×

Vuurwerke en jou troeteldiere

Diwali en Guy Fawkes kom binnekort, en al is ons dol oor die vierings en die pragtige vuurwerkvertonings, reageer troeteldiere anders

 

Die feestyd is amper hier. Lees hier hoe jy jou troeteldiere kan help om die geraas van vuurwerk te hanteer

Dramatiese en harde, onverwagse geluide kan troeteldiere ontstel en hulle angstig maak. Hulle kan verward en bang raak en dan weghardloop. Die Vereniging vir die Troeteldierkosbedryf van Suider-Afrika (PFI) het ’n plan van aksie vir troeteldiereienaars oor die land heen saamgestel in ’n poging om ons troeteldiere veilig en gemaklik te hou.

1. Beplan jou skedule rondom al die vierings sodat jy kan verseker dat jy saam met jou troeteldiere by die huis is wanneer dit lyk of die wêreld daar buite ontplof.

2. Tref spesiale voorsorgmaatreëls om hierdie tye vir jou troeteldiere makliker te maak:

  • Hou hulle veilig binnenshuis met genoeg kos en water.
  • Bly by hulle om hulle te troos en liefde te gee, en speel speletjies met hulle as hulle wil om dit ’n positiewer ervaring te maak.
  • Speel strelende musiek om die skrikwekkende geluide buite te probeer uitskakel.
  • Oorweeg dit om ’n ThunderShirt te gebruik. Dit is ’n styfpassende baadjie wat diere help om minder angstig te voel.
  • Gee kalmerende medikasie indien nodig (vra jou veearts raad). Dit kan ook in ander stresvolle situasies nuttig wees.

3. Berei ’n veilige ruimte vir jou troeteldiere voor waarheen hulle kan gaan as die stres te veel vir hulle is. Hulle sal die plek kies; dikwels in ’n hoekie. Kyk waarheen hulle gaan wanneer hulle gespanne raak en berei vir hulle ’n gerieflike bed voor met water naby.

4. Onthou dat ’n getraumatiseerde dier onvoorspelbaar is. Kry dus hulp van ’n kenner as jy ’n dier in nood wil help.

5. As jy nie in hierdie tyd by die huis kan wees nie, onthou dat die getal rondloperdiere oor hierdie tydperk verhoog, grootliks omdat diere weghardloop om aan die geraas te ontsnap wat vrees, angstigheid, paniek en verwarring veroorsaak. Dié ontsnappingspogings kan dikwels tot beserings lei. Probeer dus verseker dat hulle op ’n veilige plek bly en verwyder artikels wat beserings kan veroorsaak.

6. Simpatiseer met jou troeteldiere en verstaan dat die vuurwerkontploffings wat jy hoor baie meer ontstellend vir ’n dier is. Die klank van vuurwerk kan tot 190 desibel (’n volle 110 tot 115 desibel hoër as die punt waar skade aan die menslike oor begin) wees en dit kan die dier se se veel fyner gehoorsin beskadig. Vuurwerk skep ’n geraasvlak wat hoër as die geraas van geweerskote (140 desibel) en laagvlieënde straalvliegtuie (100 desibel) is. Onherstelbare oorskade, soos oortuiting en gehoorverlies in mense, begin by 80 desibel. ’n Mens kan jou dus net indink watter impak dit op ’n dier se gehoor het, wat veel sensitiewer is.

7. Hou jou troeteldiere ver weg van die vierings. Diere wat te na aan vuurwerkontploffings kom, kan brandwonde en oogskade opdoen.

8. Kry behoorlike inligting oor die algehele uitwerking van vuurwerk en neem dit in ag voordat jy self aan die vierings deelneem. Hoewel vuurwerk pragtig is om na te kyk is die negatiewe uitwerking daarvan op die planeet enorm – behalwe dat dit wilde diere – nie net jou troeteldiere nie – emosioneel erg ontwrig, veroorsaak dit ook lig-, geraas- en lugbesoedeling en dra die weggegooide oorblyfsels by tot ’n reeds ernstige rommelprobleem.

9. Rus jouself toe met inligting oor jou plaaslike munisipaliteit se regulasies en wees voorbereid met ’n eskalasieplan as vierings buite hierdie grense plaasvind.

10. As die ergste gebeur en jou troeteldier raak weg, maak seker jy het ’n plan om hom op te spoor – laat weet die bure, kontak sekuriteitsmaatskappye sodat patrollievoertuie op die uitkyk kan wees, bel nabygeleë veeartse ingeval iemand jou troeteldier daar aflaai, en indien nie, probeer die DBV. Alle troeteldiere behoort met ’n mikroskyfie gemerk te word, en as hulle ’n naamplaatjie met jou foonnommer op het in hierdie hoërisikotye, kan dit vir jou makliker wees om met jou troeteldier herenig te word.

Lees nog: Slim koskeuses vir troeteldiere

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wat om met jou hond te maak wanneer jy met vakansie gaan

Jy het gevra: ‘Ek gaan die vakansie vir twee weke weg, maar iemand moet na my hond omsien. Wat is...

Close