×
Skakel na Engels

Vra jou maat hierdie vrae vóórdat julle trou

Speel oop kaarte voor die groot dag
trou

Om ’n troue te beplan is ’n opwindende (ofskoon ietwat stresvolle) tyd vir paartjies. Julle is verlief en gelukkig en kan nie wag om die res van jul lewe saam deur te bring nie. Maar voordat julle afhaak behoort julle sekere van hierdie onderwerpe te oorweeg wat liefs vóór jul troudag uitgeklaar moet word . . . 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Wil julle kinders hê?

Sommige mense glo dat ’n mens net trou om ’n gesin te hê, terwyl kinders vir ander mense glad nie deel van die prentjie is nie. Is jy seker jy weet hoe jy oor kinders voel? Is jy gelukkig met wat jou maat wil hê? Dis doodnatuurlik om ’n bietjie senuweeagtig oor die “babagesprek” te wees, maar dis nou die tyd om eerlik te wees.

2. Wat gaan ons vir Kersfees doen?

Of vir Paasfees, of enige ander openbare vakansiedag, eintlik. Ons is geneig om te aanvaar – of te wil hê – dat ons die tradisies uit ons kleintyd gaan voortsit. En dikwels voel ons ongemaklik as ons hierdie vakansiedae anders deurbring as waaraan ons nog altyd gewoond was.

Jy gaan dalk ontdek dat jou maat aanneem dat sy of haar ouers altyd gaan oorbly. Of dat jou ouers verwag dat jy en jou maat altyd na hulle toe sal gaan. Dit is belangrik om hierdie dinge vooraf te bespreek sodat julle ’n manier kan kry om al twee se wense in ag te neem.

3. Hou jy van my ouers?

Die meeste ouers koester allerhande ambisies vir hul kinders, en dit geld beslis wanneer dit by ’n lewensmaat kom. Hou jou ouers van die persoon met wie jy van plan is om te trou? En hou jou maat se ouers van jou? Mense is dikwels geneig om draaie om dié netelige vrae te loop, maar dit is nodig dat julle daaroor praat.

Jy en jou maat moet egter ook eerlik wees oor hoe julle oor mekaar se gesinne voel – en gesels oor hoe julle mekaar gaan ondersteun indien een van die ouerpare moeilik is. Baie huwelike trek swaar wanneer argumente plaasvind omdat ons maats hulle eerder by hul gesinne skaar as by ons.

4. Hou lyk jou ideale Sondag?

Een van julle is met hanekraai uit die vere en uit vir ’n draffie of besig om wasgoed te doen terwyl die ander een tot twaalfuur inlê. Dis als goed en wel wanneer julle jonk en pasgetroud is, maar gaan dit op die lange duur vir jou werk?

Dalk voel jy dat jou af dae in ’n waas voor die televisie verbygaan terwyl jy eerder iets interessants sou wou doen. Of dalk wil jy eintlik net slaap en by die huis rondhang terwyl jou maat jou bly druk om winkels toe te gaan of te gaan stap. Dit is ’n goeie idee om ’n openhartige gesprek oor jul vrye tyd te hê om seker te maak dat julle mekaar se behoeftes verstaan.

5. Hoe dikwels gaan julle tyd weg van mekaar deurbring?

Julle het dalk ’n klomp gemeenskaplike vriende, maar wat van jou eie vriende en dié van jou maat? Is jy van plan om ná jul troue steeds ’n drankie saam met jou vriendinne te gaan geniet – soos jy nog altyd gedoen het? Baie mense het sterk opinies oor hoe “getroude mense” moet optree. Maak seker dat jy en jou maat saam ’n besluit daaroor neem.

6. Is jou fiksheid ’n langtermyn-prioriteit vir jou?

Moontlik voel julle dieselfde oor oefening – en dalk oefen julle op die oomblik selfs saam. Gaan dit ’n prioriteit bly as julle eers julle getroud is? En as daar kinders is? Dis altyd goed om te gesels oor hoe julle gaan fiks bly wanneer julle omstandighede en prioriteite verander en julle nuwe uitdagings en pligte het.

Jy kan nie net aanvaar dat jou maat vir lief sal neem as jy Sondagoggende saam met die ouens gaan sokker speel nie. Hy of sy verkeer dalk onder die indruk dat jy daarmee gaan ophou nadat julle getroud is. Maak eerder seker dat julle verstaan wat belangrik en ononderhandelbaar is.

7. Hoe gereeld wil ons met vakansie gaan – en sal ons altyd as paartjie gaan?

Teen die tyd dat julle trou, het julle waarskynlik al ’n paar keer saam gaan vakansie hou, maar mense verander mettertyd. Baie mans hunker na ’n bietjie stilte en afsondering terwyl die idee van ’n spa-naweek saam met vriendinne hoog op baie vroue se wenslysie is.

Is hierdie wense versoenbaar? Is dit julle albei se begeerte om die wêreld plat te reis, of met die jare minder te toer? Dit is ’n goeie idee om jou toekomstige reisplanne te lys om te sien in watter mate dit met jou maat s’n ooreenstem.

8. Sal julle op romantiese afsprake gaan?

Om as paartjie by mekaar uit te kom is nie altyd maklik nie – veral wanneer ’n huispaaiement betaal en kinders versorg moet word. Maar doen julleself ’n guns en gesels voor julle troue oor wat julle gaan doen om as paartjie saam tyd deur te bring. Mans en vroue wat dit doen, is geneig om die romanse en kameraadskap in hul huwelik te behou.

9. Hoe wil julle jul aande deurbring?

Ná die troue voel een maat dikwels dat julle saans meer tyd saam moet deurbring. Dit werk nie altyd nie. As een van julle gereeld later as die ander werk, gaan julle aande saam waarskynlik kort wees. Die maat wat vroeër by die huis kom, kan alleen of verwaarloos voel – al weet hy of sy dat dit ’n onredelike emosie is.

As jý daardie maat is, kan jy dit oorweeg om jou aande op lekker of sinvolle maniere deur te bring; wat van ’n aandklas, ’n besoek aan jou ouers, ’n kuiertjie saam met vriende of ’n sessie by die gim? Sodoende sal jy voel dat jy die tyd goed benut het en sal jy nie so afhanklik van jou maat se geselskap wees nie.

10. Hoe voel jy oor my stokperdjies?

Een van die slagvelde in baie huwelike is die hoeveelheid geld wat aan ontspanningsaktiwiteite spandeer word. ’n Rugby-seisoenkaartjie kan vir een maat ’n onnodige uitgawe wees terwyl die ander dit as ’n noodsaaklikheid beskou.

Of jy vind uit dat al daai dansklasse wat jy neem om fiks te bly, jou maat die harnas in jaag omdat dit soveel tyd en geld in beslag neem. Praat dus oor wat julle doen en van plan is om te bly doen. En maak seker julle albei respekteer die tyd en geld wat aan ’n belangrike stokperdjie afgestaan sal word.

11. Hoe gereeld behoort ons seks te hê?

Dit is verstommend hoe vinnig seks sy prominensie verloor – veral as julle ’n ingewikkelde en duur troue gehad het wat maande, indien nie jare nie, se voorbereiding gekos het. Gesels dus oor hoe julle vir goeie seks gaan tyd inruim – selfs wanneer die wittebrood verby is en julle weer deur die daaglikse sleur ingesluk word. As jy onder die indruk verkeer dat goeie seks spontaan plaasvind, gaan jy ontdek dat dit vinnig ’n taamlik seldsame verskynsel word.

12. Hoe voel julle oor geld?

Deesdae is geld die heel moeilikste onderwerp vir paartjies. Dit is wonderlik as twee mense dieselfde oor besteding voel, maar julle kyk dalk verskillend daarna. Die een is moontlik lief vir geld uitgee terwyl die ander elke sent omdraai.. Maak seker dat julle voor die groot dag tot ’n vergelyk oor jul finansies kom. Argumente oor geld is dikwels bitter en kan baie ongelukkigheid in ’n huwelik veroorsaak.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

9 tekens dat jy in ’n zombie-huwelik vasgevang is

5 geldwenke vir verloofde paartjies

Dít is hoekom ons verloofringe dra

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Tradisionele maar anderste huweliksherdenkinggeskenke

Of dit nou die jaar van katoen, leer of pêrels is, ons het die perfekte geskenkidee!

Close