×
Skakel na Engels

Vyf maklike maniere om geel vlekke van jou naels te verwyder

Jou naels sal so mooi lyk, jy sal nie eens ’n manikuur nodig hê nie!
geel vlekke

Manikure is fantasties, maar net so is natuurlike mooi naels! Laasgenoemde kan ’n bietjie moeilik wees as jou naels vol geel vlekke is. Hier is vyf maklike wenke om jou naels op hul beste te laat lyk sodat jy ’n blaaskans van manikure kan neem:

1. Wend ’n basislaag aan

Goed, dis meer voorsorg as nasorg, maar nogtans belangrik. Jy dink dalk ’n basislaag is een van daardie produkte wat gemaak is om jou sover te kry om eenvoudig nóg ’n naelproduk te koop, maar dit help nie net om jou manikuur langer te laat hou nie, dit keer ook vlekke. Baie naelkleure, veral donkeres, kan merke op jou naels los, maar ’n basislaag sal dit voorkom.

Lees: 5 maniere om jou naels te versterk

2. Poets dit blink

As jy enige verkleuring op jou naels merk wat jy weet deur naelpolitoer veroorsaak is, is die beste manier om dit te verwyder deur die boonste laag liggies af te poets. Oppas egter om te veel af te vyl, want dit sal jou naels verswak.

3. Probeer suurlemoensap

Suurlemoensap is ’n kragtige en natuurlike suur wat uitstekend werk om vlekke te verdof en naels na hul oorspronklike kleur te verbleik. Sny ’n suurlemoen middeldeur en vryf elke nael vir 30 tot 60 sekondes in die vrug se vlesige deel. Spoel af en wend ’n bevogtigende handeroom aan.

Lees: Hou só op om jou naels te kou

4. Skrop dit met verbleiking-tandepasta

As jy ’n nuwe vlek opmerk, sal dié truuk wondere verrig! Om pienk merke van jou naels te verwyder wat deur rooi naellak veroorsaak is, gebruik ’n naelborsel en skrop jou naels met verbleiking-tandepasta. Jy sal sien hoe die vlekke begin vervaag. Dis nie so doeltreffend op ouer vlekke nie, maar dit werk soos ’n bom op nuwes.

5. Gebruik teeboomolie

Nie alle naelvlekke is as gevolg van naelpolitoer nie; soms kan dit weens ’n swaminfeksie wees. Gelukkig kan dit ook met middels uit jou medisynekassie reggedokter word! Wend ’n paar druppels teeboomolie aan elke nael aan en laat dit vir ’n paar minute werk voordat jy dit met warm water afspoel. Doen dit twee keer per dag vir ’n paar weke en jy sal fantastiese resultate sien.

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

5 maniere om ’n manikuur te laat hou

5 dinge wat jou naels oor jou gesondheid sê

100 jaar van naelkuns wat jou volgende manikuur sal inspireer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Manikuur vir ’n goeie doel: Aktivisme deur naelkuns

Laat jou vingers die praatwerk doen!

Close