×
Skakel na Engels

Leer só om transgender kinders beter te verstaan

As jy wil help om ’n samelewing te skep wat transgender kinders aanvaar en vier, sal hierdie reeks video’s en ’n nuwe aanlyn kursus jou help om presies dít te doen
transgender

 

In 2011 was dr. Maya Adam ’n dosent aan die Stanford-universiteit in Kalifornië waar sy ’n kursus oor kindergesondheid aangebied het. Ná een van haar lesse het ’n student na haar toe gestap en haar daarop gewys dat sy ’n belangrike onderwerp uitgelaat het: “U moet ’n les oor transgender kinders se welstand aanbied.”

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Dr. Adam, wie se ma ’n Suid-Afrikaner is en wat tussen Kaapstad en Vancouver in Kanada grootgeword het, sê haar eerste gedagte was: Transgender kinders? Is daar ooit so iets? Sy het toe begin navorsing doen en besef dat dit juis hierdie soort onkunde is wat tot die vyandige omgewing bydra waarin transgender kinders opgroei.

“Ek voel verleë dat ek die eerste 37 jaar van my lewe deel van die probleem was,” sê dr. Adam, wat tans in Suid-Afrika is om ’n Stanford-program bekend te stel. “Omdat hierdie kinders met soveel stigma in die samelewing behandel word – want daar is mos nie ‘iets’ soos ’n transgender kind nie – kan hierdie kinders later geestesgesondheidsprobleme soos angstigheid en depressie ontwikkel. Baie van hulle neem hul eie lewe.”

Dr. Adam het besluit om iets aan die saak te doen; sy wou ’n verskil maak deur aan transgender kinders en hul ouers ’n stem te gee om hierdie kwessies aan te vat.

“As jy jou kan indink hoe dit moet voel om elke oggend wakker te word en te moet voorgee dat jy iemand is wat jy nie is nie, terwyl jy heeltyd dink daar’s iets fout met of siek aan jou omdat jy nie oukei is met die geslag waarmee jy gebore is nie … Wel, dan kan jy verstaan hoekom hierdie kinders en hul ouers so ’n moeilike pad stap,” sê sy.

Die resultaat van dr. Adam se poging om die gaping te probeer oorbrug, is ’n kort, gratis aanlyn kursus wat sy vir Stanford geskep het. Die kursus, wat uit 18 kort video’s en vraelyste bestaan, skep bewusmaking oor transgender kinders se behoeftes. Die kursus neem ongeveer drie uur om te voltooi en bestaan uit drie modules. 

In die video’s – en deur die gebruik van eenvoudige animasiesketse – deel dr. Adam onderhoude met transgender kinders, hul gesinne, asook Stanford-kenners. In die video hier bo – wat “You amaze me every day” getiteld is – vertel ’n transgender kind vir sy ma hoe hy die moed bymekaargeskraap het om vir haar te vertel dat hy eintlik ’n seun is. In ander video’s bekommer ’n toegewyde pa hom oor hoe die samelewing sy kind gaan behandel; die suster van ’n transgender kind vertel hoe sy haar bystaan; en ’n ma praat oor hoe sy wens dat sy beter ingelig was sodat sy haar transgender kind vroeër kon help. 

Dr. Adam sê sy wil graag hê dat onderwysers, ouers en dokters hierdie video’s moet kyk – “trouens, enige iemand wat met kinders werk of kommunikeer en ook mense soos ek wat goedhartig wil wees en die regte ding wil doen, maar dalk nie die nodige inligting het nie”.

“Hierdie gesinne is so baie soos my eie – al wat hulle wil hê, is dat hul kinders moet grootword in ’n wêreld wat sal aanvaar en vier wie hulle is,” sê sy. “Is dit nie maar wat ons almal wil hê nie?”

Jy kan hier vir die kursus aanmeld.

En kliek hier om die reeks video’s te kyk. 

Foto: iStock/IvanJekic

 

LEES OOK:

Word jou kind deur ’n opvoeder geboelie?

Ontdek jou kind se huiswerkpersoonlikheid

50 positiewe goed om vir jou kind te sê

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 geskenkidees vir onderwysers vir minder as R200

Duisend dankies aan al die onderwysers daar buite!

Close