×
Skakel na Engels

Week 10: Elmari se weeklikse Banting-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van Goeie Huishouding se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Ek kan dit nie glo nie!

Ek moet erken ek is verstom deur die afgelope week se resultate. Ek het nog 1,7 kg verloor! En dit ná ’n baie lui week waarin ek absoluut geen oefening ingekry het nie. Banting werk sowaar vir my! Ek het nou altesaam 13,6 kg verloor, en dit in 10 weke! Dis gemiddeld 1,36 kg per week.

Die (effens) negatiewe – maar ook tog baie positiewe – ding daarvan is dat die meeste van my klere soos sakke aan my sit. Ek wil (nog) nie ’n hele nuwe klerekas aanskaf nie, want ek sal hopelik nog baie gewig verloor, en ek kan nie bekostig om elke maand of twee nuwe klere te koop nie. Wil enige iemand dalk van hul ou klere skenk? ?

Motivering van ’n mede-Banting-blogger

Hierdie week skryf ek oor hoe om op ’n begroting te bant. Banting kan nogal duur wees as jy nie behoorlik beplan nie, maar dit hoef nie te wees nie. Maar voordat ek daarby kom, wil ek julle vertel van ’n nuwe Banting-resepteboek, Klim op die Bant Wagon. (Dis ook in Engels beskikbaar as Jump on the Bant Wagon.)

elmari bant budget

Nadat ek hierdie week ’n persverklaring oor die boek ontvang het, het ek besluit om met die skrywer te gaan gesels. Sy naam is Nick Charlie Key. Hy het ook ’n webwerf en ’n blog genaamd The Bant Wagon.

Nick het sy blog uit desperaatheid begin. Hy was oorgewig en metaboliese sindroom is by hom gediagnoseer. Danksy sy blog het Human & Rousseau hom genader en gevra om ’n resepteboek saam te stel. Die boek bevat maklike, gesonde en bekostigbare resepte vir ontbyt, middag- en aandete, asook dekadente nageregte, maar sonder al die suiker.

Ek en Nick het mekaar by ’n koffiewinkeltjie in Claremont, Kaapstad, ontmoet en sy storie het my regtig geïnspireer. Ek het uitgevind ons het heelwat dinge gemeen.

Net nog ’n dieetgier?

Ek het Nick gevra hoekom hy begin bant het.

“In die tyd toe Banting gewild geraak het, het ek gedink dis net nog ’n dieetgier,” sȇ Nick. “Vir ses of sewe maande het ek nie regtig daaroor gedink nie. Maar my lewe lank al tel ek maklik gewig op. Ek het gedink ek eet gesond en neem baie aan sport deel, maar ek kon net nooit gewig afskud nie.

“Nadat ’n kollega my sy storie vertel het, wat baie dieselfde as my eie is, het ek besluit om my dokter te besoek. Sy het bloedtoetse gedoen en ek moes hoor ek ly aan metaboliese sindroom, net soos my kollega. My insulienvlakke was hemelhoog – amper dubbel soveel as wat dit moes wees. Ek wou gesond leef en probeer om nie ’n hartaanval te kry voordat ek 40 is nie. Ek moes dus my leefstyl verander. Dit was drie jaar gelede.”

Nick sȇ gewigsverlies was nooit regtig die motivering nie, hoewel dit ’n fantastiese newe-effek was. “Ek moes my insulienvlakke verlaag sodat ek nie diabetes kry nie. Ek het altyd gedink ek eet gesonde pastas, maar ek het nie besef my liggaam kan dit nie hanteer nie.”

Sekondȇre kwale

Hy sȇ hy het ook ’n paar sekondȇre kwale gehad, soos chroniese sooibrand en suurrefluks, net soos ek gehad het. “Ek sou heelnag wakker wees met so ’n brandende gevoel.” (Ek ken daardie gevoel maar al te goed!)

Nick het ook prikkelbaredermsindroom gehad. “Dit het ’n groot invloed op jou lewe omdat jy altyd moet seker maak jy is naby ’n badkamer.”

Binne drie weke nadat hy begin bant het, het albei hierdie probleme verdwyn, sȇ Nick. “Selfs al was dit net hierdie twee dinge wat verander het, was dit die moeite werd.”

Hy het ook ’n verandering in sy gewig gesien. “Binne die eerste vier of vyf maande het ek 20 kg verloor, en daarna nog 10 kg. Oor die afgelope jaar of so het ek ’n bietjie van ’n plato bereik.”

Lees ook: 6 natuurlike kure vir prikkelbaredermsindroom

Die oorskakeling

Ek het Nick gevra of dit moeilik was om aan Banting gewoond te raak. “Verbasend genoeg nie,” sȇ Nick. “Ek het gedink dit sou wees omdat ek nog nooit voorheen by ’n dieet kon hou nie. Maar ek veronderstel dis die skok [van metaboliese sindroom] wat my laat besef het dit is eenvoudig iets wat móét gebeur.”

Nick was gelukkig: Hy het nooit die sogenaamde laekoolhidraat-griep gekry wat baie mense kry wanneer hulle begin bant nie, soos hoofpyn, duiseligheid en naarheid. “Ek dink dit is omdat ek nog nooit regtig ’n suikertand gehad het nie. Ek was altyd mal oor burgers en pizzas. Blomkoolpizzas is nou my gunsteling-ding in die wȇreld. En een van die beste goed is dat ek spek kan eet sonder om skuldig te voel!”

Daar is egter een ding waarvoor hy gedurig lus is: slaptjips. “Dit is die een ding wat ek nie uit my gedagtes kan kry nie. Jy kan amper alles anders vervang, maar niks smaak soos slaptjips nie.”

Nick sȇ hy doen baie meer moeite met sy kos vandat hy begin bant het. “Daar is geen kitsoplossings nie. Dit is die beste om huis toe te gaan en jou eie kos te maak.”

Sy vrou, Rosina, is nog heeltyd baie ondersteunend. “Sy is half Italiaans, half Portugees, en ons het voorheen baie pasta geëet. Hoewel sy na haar pasta smag, eet ons dieselfde kos omdat dit nie prakties is om afsonderlike maaltye te berei nie. Ek sou dit nie sonder haar kon doen nie.”

Hoe om Banting bekostigbaar te hou

banting boek

“Baie daarvan kom neer op behoorlike beplanning,” sȇ Nick. Hy sit op ’n Sondagaand en beplan vooruit vir die week. Dan koop hy die nodige bestanddele om maaltye te berei wat ’n paar dae sal hou.

“Dit help ook om in groot maat te koop. Ons is ’n groep wat in groot maat by groentemarkte koop. Ons is soos in 20 mense en koop vir almal. Uiteindelik kry jy groente vir omtrent die helfte van die prys wat dit in winkels kos.”

Nog iets wat die koste help laag hou, is om ’n groente-en-kruietuin te hȇ. “Daar is geen beter gevoel as om jou eie kos te kweek nie,” sȇ Nick. In hul tuin het Nick en Rosina onder meer tamaties, roosmaryn, basilie en kruisement. Hy maak graag sy eie pesto en gebruik meer bekostigbare neute soos amandels in plaas van die tradisionele dennepitte daarin.

Nick is ook lief vir neute en bessies, meestal aarbeie, “en bloubessies, as ek dit kan bekostig!” Sy suster het ’n konneksie op ’n plaas waar hulle kilogrampakke gemengde bessies koop, wat hy dan vries en gebruik om smoothies met dubbelroom-jogurt te maak.

Lees ook: Neute en sade vir Banting: die goeies en die slegtes

Wat is sy stapelkosse?

“Ek hou baie van vleis. Ons het altyd hoenderstukke, varktjops en -worsies en stowebeesvleis vir bredies en kerries. Lamsvleis is te duur om gereeld te eet.” Hy sȇ dit gaan daaroor om die beste vleissnitte te kry wat jy kan bekostig en dit dan in ’n drukkoker of prutpot te berei vir die beste geur.

Nick eet graag biltong as ’n peuselhappie, en om dit bekostigbaar te hou, maak hy sy eie. “Ek het ’n biltongmaker gekoop en koop vleis soos beeshaas (silverside) en binneboud (topside), wat ek die slagter vra om in biltongstroke te sny.”

Nick en Rosina eet baie slaai, “maar nie te fancy nie”: blaarslaai, tamaties, sprietuie, grasuie, rooi-uie en avokado’s. (Hy het ’n kollega met ’n konneksie wat avokado’s teen ’n baie goeie prys kry en dit dan by die werk verkoop teen sowat R3 tot R4 elk.) Hulle eet ook groente soos blomkool, eiervrug, murgpampoentjie en sampioene.

Ander stapelkosse is eiers, olyfolie, klapperolie, tuna, xilitol en “hope speserye”.

Lees ook: 5 blomkoolresepte vir Banters

Goeie raad

Nick se raad vir mense wat wil begin bant, is om dit net te probeer. “Kyk wat werk vir jou, maar moet dit nie halfhartig doen nie. Leer die basiese beginsels en hou daarby. Eet beter kos wat lyk soos wat dit regtig is: groente wat soos groente lyk; nie ’n Weense worsie wat propvol ander goed is nie. Jy hoef nie hardcore te wees nie, en jy hoef nie in ketose te bly nie. Onthou veral dat koolhidrate en vet saam die slegste kombinasie is wat jou beslis gewig sal laat optel.”

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies die afgelope week:

1,7 kg

Gewigsverlies tot dusver:

13,6 kg

LEES OOK:

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 9

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 8

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 7

Elmari se weeklikse Banting-dagboek: Week 6

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 7: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close