×
Skakel na Engels

Week 11: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van Goeie Huishouding se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

 

Verrassing!

Ek is dankbaar om te sȇ ek het nog ’n fantastiese week agter die rug wat gewigsverlies betref waarin ek 1,4 kg verloor het. Dit is dus nou altesaam 15 kg!

Ek is eintlik nogal verbaas, want dit was vir my ’n baie moeilike week. Behalwe dat ek nogal toegegooi was onder die werk, moes ek ’n klomp goed uitsorteer vir my visumaansoeke vir my oorsese reis. (Julle sal dalk uit my eerste bloginskrywing onthou dat ek 10 kg wou verloor voordat ek Ierland toe gaan. Ek vertrek die 27ste April.) Ek besef dit laat my heeltemal ondankbaar klink – bietjie soos om met die witbrood onder die arm te kla – en ek weet maar te goed ek is bevoorreg om oorsee te kan gaan, maar dit het regtig gevoel of ek nooit die lig aan die einde van die tonnel gaan sien nie.

Lees ook: 16 plaaslike soetgoed en peuselhappies wat Suid-Afrikaners wat oorsee woon die meeste mis

Visum-moeilikheid

Omdat ek eers Parys en Amsterdam toe gaan, en dan Ierland en Londen toe, het ek visums vir Brittanje en die Schengen-gebied nodig (gelukkig nie vir Ierland nie). Ek gaan in Parys, Amsterdam en Londen by vriende bly en moes formele uitnodigings van hulle kry, asook ander dokumente. Veral Frankryk maak dit vir mense van ander lande baie moeilik om soontoe te gaan as jy nie ’n hotelbespreking het nie! Dit was (en is steeds) senutergend. Ek was Woensdag vir my Britse visumaansoekafspraak en moet eers hierdie visum kry voordat ek vir my Schengen-visum kan aansoek doen.

Ek het die afgelope week elke aand laat by die huis gekom en eenvoudig nie die krag gehad om nog kos te maak ook nie. Dus het ek nogal kwaai staatgemaak op die Banting Revolution-neutbrood wat ek by Checkers present gekry het, asook goed soos geblikte tuna, sardientjies en makriel, salami, kaas, slaaiblare, komkommer en hope tamaties. (Het ek al ooit genoem dat ek ’n bietjie verslaaf aan tamaties is?) Woensdagaand het ek my voorneme verbreek om nie gedurende die week alkohol te drink nie en ’n dubbele whisky geskink.

Omdat ek so angstig en gestres gevoel het, het ek konsertplanne vir Saterdagaand met vriende op die laaste nippertjie gekanselleer (ek voel steeds regtig sleg daaroor), maar ek het dit nodig gehad om net absoluut niks te doen nie. Ek het basies die hele naweek TV-reekse op my skootrekenaar gesit en kyk.

Lees ook: Dít is wat jy moet eet wanneer jy gestres is

Soms moet ’n mens uit die kombuis bly!

Ek het wel een aand besluit om kos te maak, en dit was amper ’n ramp. Net om te demonstreer dat my kop regtig op ’n ander plek was, kyk ’n bietjie na die gevolge van wanneer jy jou in die kombuis begewe wanneer jy te moeg is:

elmari bobotie

Ja, my gunsteling-oondbak het middeldeur gebars nadat ek dit uit die oond gehaal en per abuis op ’n warm stoofplaat gesit het wat ek vergeet het om af te skakel nadat ek eiers vir die volgende dag se ontbyt gekook het!

My huismaat, Richard, het gesȇ van nou af moet ek hom asseblief waarsku wanneer ek die stoof aanskakel sodat hy enige ongelukke kan probeer verhoed! Gelukkig was die bobotie in die bak oukei. Dis ’n lieflike, geurige resep wat ek beslis weer sal maak, en ek kan dit sterk aanbeveel. Dis ’n resep van die sjef en kosstilis Nina Timm wat ek op die webwerf hometimes.co.za. gekry het.

Ouma se bobotie met ’n Banting-kinkel

Genoeg vir 6

Ek het die vinkel en amandels uitgelos omdat ek dit nie gehad het nie en die 5 ml rissiepoeier deur 1 ml cayennepeper vervang. Ek het psilliumvesel gebruik om die vleismengsel te verdik, en ek het ses eiers gebruik.

Dit klink na baie eiers, maar die resultaat is ’n lieflike goue bolaag. Ek het ook 900 g beesmaalvleis gebruik omdat ek nie varkmaalvleis kon kry nie. Die resep sȇ nie hoe lank die bobotie moet bak nie. Ek het dit 45 minute by 180 °C gebak. Dit sal fantasties wees saam met blomkoolrys, en jy kan selfs jou eie “geelrys” maak, maar ek was te lui.

Bestanddele

45 ml olyfolie

1 groot ui, gekap

2 tot 3 knoffelhuisies, fyngedruk

5 cm-stuk gemmer, geskil en gerasper

2 groen appels, gerasper

20 ml kerriepoeier

5 ml garam masala

5 ml komyn

5 ml vinkel

5 ml borrie

5 ml rissiepoeier

600 g beesmaalvleis

300 g varkmaalvleis

10 ml sout

20 ml tamatiepasta

200 ml water of aftreksel

30 ml Banting Blvd Cinnamon Breakfast Porridge of psilliumvesel

6 tot 8 eiers

100 ml melk

100 g amandels

2 tot 3 lourierblare

Metode

  1. Verhit die olyfolie in ’n kastrol en soteer die ui, knoffel, gemmer en appel vir sowat 5 minute daarin.
  2. Voeg die speserye by en hou aan roer om te keer dat dit aanbrand.
  3. Voeg die maalvleis by en roer dit met ’n vurk om die vleis te krummel.
  4. Braai vir sowat 15 minute en voeg dan die tamatiepasta, water of aftreksel en pap of psilliumvesel by en laat kook tot verdik.
  5. Voorverhit die oond tot 180 ºC. Skep die vleismengsel in ’n oondbak.
  6. Klits die eiers en melk saam en giet dit oor die vleis. Sprinkel die amandels oor en druk die lourierblare in die vleis. Bak tot geset en goudbruin.

Ontbyt of poeding?

Die naweek het ek ook chia-en-klappermelkpap gemaak wat my ’n bietjie aan sagopoeding herinner. Ek het nogal gewonder wat om met chiasaad te maak, want daar is so ’n bohaai daaroor in Banting- en Paleo-kringe.

Ek het ’n bietjie gegoogle en toe op hierdie resep van Jonno Proudfoot van Real Meal Revolution op die Checkers-webwerf afgekom. Dis baie maklik om te maak en regtig lekker en versadigend. Jy gooi basies alles bymekaar, los dit oornag in die yskas en die volgende oggend is dit gereed!

Ek het die versoeter en amandels uitgelos en 5 ml vanieljegeursel bygevoeg. Dit smaak vorentoe saam met vars frambose. Volgens Jonno kan jy ook gemaalde gemmer of gerasperde lemoenskil byvoeg. Die resep sȇ dit maak twee porsies, maar ek het dit in vier porsies verdeel en dit was meer as genoeg vir ’n vullende ontbyt. Jy kan dit drie dae in die yskas hou.

Chiapap met kaneel en klappermelk

elmari chia pudding

Genoeg vir 2

Bestanddele

400 g-blik klappermelk

⅓ k chiasade

1 t kaneel

stevia of xilitol, na smaak

’n hand vol bessies

’n paar eetlepels dubbeldik Griekse jogurt

10 heel amandels, grofgekap

Metode

  1. Roer die klappermelk, chiasade, kaneel en ’n bietjie versoeter saam in ’n bak. Voeg genoeg versoeter na jou smaak by, maar probeer om daarsonder klaar te kom.
  2. Laat dit vir minstens 6 uur of oornag in die yskas staan. Die chiasade sal die vloeistof absorbeer en uitswel.
  3. Sit voor met gehalveerde bessies of bloubessie-coulis, ’n paar lepels Griekse jogurt  en die amandels.

Oukei, dis al vir hierdie week. Hou asseblief duim vas dat alles goed gaan met my visumaansoeke!

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

1,4 kg

Gewigsverlies tot dusver:

15 kg

Lees ook:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 10

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 9

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 8

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 10: Elmari se weeklikse Banting-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van Goeie Huishouding se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles...

Close