×
Skakel na Engels

Vermy hierdie foute wanneer jy jou hare kleur

Ons het die kenners gevra om ons op hoogte te bring. Deur Sophie Hines
hare kleur

Jou hare is jou kroon, en die feit dat jy ouer word, verander niks daaraan nie. Maar met die jare ondergaan jou hare self veranderinge. Dit word grys, en baie vroue se hare is growwer en droër as voorheen.

Dis dan dat ons in die versoeking kom om ons tot die naaste haarkleurmiddel te wend in ’n poging om die jare te laat waai – maar hoe gebruik ’n mens jou kleurmiddel op ’n manier wat jou vars en stralend laat lyk en jou nie eenvoudig verder verouder nie?

Ons het haarkleurspesialiste oor die grootste foute uitgevra wat jou ouer laat lyk, en hoe om dit te vermy …

1. Eendimensionele haarkleur

“Monochrome kleur wat plat en sonder dimensie is, lyk baie hard en is regtig verouderend,” sê Jack Howard, die Britse kleurwoordvoerder vir L’Oreal. “Dit is besonder maklik om in hierdie strik te trap as jy jou hare uit ’n boksie kleur of kleure oorvleuel.”
 
Jack beveel aan dat jy eerder die kleurspesialis by jou haarsalon besoek om multidimensionele kleur aan te wend. “Die vleiendste manier om jou kleur te dra, is deur ’n natuurlike voorkoms met ligte, handgeverfde stroke kleur te skep waar die son gewoonlik sou val,” sê hy.

2. Om by die kleur van jou jeug te hou

Dit is te verstane dat mense hulle grys hare wil verdoesel deur dit na hulle vorige natuurlike haarkleur toe terug te kleur. Maar volgens Ashleigh Hodges, kreatiewe direkteur by Brittanje se Jamie Sevens-salon, is dit ’n fout.
 
“Wanneer ons die pigment in ons hare verloor, verloor ons dit ook in ons vel,” verduidelik sy. “Dit is ’n geleidelike proses, en dit behoort deur ons haarkleur weerspieël te word.” Net soos jou vel, is jou hare veronderstel om ook met die jare ligter te word.

“Wanneer jy die eerste wit hare opmerk, moet jy jou haarkapper vra om hulle in te skakeer. Met verloop van tyd sal jy na ’n ligter natuurlike kleur beweeg,” verduidelik Ashleigh. “Dit sal jou in werklikheid jonger laat lyk terwyl jou poging om by jou oorspronklike haarkleur te hou, nie by jou nuwe velkleur sal pas nie.”

3. Om jou grys hare nie te tint nie

Baie vroue kies om hulle grys hare te geniet en dra die kleur met trots – en waarom nie? Beroemdes soos dame Judi Dench, dame Helen Mirren en Meryl Streep het immers almal bewys dat grys hare sjiek en glansryk kan lyk.

Daar is egter ’n groot verskil tussen lewelose, dowwe grys hare en die glansende silwers wat ons op die rooi tapyt sien. “Aangesien daar geen tinte in grys hare is nie, moet jy warmte byvoeg, anders kan dit hard en eendimensioneel lyk,” sê Francesca Dixon, kreatiewe kleurspesialis by Brittanje se Hari’s-haarkappers.
 
“Ek weet dat vroue wat normaalweg askleurige tinte verkies, dikwels van warmer skakerings wil wegbly, maar hier moet jy jou kleurspesialis vertrou,” sê sy.

4. Om jou grys hare tot die dood toe te kleur

Grys hare moet sagkens behandel word (ʼn goeie haarmasker is nou jou beste vriendin!). Om jou aan kleure te vergryp wat die lewe uit jou lokke stroop, is ’n slegte idee.
 
Joe Hemmings van Brittanje se Bloggs-salonne sê: “Grys hare is growwer; moet dus nie oorboord gaan met te veel ligstrepies of stilering nie, aangesien die toestand van jou hare daaronder kan ly, wat jou op sigself laat ouer lyk.”
 
Onthou ook dat grys hare wat gekleur is, heelwat herstellende behandelinge vereis – maskers, haarolies, en sjampoes en opknappers wat spesifiek daarop gerig is, is goeie opsies.

5. Hare wat rondom die haarlyn te donker is 

Volgens Jack Howard is dit ’n groot taboe, maar hy beklemtoon dat dit nie beteken dat indien jy ’n brunet is, jy skielik in ’n blondine moet verander nie.
 
” ’n Goeie kleurspesialis kan die bruin skakerings inskakeer en sodoende ’n soomlose voorkoms skep waar jou hare van agter af vorentoe stelselmatig donkerder word,” sê hy. “Dit sal jou gesig vlei en glans, diepte en interessantheid aan jou hare verleen.”

Joe stem saam: “Sagter, ligter tinte en skakerings aan weerskante van die gesig sal jou oë lig en hulle lewe gee; te donker kleure sal die teenoorgestelde uitwerking hê en sal jou gesig hol en leweloos laat voel,” sê hy.

6. Outydse, harde ligstrepe

As ’n mens aan die haarneigings van die vorige dekade dink, kom die soliede, eentonige ligstrepies wat by menige vroulike musiekgroepe gesien is, ongetwyfeld by jou op. Maar kom ons wees eerlik – party van ons dra ons hare steeds so.

“Foelieligstrepies lyk outyds, en die streperige, eentonige voorkoms is onvleiend,” sê Jack, wat eerder van balayage gebruik maak, ’n tegniek waar kleur vrylik en onewerig op die hare aangeverf word.
 
Hy vervolg: “Kyk vandag na enige ster en jy sal nêrens soliede ligstrepe sien nie; almal gebruik balayage omdat dit op presies die regte plekke aangeverf word; dit groei natuurlik uit (wat minder instandhouding beteken) lyk modern en verleen dus ’n jeugdige voorkoms.

FOTO: iStock/PeopleImages

Van: Good Housekeeping UK

LEES OOK:

Selebs met die mooiste kort haarstyle

4 goed wat alle vroue oor 40 van hul hare moet weet

Die voor- en nadele van haarverlengings

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Weet jy waarvoor daardie stringe op piesangs is?

Dit het toe al die tyd ’n nut!

Close