×
Skakel na Engels

Wanneer is dit tyd om op te hou bestuur?

Wanneer is dit tyd om op te hou? Hier is ’n paar rooi ligte … Deur Caira-Lee Durand
bestuur

Namate ons ouer word, reageer ons liggaam nie meer soos voorheen nie, en dit kan sekere take, veral bestuur, bemoeilik. Alhoewel daar baie ouer persone is wat sonder probleme rondry, is daar diegene wat moet ophou bestuur voordat dit te gevaarlik raak.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Waarskuwingstekens: Tyd om op te hou

Sekere gesondheidstoestande of medikasies kan dit moeiliker maak om te bestuur. Al voel jy steeds gemaklik agter die stuur, is dit dalk nie veilig genoeg om jou ongeluksvry te hou nie. Wees op die uitkyk vir hierdie rooi ligte:

1. Jy verdwaal op plekke wat jy vroeër goed geken het.

2. Jy het al hoe meer noue ontkomings op die pad.

3. Jy kry al hoe meer verkeersboetes.

4. ’n Onvermoë om sirenes of ander padgeluide te hoor.

5. ’n Onvermoë om padtekens te sien of te lees.

6. Jy ondervind probleme met basiese padreëls soos om vinnig van baan te verander, ’n sitplekgordel te dra, verkeersligte en padtekens te gehoorsaam.

7. Onthou, sekere medikasies het newe-effekte wat dit onveilig maak om te bestuur, soos lomerigheid. As jy nie wakker genoeg voel om dit tot by jou bestemming te maak nie, behoort jy nie te bestuur nie. Wag totdat die lomerigheid verby is of vra iemand anders om jou te neem.

Lees: Só moet jy by ’n polisiepadblokkade optree

Wenke vir veilige bestuur

Persone wat bestuur, behoort ekstra voorsorg te tref om hulle eie veiligheid, sowel as dié van ander padgebruikers, te verseker. Maak altyd seker dat jou motor in ’n goeie toestand is. Meganiese probleme kan dit onveilig maak om te bestuur terwyl beskadigde bande dikwels die direkte oorsaak van ongelukke is.

Bestuur slegs in toestande waarmee jy gemaklik is; donker of reënerige toestande verg ekstra inspanning. As jy nie meer daarvan hou om op snelweë te bestuur nie, gebruik agterpaaie indien moontlik, en moenie te ver van die huis af ry nie. Bestuur verantwoordelik en maak seker dat jy ’n veilige volgafstand handhaaf. Indien nodig, kan jy ’n verantwoordelike-bestuurskursus volg om jou geheue te verfris.

Hoe om met geliefde te praat

Wanneer jy hierdie onderwerp met ’n ouer persoon aanroer, doen dit sagkens en met respek. Gee spesifieke voorbeelde. Dit help soms om nog iemand, soos ’n broer of suster, ’n kleinkind of ander geliefde daar te hê om jou te ondersteun en die ouer persoon te laat insien dat jy nie besig is om hom of haar aan te val nie. Bied alternatiewe aan om jou ondersteuning te wys.

Baie plaaslike owerhede verskaf gratis of laekostevervoerdienste aan seniors. Maatskappye soos Uber is ook ’n opsie vir bekostigbare vervoer wat met enige slimfoon gereël en gevolg kan word. Sommige privaat maatskappye bied ’n gratis diens of afslagtariewe aan seniors. Stel ’n lys met opsies op sodat jou geliefdes kan sien dat hulle nie geïsoleerd sal wees nie.

Om op te hou bestuur hoef nie ’n krisis te wees nie. Dit is eenvoudig tyd om ander moontlikhede te ondersoek. Al is dit swaar om van jou vryheid in te boet, is daar heelwat vervoerdienste wat seniors help om onafhanklik te bly. Of jy nou van openbare vervoer gebruik maak, of van ’n diens wat spesiaal op seniors gemik is, en of jy toelaat dat vriende en familie jou rondry, dis steeds moontlik om te kom waar jy wil wees.

Uit: WOW

FOTO: iStock/warrengoldswain

LEES OOK:

7 wenke om jou kinders te help om hul bestuurstoets te slaag

9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

7 beproefde maniere om veilig in die donker te bestuur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Só moet jy by ’n polisiepadblokkade optree

Nuttige raad en wenke oor jou regte as jy dalk afgetrek word . . . Deur Caira-Lee Durand

Close