×
Skakel na Engels

Dís wat die hertog en hertogin van Cambridge dalk hul derde baba gaan noem

Die hele wêreld gons oor baba nr. 3 se naam. Deur Olivia Blair
die hertog en hertogin van Cambridge

Die hertog en hertogin van Cambridge het aangekondig dat hulle hul derde kind verwag. Volgens ’n verklaring deur Kensington-paleis is die paartjie, asook die koningin en ander lede van die koninklike familie, verheug oor die nuus.

En vanselfsprekend het die aankondiging reeds vrae en voorspellings oor die nuweling se naam uitgelok.

Webwerwe het reeds wedsyfers bekend gemaak. Bo-aan die lys dogtertjiename is Alice 8/1 en Elizabeth 10/1 en indien dit ’n seuntjie is, is die kans 10/1 dat dit James sal wees, volgens die beroepswedder William Hill, van Londen, Engeland. Die naam Alice beteken “adellik”. Baie gepas vir ’n koninklike!

Koninklikes is boonop geneig om Engelse name te kies wat ’n adellike geskiedenis het, en Alice is nie ’n uitsondering nie. Koningin Victoria se tweede dogter is Alice genoem en sy was prins Philip se ma – dus prins William se oumagrootjie. Nietemin, voor prinses Charlotte se geboorte was Alice blykbaar ook ’n gunsteling onder wedders, maar die hertog en hertogin het anders gekies.

Lees: 15 foto’s wat wys hoe prinses Diana was voordat sy ’n koninklike geword het

Die naam Elizabeth sal ongetwyfeld ’n invloed van hul oumagrootjie en die heersende monarg wees, en dis boonop Kate se tweede naam. James is weer die naam van verskeie konings, asook dié van Kate se broer en swaer.

Paddy Power se wedsyfer vir Victoria, die naam van die monarg wat die tweede langste geheers het, is 8/1, en Alexandra – ’n tweede naam van die koningin – sowel as Arthur, ’n tweede naam van prins William, is albei 10/1. Dit maak sin dat weddenskap-webwerwe so vinnig betrokke geraak het: Volgens Hill se woordvoerder, Joe Crilly, het die maatskappy met die geboorte van die hertog en hertogin se eersteling, prins George, meer as £1 miljoen gemaak.

Sarah Redshaw van Baby Center het aan Good Housekeeping UK genoem dat die koninklike paartjie moontlik ook die volgende seuntjiename oorweeg: Albert of Bertie, na koningin Victoria se man; Alfie of Alfred, die naam van koningin Victoria se seun en kleinseun; of Henry, die doopnaam van die baba se oom Harry, en natuurlik ook die naam van ’n eens baie bekende koninklike.

Lees: Die Britse koninklikes hou ’n herdenkingsdiens vir prinses Diana

Volgens Paddy Power is Diana ook op die lys met ’n 20/1-kans, ter nagedagtenis aan die hertog se ma, die oorlede prinses van Wallis. Die feit dat dit die twintigste herdenking van haar dood is en albei prinse die afgelope maand by verskeie geleenthede oor Diana gepraat het, kan die naam se kanse moontlik verbeter. Aan die ander kant is dit reeds een van prinses Charlotte se name; ’n herhaling is dus onwaarskynlik.

Die baba se ouer boetie en sussie heet onderskeidelik prins George Alexander Louis (4) en prinses Charlotte Elizabeth Diana (2).

Van: Good Housekeeping UK

Foto: Gallo Images/Getty Images

LEES OOK:

4 skoonheidslesse van wyle prinses Diana

Die gewildste babaname vir 2017

7 fantastiese aanlyn winkels vir oulike ooievaarspartygeskenke

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 skoonheidslesse van wyle prinses Diana

Sy was regtig Brittanje se roos

Close