×
Skakel na Engels

Wat jy moet weet as jy in ’n motorongeluk is terwyl jy vakansie hou

Oorweeg hierdie belangrike riglyne voordat jy jou vakansietas pak en in die pad val. Deur Caira-Lee Durand.
motorongeluk

Hoewel ongelukke ’n onafwendbare deel van die lewe uitmaak, is dit onmoontlik om te voorspel wanneer so iets jou te beurt gaan val. En terwyl dit een ding is om onkant gevang te word wanneer jy op jou eie turf is, is dit ’n ander storie om die nadraai van ’n botsing te hanteer wanneer jy ver van die huis af is.

Suid-Afrikaanse paaie is op hul besigste oor Desember en met vakansiegangers wat regmaak om ’n welverdiende blaaskans te gaan geniet, is die kans op ’n padongeluk aansienlik groter. Dit is dus belangrik om voorbereid te wees indien so iets sou gebeur.

Ons stel voor dat jy die volgende belangrike riglyne in gedagte hou voordat jy jou vakansietasse pak en in die pad val:

Hou jou belangrike inligting byderhand

Inligting is deurslaggewend in geval van ’n ongeluk, en daarom is dit van kardinale belang dat jy jou rybewys en tersaaklike identifikasie ten alle tye by jou hou. Wanneer jy weg van die huis is, is dit ook raadsaam om ’n bewys van adres byderhand te hê – jou tydelike sowel as permanente verblyf – om die eisproses te vereenvoudig en te versnel.

Maak ook seker dat jou rybewys en motorlisensie steeds geldig is en dat jou motor padwaardig is voordat jy groot afstande aflê.

Lees die fynskrif

Diegene wat ver van die huis af gaan vakansie hou, beplan moontlik om ’n motor te huur. En hoewel dit ’n baie gerieflike opsie is, kan dinge in geval van ’n ongeluk of diefstal baie gekompliseerd raak. Dit is dus noodsaaklik dat jy die voorwaardes van jou huurooreenkoms en motorhuurdekking verstaan voordat jy agter die stuur inskuif.

Verder moet jy in gedagte hou dat motorverhuringsmaatskappye nie versekering kan verskaf nie; in geval van skade of verlies is dit dus onmoontlik om enige vorm van aanspreeklikheid te vermy. Wat hulle wel verskaf, is ’n kwytskeldingsklousule wat jou aanspreeklikheid tot ’n sekere bedrag beperk.

Net soos by ’n versekeringspolis sal daar van jou verwag word om ’n bybetaling van tussen R3 000 en R14 000 aan die motorverhuringsmaatskappy te betaal indien dinge skeefloop, afhangende van die kwytskeldingsklousule wat jy gekies het. Indien jy die kwytskelding van die hand wys, sal jy vir alle skade verantwoordelik gehou word; maak dus seker dat jy weet wat jy teken en nié teken nie.

Wat is uitgesluit?

Om ’n kwytskeldingsklousule te kies, beteken nie dat jy in alle omstandighede van verantwoordelikhede vrygestel is nie. Baie motorverhuringsmaatskappye sal ’n kwytskeldingsklousule nietig verklaar indien die motor op slegte paaie of in onveilige areas bestuur is. Dit is ook onwaarskynlik dat jy in geval van roekelose of dronk bestuur gedek is, of as jy in ’n ongeluk is waar daar nie ’n derde party betrokke is nie.

Lees ook: Wanneer is dit tyd om op te hou bestuur?

Weet wat jou te doen staan

Indien jy in ’n ongeluk betrokke is, is dit belangrik om die toneel so volledig moontlik te dokumenteer. Neem dus foto’s sodat jy jou eis kan versterk. Sorg ook dat jy die owerheid in kennis stel en maak seker dat jy al die relevante kontakbesonderhede van die derde party en enige getuies neerskryf.

Jy moet ook jou eie versekeringsmaatskappy in kennis stel dat jy in ’n ongeluk was, al gaan jy nie ’n eis teen jou eie polis indien nie. Dit is belangrik om te besef dat jy verantwoordelik is vir die bedrag wat nie deur die kwytskeldingsklousule gedek word nie, al het jy nie die ongeluk veroorsaak nie.

En alhoewel die versekeraar die bedrag van ’n derde party sal probeer verhaal, is dit nie altyd moontlik nie, veral nie as hulle nie verseker is nie.

En as dit jou eie motor is?

As jy met jou eie motor gaan vakansie hou, is dit net so belangrik om te weet wat gedoen moet word om te verseker dat jou eise toegestaan word. Dokumentasie is altyd ’n vereiste, maak dus seker dat jy soveel moontlik daarvan bekom en sorg dat jy die owerheid sowel as jou versekeraar onmiddellik kontak in plaas daarvan om dit tot ná die vakansie te los.

Al is jy met vakansie en is administrasie die laaste ding waarvoor jy krag het, is dit belangrik om jou eise onmiddellik in te dien. Hoe vinniger jy dit doen, hoe kleiner is die kans dat jy belangrike feite sal vergeet of oor die hoof sien. Gelukkig is dit vandag moontlik om jou eise aanlyn in te dien, dus kan jy langdradige oproepe en eindelose papierwerk vermy, en sonder te veel omhaal verder vakansie hou.

Onthou, wanneer dit by vakansie-ongelukke kom, is kennis mag. Maak dus seker dat jy jou regte en verantwoordelikhede ken sodat jy die finansiële impak van enige onvoorsiene rampe kan versag.

Van: WOW

FOTO: iStock/tommaso79

LEES OOK:

Is jou motor gereed vir die feestyd?

10 gewoontes van ’n goeie bestuurder

Tien maniere om rugpyn te keer wanneer jy reis

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jou sterre Desember 2017

Tracy Shaw kyk na wat jou voorspellings vir dié maand inhou

Close