×
Skakel na Engels

Week 14: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
Elmari Potgieter

Dit gaan alles oor jóú

Hierdie grappie werk beter in Engels as in Afrikaans: How many psychologists does it take to change a light bulb? Just one, but then it must really want to change.

Flou grap, ek weet, maar dit is baie gepas in die konteks van gewigsverlies. Jy moet dit regtig wíl doen. Niemand anders kan dit vir jou doen nie, en jy moet dit vir niemand anders as jouself doen nie. Jý moet gemotiveerd wees.

Ek veronderstel dit is hoekom ek tot dusver so goed vaar met my dieet. Ek kan nie regtig verklaar hoekom ek dit nog nie voorheen kon doen nie. Ek was immers ongeveer sewe jaar lank verskriklik oorgewig, maar ek kon net nie op die punt kom wat dit regtig vir my saakgemaak het nie.

Maar toe begin beplan ek my oorsese reis vir April en Mei 2017 en ek onthou hoe verleë ek op die vliegtuig was in 2015 toe ek te groot vir die sitplek was. Dit is iets wat ek nooit weer wil ervaar nie. Ek wil nie skaam vir myself voel nie.

Nou dat ek altesaam 17 kg verloor het (0,9 kg die afgelope week), voel ek soveel beter oor myself. Ek het soveel meer selfvertroue, en ander mense sien dit raak. My kollega Ashanté Dlamini-Mthembu het verlede week vir my gesȇ ek gloei behoorlik.

Wat om te eet wanneer jy nie self kos maak nie

Wanneer jy nie by die huis is om jou eie kos te maak nie, kan dit ’n bietjie ingewikkeld wees om Banting-beginsels toe te pas. In ’n restaurant is dit nie so moeilik nie, want die meeste restaurante het steak of vis en jy kan slaai saam met dit eet.

Sommige restaurante het selfs Banting-opsies. Maar wanneer jy vir familie of vriende gaan kuier, kan dit moeilik wees. Dit kom basies daarop neer dat jy die beste keuses moontlik in die omstandighede moet maak, en dat jy van die volgende maaltyd af weer reg eet.

Probeer wegbly van styselryke kosse as jy kan en eet proteïene en groente of slaai. Jy kan selfs aanbied om ’n slaai saam te neem!

Hierdie naweek het ek by my broer Gideon en sy gesin in hul vakansiehuis gaan kuier. My ma, Elize, het ook van Klein-Brakrivier af gekom. Die hele naweek was hulle almal baie ondersteunend ten opsigte van my dieet. My skoonsuster, Louise, het selfs oor Banting gaan google sodat ek saam met hulle kon eet.

Saterdag het ons gebraai. Daar was bief- en hoenderkekabs, boerewors, braaibroodjies met kaas, tamatie en blatjang, en ’n vars vrugteslaai. Kebabs word gewoonlik in ’n sous gemarineer wat suiker bevat. Ek het vrede daarmee gemaak en ’n biefkebab geëet.

Gelukkig het ek Banting-brood gehad en kon dus my eie braaibroodjie sonder blatjang maak. Omdat ek nog in die gewigsverliesfase is, behoort ek nie enige ander vrugte as bessies te eet nie (en dan ook nie elke dag nie), maar ek het besluit ek gaan ’n bietjie mango en pynappel eet.

Ek moet bieg dit was erg om nie “regte” brood te eet nie, want dit het fantasties gelyk. Maar omdat ek weet hoe ek agterna sou voel as ek dit wel geëet het – sooibrand! – was my keuse ’n bietjie makliker.

Sondag het Louise ’n heerlike hoender-en-spekpasta met Ina Paarman se geroosterdegroente-pastasous gemaak. Vir die mans was daar “regte” pasta, maar vir my en ander wat wou, was daar murgpampoentjie- en botterskorsienoedels.

Die sous bevat mielieblom (nie Banting-vriendelik nie) as verdikkingsmiddel, asook suiker (beslis nie Banting-vriendelik nie!), maar die koolhidraatinhoud is net 5,5 g per 100 g, wat nie te erg is as jy in ag neem dat jy kosse met minder as 5 g koolhidrate per 100 g moet probeer eet nie.

Saam met dit het ons ’n mengelslaai gehad waarvan al die bestanddele Banting-vriendelik was. Ek het selfs ’n halwe glas wyn gedrink.

Ek is nie seker wat ek sou doen as ek by mense gaan eet en niks van die kos is Banting-vriendelik nie. Waarskynlik sal ek net baie min eet … Maar dieselfde beginsel geld: Geniet die kos en maak seker jy eet van die volgende maaltyd af weer 100% reg.

Kos in die buiteland

Ek bekommer my nou al weke lank oor wat ek in Parys, Amsterdam en Ierland gaan eet, veral omdat Parys bekend is vir brood en soetgebak en die Iere skynbaar aartappels saam met alles eet. Maar ek sal nou maar net daarmee moet saamleef.

Trouens, ek beplan om dit te geniet, want ek glo ’n mens moet ’n land as ’n geheel beleef. Hoe kan ’n mens Amsterdam toe gaan en nie stroopwafeltjes eet nie, het Louise my gevra. Dit is dus op my spyskaart, en so ook Guinness-bier in Ierland.

Selfs al tel ek 5 kg op gedurende my reis, sal ek maar net weer skouer aan die wiel sit wanneer ek weer by die huis is.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

0,9 kg

Gewigsverlies tot dusver:

17 kg

Lees ook:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 13

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 12

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 11

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 5: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close