×
Skakel na Engels

Wat om te doen wanneer jy padwoede het

Dis soos ’n bom wat stadig tik … en tik …
padwoede

Hulle sê die lewe is tien persent wat jy ervaar en negentig persent hoe jy daarop reageer. En kom ons wees eerlik, ons almal het al iets van padwoede ervaar. Soos hulle sê – enige iemand wat stadiger as jy ry, is vas aan die slaap, en enige iemand wat vinniger as jy ry, is ’n jaagduiwel.

Maar daar kom ’n dag wanneer jy wakker word en besef dat jy met ’n klomp woede en irritasie teenoor mede-padgebruikers rondry – en dat dit te veel raak. Dan is dit tyd om te verander. 

Eerstens, wat is padwoede?

Padwoede is die onbeheerste drang om ’n ander motor van die pad af te ry. Enigiemand wat al in ’n stad gewoon het, weet hoe dit voel, en die meeste van ons het al daaraan toegegee. Maar dis nie jy nie – dis húlle.

Hierdie mense steur hulle nie aan konstruksietekens nie en is nooit betyds in die regte baan nie. Dan probeer hulle voor jou inwurm. Hierdie mense sit en twiet nadat die lig groen geword het. Hulle staar onsiende deur die venster in plaas van om te kyk wat hulle doen. Wanneer jy hulle verbysteek, gee jy hulle ’n vuil kyk – om te sien of hulle so belaglik lyk as wat hulle bestuur.

Daar is ’n goeie kans dat jy van die gaafste mense in die wêreld die allerverskriklikste dinge genoem het. Dit is wat verkeer aan jou doen. Sommige mense kry selfs padwoede wanneer hulle ’n Pick n Pay-waentjie stoot. Een tydsame persoon is genoeg om die illusie te vernietig dat jy ’n goeie mens is. Kafeïene en woede is jou brandstof.

Hierdie mense weet nie wat om by ’n vierrigtingkruising te doen nie. Hoekom bly hulle nie eerder by die huis nie? Wanneer jy stadiger ry om vir iemand plek te maak en hulle wuif nie ’n dankie nie. Wanneer die motoris voor jou sonder rede gedurig rem trap  . . . Wanneer hulle teen hoë snelhede deur die verkeer vleg, net om saam met jou by die volgende rooi lig stil te hou.

Hierdie mense versnel, sny jou af en ry dan skielik stadiger. Voetgangers slenter tydsaam oor die straat terwyl hulle jou in die oë kyk.

Padwoede is soos ’n bom wat tik … en tik … en skielik is dit net daar. ʼn Verblindende woede.

Hoe om mense te hanteer wat nie kan bestuur nie

Karen van Zyl van die Anger & Stress Management Centre in Kaapstad deel ’n paar noodsaaklike wenke met ons. Volgens Van Zyl word die veg-of-vlug-instink deur ’n adrenalienvrystelling geaktiveer wanneer ons voel dat iemand iets onaanvaarbaar op die pad gedoen het. Dit gebeur gewoonlik vinnig en onverwags.

“Die reaksie kan irrasioneel en instinktief wees,” sê Van Zyl. “Verhoogde stresvlakke speel ook ’n rol, sowel as dinge soos lae bloedsuiker en te min slaap.” As mense het ons van nature ” ’n oog vir ’n oog”-mentaliteit. As jy byvoorbeeld in die middel van ’n draai van baan verander, voel ek my genoop om dieselfde aan jou te doen.

“Ons moet gedurig op ons toleransievlak let,” sê sy. As jy vir elke klein dingetjie iemand se kop wil afbyt, gaan jy kort voor lank seerkry of dalk selfs met die gereg bots.

Hier is ’n paar dinge om te onthou wanneer jy jou woede voel opbou:

1. Jy kan nie iemand anders se gedrag verander nie, net jou eie.

2. Berei jou geestelik voor op die rit. Besef vooraf dat ’n ander bestuurder iewers iets gaan doen wat jou kwaad maak.

3. Luister na rustige musiek of ’n oudioboek of leer ’n taal.

4. Probeer om vrede te maak met die status quo.

5. Sommige mense steur hulle nie aan die padreëls nie, maar dit is nie in jou beheer nie.

6. Ons almal wil net deur die lewe kom, en dikwels waag ons simpel kanse en neem ons dwase besluite.

7. Asem in, asem uit, herhaal.

8. Moenie alles so persoonlik opneem nie.

Hoe om mense te hanteer wat dink jý kan nie bestuur nie

Jy is halfpad huis toe wanneer jy besef dat jy in jou eie wêreld is en glad nie op die pad gekonsentreer het nie. Hoe het jy in een stuk tot hier gekom? Hoe het jy ’n lisensie gekry? Daar is ’n Toyota Hilux met ’n Vrystaat-nommerplaat agter jou en die bestuurder lê op die toeter. Wanneer jy stilhou, klim die man uit sy bakkie.

Mense kan baie onvoorspelbaar wees. “Die algemene reël is: veiligheid eerste,” sê Van Zyl.

1. Moenie reageer nie en probeer om nie oogkontak te maak nie.

2. As die persoon jou volg, ry tot by die naaste polisiekantoor of openbare plek.

3. As daar niemand anders is nie, moenie aftrek nie.

4. ’n Mens kan nie met ’n woedende persoon redeneer nie; wag totdat hy of sy bedaar het.

5. Onthou, hulle funksioneer nou op ’n irrasioneel emosionele vlak.

6. Die beste wenk? Wees ’n bedagsame bestuurder. Behou jou volgafstand, moenie in die vinnige baan aankruie nie en moenie toelaat dat jou woede die oorhand kry nie.

Goeie maniere kan jou lewe red.

Uit: WOW

FOTO: iStock/Antonio_Diaz

LEES OOK:

6 wenke om jou motor vir die lente op te kikker

Die 10 bekostigbaarste motors in SA

Tien maniere om rugpyn te keer wanneer jy reis

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

Hoe om op hierdie onaangename uitgawe te bespaar

Close