×
Skakel na Engels

Wat om te doen as jy by die werk afgeknou word

Wat jy van afknouery by die werkplek moet weet. Deur Judith Torner
afknouery

Afknouery affekteer nie net kinders en tieners  nie – trouens, dit is verrassend algemeen in die werkplek.

Of dit nou snedige aanmerkings, vuil kyke of doelbewuste onbehulpsaamheid is, dit kan die slagoffer skaam, onseker en geïsoleerd laat voel.

As ’n sielkundige en sakeafrigter in Brittanje sê Aryanne Oade: “Dit gebeur ongelukkig meer as wat ’n mens sou wou dink. Ek is geneig om te dink dat daar in die meeste groot organisasies waarskynlik een persoon is wat boeliegedrag toon.”

En die statistieke staaf dit. Volgens navorsing aan die Portsmouth University is 80% van bestuurders in Brittanje bewus daarvan dat afknouery in hul werkplek plaasvind. Verder is 52% vroue die afgelope drie jaar by die werk geboelie of geteister.

Dit is dus nie vreemd om deur ’n boelie geteiken te word nie. En volgens statistieke is dit nie ’n skande nie; dit is geweldig algemeen. Wat ons wel kan doen, is om te leer hoe om afknouery in die werkplek te keer en hoe om daarvan te herstel.

Word jy geboelie?

Dit is maklik om te voel dat jy onregverdig behandel word, maar as jy voel dat die situasie in ’n afknouery ontaard het, moet jy dit kalm evalueer. Dink mooi wat die gedrag behels, asook wanneer en hoe dit begin het.

Roslind Toynbee, ’n direkteur van The Career Coach in Brittanje, sê: “Daar is mense wat bedreig voel deur kollegas wat by die werk presteer, en wat dit geniet om hulle te verneder. Die meeste mense het egter waarskynlik net ’n baie slegte dag gehad. Om afknouery te identifiseer moet jy ’n onderskeid tref tussen dit wat konstant is en dit wat eenmalig op jou gerig is.”

Toynbee onderskei ook tussen afknouery en teistering. Laasgenoemde is wanneer daar “op grond van jou ras, jou agtergrond of jou seksualiteit op jou gepik word. Daar is sekere kategorieë van teistering, en aangesien dit onwettig is, sal jou saak in daardie situasies vanselfsprekend baie sterker wees.”

Volgens Oade vind afknouery plaas wanneer ” ’n kollega probeer om jou van jou persoonlike mag te ontneem en daardie beheer vir hulself te neem. Die soort mag wat hulle van jou af wil wegneem, kan jou persoonlike mag, jou invloed en/of jou status in die organisasie wees.

“Die gevolg is dat jy aan aggressie by die werk blootgestel word, of dit nou openlik en ooglopend is, of subtiel en indirek, en dit beïnvloed jou selfbeeld, jou vermoë om te konsentreer en werk van ’n goeie gehalte te lewer.

“Ek dink mense word op drie maniere deur afknouery geaffekteer. Mense wat suksesvol geteiken word, dink en voel anders oor hulself, tree anders op, en verloor hul geloof in hulself,” sê sy.

Volgens Oade kan jou selfbeeld en selfvertroue ’n ernstige knou kry, en kan dit daartoe lei dat jy angstige denke het, sukkel om dieselfde gehalte werk as voorheen te lewer, skaam voel omdat jy jouself nie kan beskerm nie, en geïsoleerd voel, veral as daar niemand is met wie jy die situasie kan bespreek nie. 

Leer en herstel

Eerstens moet jy weet dat jy nie alleen is nie.

As afrigter beveel Toynbee aan dat jy met iemand na aan jou gesels, ’n vriend, ’n kollega of selfs ’n bestuurder by die maatskappy. “Jy moet ten alle koste nie geïsoleerd wees nie,” sê sy. “Praat met ’n betroubare persoon in die organisasie of ’n goeie vriend/in of selfs iemand van die werknemerhulpprogram.

“Vertroulike beradingsdienste is dikwels in die werknemerhulpprogram beskikbaar; dit is heeltemal gratis en daar word nie aan die bestuurder teruggerapporteer nie.”

Die volgende stap is om deur die gebeure te werk. Dink aan hoe dit jou laat voel het en identifiseer hoe dit begin het. Oade sê: “Ek praat van gereedmaking [vir afknouery], want almal wat al geteiken is, kan ’n oomblik of ’n insident onthou toe die persoon wat hulle boelie hulle as’t ware begin voorberei het op wat volg.

“Mense wat dit moeilik vind om selfversekerd op te tree, is meer geneig om geteiken te word,” voeg sy by, “maar enigiemand kan afgeknou word, selfs selfversekerde en eiewys mense.” Oade glo dat selfversekerdheid, taaiheid en selfvertroue aangeleerde vaardighede is. So ook die vermoë om jouself tydens ’n aanval te beskerm en effektief op ’n boelie te reageer. Sommige mense sal haar boek Free Yourself from Workplace Bullying uiters waardevol vind as ’n gids om gedrag te identifiseer wat tydens ’n aanval toegepas kan word, en hoe om ná afknouery te herstel. Ander kan dit oorweeg om ’n lewensafrigter of sielkundige te raadpleeg.

“Baie van die mense waarmee ek werk, se selfbeeld en selfvertroue is ná die tyd beter as voordat hulle geteiken is,” sê Oade, en deel hierdie drie noodsaaklike punte:

  • Leer hoe om in jou eie vermoëns te glo, want dit is ’n baie effektiewe beskerming teen afknouery.
  • Besef dat daar nie waarheid in afknouers se woorde steek nie; dit is ’n taktiek wat daarop gemik is om jou te ondermyn. Hierdie wete sal jou help om boelies se woorde anders op te neem, en die invloed daarvan op jou verminder sodat jy die vermoë het om effektief tydens ’n aanval te reageer.
  • Besluit self wat waar en wat onwaar is, en moenie toelaat dat jou persepsie van jouself deur afknouery verander word nie.

Maar … moet ek dit rapporteer?

Rachel Suff, ’n arbeidsverhoudingkonsultant van Brittanje verduidelik dat die “wetlike standpunt betreffende afknouery ’n komplekse saak is aangesien daar nie afsonderlike wetgewing bestaan wat uitsluitlik op werkplekafknouery gerig is nie.

“Afknouery kan deel van diskriminerende gedrag wees, of verband hou met ’n verskeidenheid regsbeginsels en spesifieke wette, soos die gemeenregtelike verpligting van ’n werknemer om na werkers se veiligheid om te sien. In terme van ’n regsaak of indiensnemingstribunaal, is dit belangrik om die besonderhede van elke afsonderlike geval te ondersoek,” sê sy.

Toynbee stem saam dat dit van die situasie, die maatskappy en die persone self, die geteikende persoon sowel as die boelie, afhang. Eerstens sal elke maatskappy ’n unieke stelsel vir hierdie gevalle hê. Dit is noodsaaklik om eers uit te vind hoe om dit korrek te hanteer, en dan te besluit wat jy daaraan gaan doen.

Albei is dit egter eens dat dit uiters belangrik is om alles wat gebeur het, op skrif te stel, met aanhalingstekens wat aantoon wat die betrokke partye gesê het, sowel as tye en datums.

Om afknouery te rapporteer is ’n baie persoonlike besluit. Soos Oade sê: “As kliënte dit wil rapporteer, bespreek ek die moontlike opsies met hulle asook die implikasies wat so ’n ondersoek vir hulle persoonlik kan inhou.

“Maar ek dink, en ek sê altyd, dat dit ’n risiko kan wees om afknouery te rapporteer. As die boelie aansienlike gesag of invloed of kontakte in senior posisies het, kan dit moeilik wees om ’n klag in te dien.”

Dit kan baie spannend wees as die boelie jou bestuurder of iemand in ’n baie invloedryke posisie is.

Toynbee sê egter: “As dit vir ’n geruime tyd voortduur en ander mense daarby betrokke is, dink ek dit is toepaslik om dit na menslike hulpbronne te neem. Jy kan bemiddeling aanvra; jy kan ’n klag inlewer … daar is verskeie opsies. Moet egter nie onderskat hoe spanningsvol dit kan wees nie.”

Suff sê dit is die maatskappy se verantwoordelikheid om na hul werknemers om te sien. Ongelukkig is dit nie altyd die geval nie. En volgens Oade is dit altyd beter om selfbeskermende vaardighede aan te leer indien jy deur ’n boelie geteiken word sodat jy jou selfbeeld kan verdedig, jou mag kan behou en weet hoe om jouself te beskerm.

As jy dan selfversekerd en sterk genoeg voel om dit te hanteer en wil voorkom dat die boelie dit weer doen, is dit ’n opsie wat jou nie net gemoedsrus sal gee nie, maar ook ander mense sal beskerm.

Bron: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/Wavebreakmedia

LEES OOK:

6 tekens van aanlyn teistering

Praat só om konflik te vermy

4 dinge wat konflik jou kan leer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Is ’n loopbaan in musiek ’n goeie opsie vir jou kind?

As ’n ouer wil jy hê dat jou kinders nie net ’n lonende beroep moet kies nie, maar ook iets...

Close