×
Skakel na Engels

Wanneer geboortevlekke op babas en kinders ‘n bekommernis is

‘n Onverklaarde geboortevlek kan vir ouers ‘n bron van kommer wees. In die meeste gevalle is hulle baie algemeen en hoef jy jou nie te bekommer nie. Deur Claire Lavelle
Geboortevlek

Wat is ‘n geboortevlek? Daar is verskillende soorte, sommige meer algemeen as ander. Die twee vernaamste tipes is eerstens vaskulêre geboortevlekke wat gewoonlik op die kop en nek verskyn (dikwels rooi, pers en pienk, af en toe blou) en deur abnormale bloedvate in of onder die vel veroorsaak word. Tweedens is daar gepigmenteerde geboortevlekke (gewoonlik bruin) wat deur bundels pigmentselle veroorsaak word. Albei kan op enige plek verskyn, insluitend binne die liggaam.

SALM- OF OOIEVAARSVLEK

“Dit is klein, rooi vlekkies wat op die boonste ooglid, voorkop of in die middel van die nekholte verskyn,” sê konsulterende pediater dr. Sunit Godambe, van die Royal College of Pediatrics and Child Health. “Ongeveer 30% van babas word met hierdie soort geboortevlekkies gebore. Die vlek in die nekholte bly gewoonlik terwyl die vlekkies op die voorkop en ooglede ligter word.”

PORTWYNVLEKKE

Om en by drie uit 1 000 kinders word met ‘n portwynvlek gebore. Dit is ‘n plat rooi of pers merkie op die vel wat vanaf geboorte gesien kan word. Mettertyd kan dit verdik en opgehewe raak. “Portwynvlekke ontwikkel as gevolg van ‘n abnormale versameling bloedvate onder die vel,” sê dr. Godambe. “Die probleem is dat daar ‘n soortgelyke struktuur in die brein kan wees wat  stuipe of sametrekkings kan veroorsaak – dit staan bekend as Sturge-Webber-sindroom. Indien daar enige vermoede is dat jou kind daaraan ly, moet hy of sy deur ‘n neuroloog ondersoek word en ‘n breinskandering ondergaan, maar dit is ‘n seldsame toestand. Aangesien portwynvlekke gewoonlik sigbaar is, is ‘n kliniese sielkundige dikwels vanuit die staanspoor betrokke om die ouers – en later, die kind – raad te gee oor die sielkundige hantering van ‘n geboortevlek wat ‘n kind as “anders” uitsonder. Laserbehandeling is suksesvol in die fisieke behandeling van ‘n portwynvlek, en kinders kan dit van kleins af ondergaan. Portwynvlekke is minder geneig om by volwassenes te groei (hulle kan bulterig en knobbelagtig raak) as laserbehanding ontvang is.”

Lees ook: Wanneer om ’n dermatoloog te besoek

BLOU MONGOLEVLEK

“Hierdie vlekke kom algemeen by Mediterreense en Asiatiese kinders voor en verskyn gewoonlik op die laerug en bene,” se dr. Godambe. “Hulle is blougrys en is gewoonlik ‘n paar sentimeter in deursnee. ‘n Mongolevlek kan soos ‘n kneusplek lyk, maar is nie gevoelig vir aanraking nie, en raak gewoonlik ligter en verdwyn wanneer ‘n kind puberteit bereik.” Dokters dink dat hierdie soort geboortevlek deur vroeë velselle veroorsaak word wat gedurende swangerskap ontwikkel en diep in die vel vasgevang raak, en nie die gevolg is van iets wat die ma gedoen of nie gedoen het nie.

CAFÉ AU LAIT-VLEK

Hierdie koffiekleurige gepigmenteerde vlekke op die vel is gewoonlik geen rede tot kommer nie. Indien jou kind egter meer as ses vlekke ontwikkel of as hulle meer as 5 cm in deursnee is, behoort jy ‘n dokter te raadpleeg, sê dr. Sunit. “Die rede hiervoor is dat hulle met ‘n toestand genaamd neurofibromatose geassosieer word, wat veroorsaak dat gewasse in ‘n latere stadium op senuweeweefsel groei. Jou huisdokter sal jou na ‘n pediater of dermatoloog verwys vir waarneming en, indien nodig, behandeling.”

LEES OOK:

Uit: Netdoctor

FOTO: iStock/stock_colors

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Behoort jy foto’s van jou kinders op Facebook te plaas?

Die gemiddelde ouer plaas 1500 foto’s van hul kind aanlyn voordat hulle vyf jaar oud is. Deur Izzy Capelin

Close