×
Skakel na Engels

Week 1-4: Elmari se weeklikse Banting-dieet-dagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin van haar Banting-reis deel
gewigsverliesverhaal

Ek het besluit om in 2017 gesonder te leef. Dit behels deels om gewig te verloor, maar ek moet ook beter kos eet en meer oefen. En minder alkohol drink! Ek is 48 en moet minstens 40 kg verloor (ja, regtig!). Ná die bekendstelling van Sally-Ann Creed se nuwe boek, The Low-Carb Creed, aan die einde van verlede jaar het ek geweet Banting is die pad wat ek wil loop. Die feit dat jy heerlike kos kan eet en nooit honger hoef te voel nie het soos my soort dieet geklink. Ek het hierdie nuwe hoofstuk van my lewe op 1 Januarie begin.

Nadat my dokter ’n paar jaar gelede vir my gesê het ek is insulienweerstandig, het ek geweet ek moet gewig verloor en minder koolhidrate eet, maar ek het net nog nooit die motivering of inspirasie daarvoor gehad nie. En toe kom kuier my universiteitsvriendin Irize verlede jaar uit Amsterdam. Ons het besluit om in Mei 2017 saam Ierland toe te gaan. Dít was die inspirasie wat ek nodig gehad het.

Nadat ek ongemaklik gevoel het in vliegtuigsitplekke op ’n toer na Skotland in 2015 het ek besluit ek wil nooit weer só voel nie. Ek wil gemaklik kan sit en nie sukkel om die sitplekgordel vas te maak nie. Ek wil nie verleë voel oor wat die passasiers langs my dink nie. En ek wil in Ierland kan stap en nie uitasem wees wanneer ek die eerste bult aanpak nie. My doelwit is om minstens 10 kg voor die toer te verloor.

Om dit alles in perspektief te plaas: Ek sukkel al sedert my tienerjare met my gewig. Toe was dit nie so ’n groot probleem nie, want ek het aan sport deelgeneem en my ma het my kos gemaak en gekyk wat ek eet. Gedurende my eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch het ek amper 10 kg aangesit weens koshuiskos en beskuit, en slaptjips en kaasburgers in die kafeteria in die Neelsie, maar deur baie fiets te ry kon ek die meeste daarvan afskud.

Dit het egter nie vir die werklike probleem gehelp nie: dat ek nie gesond en gebalanseerd geëet het nie. In my 20’s het my gewig die hoogte ingeskiet, en op 27 kon ek 20 kg danksy Weigh-Less verloor. Wat my weer eens baie gehelp het, was oefening. Ek het by Run/Walk for Life aangesluit en was regtig trots op hoe fiks ek geword het.

Ongelukkig was trooskos in my 30’s my ondergang. Ek sou ’n dieetkundige gaan sien en ’n paar kilo’s verloor, net om alles – en meer – binne ’n jaar weer aan te sit. Dít, het ek besef, is omdat die manier waarop jy eet nie ’n dieet moet wees nie, maar ’n lewenswyse.

Omdat ek by ’n tydskrif soos Goeie Huishouding werk, lees ek uiteraard baie oor gesondheidskwessies, dieet en oefening. Ek het nog altyd skuldig gevoel wanneer ek die artikels gelees en geweet het ek moet hierdie wonderlike wenke in my eie lewe toepas. Nou het ek dit begin doen!

Ek eet gesond en ek het die MyCiti-bus werk toe begin neem pleks van met die motor in te ry. Ek loop na ’n verder bushalte as die een die naaste aan my huis en klim ’n paar haltes voor die naaste een aan die werk af.

Dit beteken ek stap meer as 5 km per dag. En naweke gaan stap ek op die strand, iets waarvoor ek nog nooit voorheen die energie gehad het nie. Sodra ek ’n bietjie fikser voel, wil ek GH se stapplan begin volg.

Baie van hierdie nuutgevonde energie kan ek aan Banting toeskryf. Ek slaap ook beter en sukkel nie meer met sooibrand nie – waarskynlik danksy al die koring, en veral brood, wat ek uitsny.

Sedert ek begin Bant het, het ek 7,9 kg verloor, waarvan 4 kg in die eerste week, 2,7 kg in die tweede week, 0,3 kg in die derde week en 0,9 kg in die vierde week . Ek kan amper nie glo hoe goed ek vaar nie. Dis beter as op enige ander dieet wat ek al gevolg het! En ek is vas van plan om vol te hou en sterk te staan.

Volgende week sal ek meer vertel van wat ek eet en die resepte wat ek al probeer het.

Begindatum van dieet:

1 Januarie 2017

Gewigsverlies tot dusver:

7,9 kg

LEES OOK:

Tim Noakes se 4 top-Banting-wenke

Die vyf algemeenste foute wat mense met Banting maak

Banting vir beginners

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dís hoe GH-leser, Beulah Botha, 58 kg verloor het!

Beulah Botha is ’n 40-jarige senior projekbestuurder en ma van een wat haar lewe heeltemal verander het en 58 kg...

Close