×
Skakel na Engels

Wat elke nuwe ma van skildkliersiekte moet weet

Sou jy kon agterkom of jou baba ’n onderaktiewe skildklier het? Hier is wenke wat kan help

Hipotiroïdisme – ’n toestand waar die skildklier te min tiroïedhormone vervaardig – kan pasgebore babas raak, en as dit nie opgespoor of behandel word nie, kan dit jou kind se ontwikkeling in wisselende grade van erns beïnvloed. Hier is insigte in skildkliersiekte van Merck, ’n internasionale farmaseutiese maatskappy.

Hoekom is die skildklier belangrik?

Die skildklier vervaardig hormone wat noodsaaklik vir die liggaam se metabolisme is en ’n belangrike rol in die fisieke groei en ontwikkeling van die sentrale senustelsel en skelet speel.

Wat veroorsaak hipotiroïdisme in babas?

Daar is baie oorsake van hipotiroïdisme, waarvan die belangrikste aangebore hipotiroïdisme is. Dit is wanneer ’n baba sonder ’n skildklier gebore word of die klier weens ’n aantal redes nie die tiroïedhormoon kan vervaardig nie. In gebiede waar die dieet nie genoeg jodium bevat nie, kan babas ook geneig tot hipotiroïdisme wees. Sedert 1995 word tafelsout in Suid-Afrika gejodeer om hipotiroïdisme weens ’n jodiumgebrek te beveg.

Daarby kan ’n ongebore fetus en die pasgebore baba beïnvloed word wanneer ’n ma gedurende haar swangerskap aan skildkliersiekte ly. Dit is daarom belangrik dat ’n fetale ultrasonografie gedoen en die pasgebore baba deur ’n pediater ondersoek word.

Wat is die simptome?

Simptome sluit verminderde aktiwiteit, ’n groot fontanel, swak voeding en lae gewigstoename, klein liggaamsbou of swak groei, vertraagde ontwikkelingsmylpale, geelsug, hardlywigheid en ’n hees huil in. Die simptome is dikwels nie by geboorte teenwoordig nie en ontwikkel in die eerste paar weke ná geboorte. Sulke babas word aanvanklik as “soet” babas beskou omdat hulle min huil (omdat hulle onaktief is) en baie slaap.

“Toetse vir hipotiroïdisme in babas is so eenvoudig as ’n hakpriktoets, gewoonlik binne twee tot drie dae ná geboorte,” sê dr. Kiran Parbhoo, ’n pediatriese endokrinoloog by die Chris Hani Baragwanath- Akademiese Hospitaal. “Die toets is vinnig en eenvoudig en gee gou resultate, wat dokters en ondersteunende gesondheidsorgwerkers help om vroeg in te gryp deur behandeling toe te pas.”

Die risiko as dit nie behandel word nie

As hipotiroïdisme in ’n baba nie gediagnoseer of behandel word nie, kan dit tot groei- of hartprobleme en later erge intellektuele gestremdheid lei.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ontmoet Maybelline se nuwe woordvoerder

Kyk wie het haar by Maybelline New York se vroue as die handelsmerk se nuutste woordvoerder aangesluit

Close