×
Skakel na Engels

Week 12: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Die goeie en die slegte

Wat gewig betref, was hierdie week nie so goed nie. Ek het net 0,5 kg verloor. Maar ek verloor ten minste sentimeters. Ek dra nou nog ’n broeknommer kleiner! Vir ’n lang tyd het ek ’n nommer 22 gedra. Ek voel ’n bietjie skaam om te sȇ watter nommer ek gedra het, maar dit voel goed om te sȇ ek pas nou in ’n nommer-16-broek!

Hierdie week het ek besluit ek is nou moeg daarvoor om klere te dra wat te groot vir my is. Amper alles is my kas sit soos sakke aan my, en omdat dit my lyf verbloem, lyk ek steeds groot. Dus: winkels toe met my! In die eerste paar winkels kon ek niks kry waarvan ek hou nie, of altans, nie in my nommer nie. Daar was hope nommer 8’s, 10’s, 12’s en 14’s, niks in nommers 16 en 18 nie en dan weer hope nommers 20, 22 en groter. Maar toe gaan ek Donna toe en kry drie jeans – een donkerblou, een swart en een ligblou met blomme daarop geborduur – alles in nommer 16!

Lees ook: 12 maniere om fees te vier sonder om gewig aan te sit

Te groot!

Ek kan nie die gevoel beskryf wanneer jy iets van die reling afhaal in die winkel, dit aanpas en dan is dit sowaar te groot nie! Dit was ’n oomblik van oorwinning toe ek die winkelassistent in die aanpaskamer vra of sy asseblief vir my ’n kleiner nommer kan bring.

Natuurlik besef ek dat hierdie broeke my waarskynlik – hopelik! – nie oor drie maande gaan pas nie, maar dan sal ek maar net iemand moet kry wat dit vir my kan afstik. Dis beslis nie ’n opsie om weer gewig op te tel nie, want ek het al my groot klere reeds weggegee.  

My einddoel is nog nie heeltemal in sig nie, want ek moet nog 25 kg verloor, maar ek het reeds baie meer selfvertroue. Dit voel fantasties!

Trooskos

Ná ’n paar koeler aande was ek regtig lus vir trooskos. Daarom het ek hierdie naweek een van my gunsteling-resepte op die Banting-manier probeer: groenboontjiebredie. Al wat ek regtig verander het, is om die aftreksel wat ek voorheen sou gebruik het deur water te vervang, en om die aartappels deur patats te vervang.

Groenboontjiebredie

groenboontjiebredie

Genoeg vir 4-6 porsies

Bestanddele

1 kg lamskenkels, opgesny

3 e ekstrasuiwer olyfolie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

1 rooi brandrissie, pitjies verwyder en fyngekap

1 t tiemie

2 e tamatiepasta

2 k kookwater

pienk Himalajasout en varsgemaalde swartpeper na smaak

500 g patats, in blokkies gesny

700 g groenboontjies, in 2 cm-stukke gesny

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit 1 e olyfolie in ’n groot oondkasserol en braai die helfte van die lamskenkels daarin tot goudbruin. Skep die vleis op ’n bord uit. Voeg nog 1 e olyfolie by die kasserol en braai die res van die vleis daarin. Skep dit op die bord.
  2. Verhit die res van die olie in die leë kasserol en braai die ui daarin tot sag en goudkleurig. Voeg die knoffel, rissie en tiemie by en braai vir nog ’n minuut.
  3. Skep die vleis terug in die kasserol.
  4. Voeg die kookwater by die tamatiepasta in ’n beker, meng en voeg by die kasserol. Geur met sout en peper. Bedek die kasserol en plaas dit vir 1 uur in die oond.
  5. Voeg die patats by en plaas vir 20 minute in die oond.
  6. Voeg die groenboontjies by en plaas vir 30 minute in die oond.
  7. Druk die patats effens fyn om die sous te verdik. Proe vir geur en voeg nog sout en peper by indien verkies. Sit met blomkoolrys voor as jy wil.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

0,5 kg

Gewigsverlies tot dusver:

15,5 kg

Lees ook:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 11

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 10

Elmari’s weekly Banting Diet Diary: Week 9

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 11: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van Goeie Huishouding se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles...

Close