×
Skakel na Engels

Wat jy van sponsrollers moet weet

Hetsy jy reeds ’n groot aanhanger of bloot nuuskierig is, hier is vier basiese beginsels wat jy moet weet voordat jy ’n sponsroller gebruik
sponsroller

Sponsrollers is vinnige besig om ’n noodsaaklike deel van gimgangers se opwarm- en herstelroetine te word. Dié sponsagtige silinders word gebruik om spannings- of snellerpunte in jou lyf te masseer om spierstyfheid en pyn te verlig. Die langtermynvoordele sluit in beter sirkulasie, meer soepelheid, beter spinale gesondheid en minder stres.

“Volgens die Amerikaanse raad vir oefening kan die voordele vergelyk word met dié van ’n massering, want terwyl jy oor die sponsroller rol, word veselagtige weefsel afgebreek en jou sirkulasie verbeter wat help om styfheid en pyn te verlig,” sê Virgin Active se nasionale produkontwikkelingsbestuurder, Ceri Hannan.

Hier is alles wat jy van sponsrollers moet weet:

1. Kies die regte roller

Ekstraferm, digte rollers is ideaal vir vinnige verligting vir spiere wat baie styf is, terwyl sagter en minder digte rollers gemaak is om meer gereeld en oor langer tye gebuik te word. Die nuutste rollers het duikies op die oppervlak om snellerpunte te teiken. 

2. Weet wanneer om een te gebruik

“Daar is ’n algemene wanindruk dat sponsrollers vir opwarming gebruik kan word, maar dit laat jou spiere verslap, wat nie noodwendig die beste ding is om voor ’n oefensessie te doen nie,” sê Hannan. Doen dit eerder nadat jy geoefen het, wanneer jou spiere warm is. Of gebruik dit saans voordat jy gaan slaap. Dis ’n goeie manier om ná ’n lang dag te ontspan, selfs al het jy nie geoefen nie.

3. Vat dit rustig

Hannan waarsku dat jy nie kort, vinnige bewegings oor die roller moet doen nie, aangesien dit beserings of inflammasie kan veroorsaak. Bestee minstens 60 sekondes op elke stywe deel, rol stadig en pas die druk aan as jy meer verligting verlang. 

4. Let op jou postuur

Dis belangrik om goeie vorm te behou terwyl jy sponsrolleroefeninge doen, want slegte postuur kan tot beserings lei of spierstyfheid vererger. Dis beter om ’n persoonlike afrigter te vra om jou te wys hoe om dit te gebruik, of kyk sommer in die spieël of jy dit reg doen.

FOTO: iStock/SrdjanPav

LEES OOK:

Die beste kos om voor en ná oefening te eet

Tuis-oefenprogram vir paartjies

8 gratis oefenvideo’s op YouTube wat jou lewe sal verander 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Is jy besig om ’n dubbelken te kry? Keer dit só!

Hou die vel op jou nek en ken mooi ferm

Close