×
Skakel na Engels

Vyf wenke hoe om dié winter gesond te bly

Dis nie nodig om dié winter te gaan hiberneer nie. Dié staatmaker-strategieë sal jou beskerm en help om gesond te bly terwyl ander rondom jou siek is.

Dis weer tyd vir griep, verkoues, maaggoggas en al daardie krankhede wat so maklik versprei as die seisoene draai. Maar moenie by voorbaat moedeloos raak nie. Vanjaar kan jy meer doen as om net jou hande te was (in onskuld ook!) en jou vingers te kruis.
Hier volg wat jy kan doen om ’n geniesery, maagskete en griep wat jou op jou rug plattrek, te vermy:

1. Drink ’n vitamien D-aanvulling met ontbyt

Vitamien D versterk die werking van immuunselle wat soos ’n voering aan die binnekant van longe lê om virusse te bestry.

2. Slaap minstens sewe ure snags

’n Goeie nagrus gee jou nuwe lewe en verminder die kanse dat jy met ’n seer keel, hoes of loopneus sal opstaan. Té min slaap verswak die werking van die immuunstelsel se natuurlike witbloedsel-vegters met tot 30%, het ’n studie aan die Karolinska Institute in Stockholm, Swede, bevind.

3. Hou suigtablette wat sink bevat, in jou lessenaar se laai

As jy een hiervan suig sodra jy begin snuif (dis hoekom jy dit byderhand moet hou) sal jou verkoue nie so lank duur nie en ook minder kwaai wees, het nuwe navorsing bevind.

4. Was dat die seepskuim staan

Die ontsmettingsjel in jou handsak doen ’n goeie werk om bakterieë en seisoenale virusse wat verkoues en griep veroorsaak, te vernietig. Maar dit het kwalik ’n uitwerking op die norovirusse (baie geharde virusse) wat tot maaggriep lei. Maak jou hande nat, smeer seep aan en vryf dit vir minstens 20 sekondes teen mekaar en spoel dan jou hande met warm water af.

5. Bring die spuitnaald – kry jou griepinspuiting nóú

Hoewel ’n griepentstof geen waarborg is dat jy nié verkoue sal kry nie, verminder dit jou kanse daarvoor meer as enigiets anders wat jy kan doen om gesond te bly.

 

Lees hier hoe koejawels jou die winter kan help gesond bly.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 maniere om jou kosdrange te kortwiek

Leer hoe om jou gepeusel te beheer en by jou voornemens te hou om ’n gesonde dieet te volg

Close