×
Skakel na Engels

Wat rook aan jou vel doen

Rook is ‘n nadelig gewoonte wat nie net jou gesondheid beïnvloed nie, maar ook jou voorkoms
rook

Dit is 2017 en teen hierdie tyd weet ons almal van die gevare wat rook inhou, en die skadelike uitwerking wat dit op ons liggame het, binne- en buitekant. Alhoewel ons weet dat dit tot hartsiektes, kanker en asemhalingsprobleme kan lei, is dit ook baie sleg vir ons vel. Rook laat ʼn vel dof vertoon, verhoed suurstofopname en versnel die verouderingsproses. Lees hier wat met jou vel gebeur elke keer wanneer jy ʼn sigaret aansteek en waarom jy, indien jy ʼn bloesende, jeugdige vel wil hê, hierdie ongesonde gewoonte beslis moet laat staan.

1. Rook beperk bloedvloei na die vel, wat basies beteken dat jy met elke sigaret maak dat jou vel nie kan asemhaal nie. Die korttermyneffek hiervan is dat puisies en aknee langer neem om op te klaar en makliker geïnfekteer raak, en die langtermyneffek is plooie. Net soos ons, benodig ons vel suurstof om gesond en in ʼn puik toestand te bly.

Lees: 6 dinge wat ’n kenner van velteenveroudering nooit sal doen nie

2. Rook ontneem ons vel nie net van suurstof nie, maar ook van noodsaaklike voedingstowwe. Tabakrook is vol skadelike chemikalie wat vir die vernietiging van elastien en kollageen verantwoordelik is – die proteïene wat jou vel elasties en sterk maak. Dit beteken dat langdurige rook sal veroorsaak dat jou vel sakkerig en oneweredig vertoon.

3. Alhoewel alle sonsoekers die gevaar van velkanker loop, toon studies dat rokers selfs meer vatbaar is. Die rede daarvoor is dat UV-strale sterker is waar daar rook is, met die gevolg dat dit die vel makliker en met meer intensiteit binnedring. Dit kan nie net velkanker veroorsaak nie, maar op ʼn minder ernstige noot, ook verkleuring en ouderdomsvlekke.

Lees: Hou op rook in 10 stappe

4. Het jy al van dinamiese plooie gehoor? Dit is lyntjies wat op die gesig ontwikkel en is besonder algemeen by rokers. Dit word deur jare se herhaaldelike aksie van sekere gesigspiere veroorsaak, en by rokers affekteer dit veral die lip-area. Die manier waarop jy jou lippe tuit wanneer jy rook intrek, sal uiteindelik tot duidelike en onaansienlike plooitjies rondom jou mond lei (en jou rookgeheim verklap).

Is daar enige lig in die tonnel? Ja! Wanneer jy jou rokery laat staan, sal jou vel en algehele gesondheid begin verbeter. Jou bloedvloei sal ook verbeter en jou vel sal plomper en minder ontsteek wees, wat beteken dat jy meer stralend sal lyk. Dit is een leefstylverandering wat jy nooit sal berou nie en waarvoor jou lyf jou ewig dankbaar sal wees.

FOTO: iStock/martin-dm

LEES OOK:

5 slim maniere om jou gesondheid ’n hupstoot te gee

4 verrassende oorsake van veroudering

3 geheime vir ’n mooi vel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Week 15: Elmari se weeklikse Banting-dieetdagboek

Volg die gewigsverliesverhaal van GH se senior Afrikaanse redakteur, Elmari Potgieter, waarin sy die hoogte- en laagtepunte en alles tussenin...

Close