×

Week 13: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel

’n Prestasie

Hierdie Sondag was dit die Spar-vrouewedloop in Kaapstad. Ek is so trots op myself – ek het klaargemaak! Dit is die eerste keer in baie jare wat ek aan ’n wedloop deelgeneem het.

Dit was nou wel net 5 km en ek het gestap, nie gehardloop nie, maar ek voel of ek iets groots bereik het. Ek het aan myself bewys ek kan 5 km stap sonder om om te kap! Ek dink nie ek sou dit kon doen as dit nie vir my Banting-leefstyl was nie.

Die geneul was die moeite werd

Twee vriendinne, Amelia en Annchen, sanik nou al seker twee jaar dat ek saam met hulle aan wedlope moet deelneem. Dit het eintlik ’n bietjie irriterend begin raak, in so ’n mate dat ek hulle gevra het om op te hou.

My rede? Ek wou nie erken dat ek skaam gevoel het omdat ek so oorgewig was dat ek waarskynlik nie ’n kilometer sou kon loop sonder om na my asem te hyg en bloedrooi in die gesig te raak nie. Of dat ek bekommerd was dat ek soos ’n walvis in ’n spanbroek en T-hemp sou lyk nie.

Maar nadat ek 16 kg verloor het, het ek eindelik die moed en selfvertroue gehad om dit te doen. Ja, my voete is regtig seer, maar dis hoekom voet-jel uitgevind is.

Hier is ek saam met Amelia en Annchen in Desember verlede jaar toe ons een Saterdag gaan uiteet het. Wanneer ek nou na die foto kyk, kan ek nie glo hoeveel ekstra gewig ek aan my bolyf gedra het nie. En kyk my ronde gesig!

Ná hierdie wedloop sien ek uit na die volgende een. Ek wil van nou af sommer soveel daarvan as moontlik doen, want ’n gesonde liggaam huisves immers ’n gesonde gees.

Om deel van 21 000 vroue te wees wat aan ’n geleentheid soos die Spar-vrouewedloop deelneem, was ook ’n ongelooflike ervaring. Daar was so ’n positiewe atmosfeer, en natuurlik was dit vir ’n goeie doel: Operation Smile, wat rekonstruktiewe gesigchirurgie vir kinders doen.

Resepte

Oukei, terug na Banting. Die afgelope week het ek twee van my gunsteling-resepte gemaak, maar op die Banting-manier. Ek hoop julle geniet dit!

Thaise groenkerrie met hoender

Dit is waarskynlik een van die maklikste resepte wat ek al ooit gemaak het, en dis regtig lekker. Gebruik so veel of so min groenkerriepasta as wat jy verkies. Ek hou van ’n warm kerrie.

Genoeg vir 6-8

Bestanddele

1 e klapper- of ekstrasuiwer olyfolie

8 hoenderdye en/of -boudjies

pienk Himalajasout, na smaak

varsgemaalde swartpeper, na smaak

1 e groenkerriepasta, na smaak

1 knoffelhuisie, fyngedruk

1 e gerasperde vars gemmer

1 x 410 g-blik klappermelk

½-1 k hoederaftreksel

750 g murgpampoentjies, in skyfies gesny

1 geel soetrissie, in repies gesny

1 rooi soetrissie, in repies gesny

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verhit die olie in ’n groot oondvaste kasserol en braai die hoenderporsies aan albei kante tot goudkleurig. Geur na smaak met sout en peper. Skep uit die kasserol en plaas eenkant.
  3. Braai die murgpampoentjies en die soetrissies in die leë kasserol tot sag. Skep uit die kasserol en hou eenkant.
  4. Braai die groenkerriepasta, knoffel en gemmer in dieselfde kasserol vir sowat ’n minuut. Voeg die klappermelk by en roer om te meng. (Ek gebruik gewoonlik ’n handklitser sodat dit nie klonterig is nie.) Bring tot kookpunt. Voeg die hoenderaftreksel by en roer.
  5. Skep die hoender in die sous, bedek die kasserol met ’n deksel en plaas in die oond vir 30 minute.
  6. Voeg die murgpampoentjies en soetrissies by en plaas weer in die oond vir 10 minute.
  7. Sit voor met blomkoolrys as jy wil.

Elmari se Banting-lasagne

Die resep is nogal moeite, so moet dit nie op ’n weekaand maak nie. Maar dis die moeite werd! Die bolognese-sous is natuurlik ook heerlik op sy eie saam met murgpampoentjienoedels en ’n bietjie gerasperde parmesaankaas.

Genoeg vir 6

Bestanddele

Vir die “pasta”:

2 groot eiervrugte, oorlangs in skywe gesny

sout

2 e ekstrasuiwer olyfolie

Vir die bolognese-sous:

1 e olyfolie

1 groot ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

500 g beesmaalvleis

1 selderystingel, fyngekap

1 wortel, gerasper

1 x 400 g-blik geskilde, gekapte tamaties

1 k hoenderaftreksel

1 e appelasyn

2 t xilitol

pienk Himalajasout, na smaak

varsgemaalde swartpeper, na smaak

1 e psilliumvesel

’n groot hand vol vars basilie, gekap

Vir die kaassous:

500 g blomkool

60 ml room

2 eiers

sout en swartpeper, na smaak

100 g wit cheddar, gerasper

Metode

  1. Vir die “pasta”: Sprinkel sout oor die eiervrugskywe, plaas dit in ’n vergiettes en laat dit vir 30 minute sweet om van enige bitterheid ontslae te raak.
  2. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  3. Verhit die olie in ’n groot pot en braai die ui oor matige hitte tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir nog ’n minuut. Voeg die maalvleis by en braai tot bruin.
  4. Voeg die seldery en wortel by en roer deur. Voeg die tamaties, aftreksel, asyn, xilitol, sout en peper by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut vir minstens ’n uur om die geure te laat ontwikkel.
  5. Terwyl die bolognese-sous prut, maak solank die “pasta”: Spoel die eiervrugskywe af en druk met handdoekpapier droog. Verf met olyfolie. Pak die eiervrug op ’n rakkie in ’n oondpan en rooster in die oond vir sowat 20 minute tot sag en goudkleurig. Draai dit een keer om. Jy sal dit dalk in twee sarsies moet doen.
  6. Maak die kaassous: Stoom die blomkool tot baie sag. Dreineer goed en verpulp met ’n staafvermenger. Klits die eiers en room saam en voeg by die blomkool terwyl jy klits. Geur met sout en peper.
  7. Roer die psilliumvesel by die bolognese-sous in om dit te verdik. Roer die basilie in.
  8. Skep ’n dun lagie bolognese-sous onderin ’n groot oondbak. Pak die helfte van die eiervrugskywe bo-op. Herhaal met nog ’n laag bolognese-sous en eiervrug.
  9. Giet die blomkool-en-roommengsel oor die gereg. Sprinkel die kaas oor.
  10. Bak in die oond vir 30 minute tot goudbruin. Sit voor met ’n groen slaai.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

0,6 kg

Gewigsverlies tot dusver:

16,1 kg

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 12: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close