  5. Garneer met koljander en sit voor met blomkoolrys.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

0,7 kg

Gewigsverlies tot dusver:

17,7 kg 

Lees ook:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 14

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 13

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 12

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 algemene oorsake wat keer dat jou vel vlekkeloos en gesond is

Het jy ’n probleemvel? Een of meer van die volgende kwessies kan die skuld daarvoor kry: 

Close