×
Skakel na Engels

Vermy hierdie 9 foute wanneer jy jou hare droogblaas

Haal die kroes uit jou kapsel met hierdie wenke. Deur Hanna Ibraheem.
Hanna Ibraheem

Of jy nou jaag om jou hare droog te kry of jou tyd neem om ‘n gestileerde voorkoms te skep, ons almal is geneig om hier en daar ‘n fout te maak en nie die beste uit ons hare te verkry nie. Ons het die professionele haarstiliste Darren Bain en Maria Galati van Taylor Taylor London gevra wat die algemeenste foute is wat mense maak wanneer hulle hul hare droogblaas, en hoe om die volmaakte drooggeblaaste voorkoms te skep.

1. Jy hoef jou hare nie vooraf te borsel nie  

“Borsel altyd jou koeke uit voor jy begin blaas. Begin onder en werk boontoe aangesien nat hare elasties is; te veel spanning sal maak dat die haarskag breek. Gebruik ‘n ligte aanbly-opknapper/hittebeskermer om met die ontknoping te help.”

2. Begin altyd aan die agterkant van jou kop  

“Een sleutel tot ‘n suksesvolle droogblaas is om by die wortels te begin. Fokus die hitte op die kopvel en kam jou vingers losweg deur jou wortels om blywende volume te verkry. Vir nog meer volume kan jy jou kop onderstebo hou.” 

Lees: Is dit waar dat jou hare vinniger groei wanneer jy dit laat sny?

3. Jy hou die tuit-blaaskop in die verkeerde rigting

“As ‘n algemene reël word die tuit altyd afwaarts teen die haarskag gehou sodat die kutikels plat lê en ‘n gladde, glansende effek verkry word. As jy ‘n deurmekaar strandvoorkoms wil hê, kan jy eindig deur jou hare van onder af te blaas, maar maak seker dat dit aan die einde van jou droogblaas is en nie aan die begin nie.”

4. Jy verdeel jou hare nie in seksies nie 

“Neem ‘n oomblik om jou hare in seksies te verdeel, al is dit net in twee (van oor-tot-oor om die boonste en onderste hare te verdeel). Dit sal help om ‘n egaliger resultaat te verkry en sorg dat die agter- en onderkant van jou hare droog is.”

 5. Jy hou jou haardroër te naby aan jou hare

“Jou haardroër mag nóóit aan jou hare raak nie. Na gelang van die voorkoms wat jy wil skep, stel ons voor dat jy die haardroër tussen 5 en 15 sentimeter van jou hare af hou. “Hoe nader die haardroër, hoe gladder die eindproduk – en moenie vergeet om ‘n tuit-hegstuk te gebruik om ‘n meer gekonsentreerde lugvloei te verkry nie. Dit sal jou hare gladder en blinker laat lyk.”

6. Jou haardroër is nie sterk genoeg nie

“Belê in ‘n goeie haardroër. Dit is die belangrikste instrument wat jy vir ‘n doeltreffende droogblaas benodig. Maak seker dat dit ‘n sterk stroom het, maar nie swaar is nie, en hou dit aan die beweeg om te veel hitte op een plek te vermy.”

7. Jy berei jou hare nie voor nie

“Afhangende van jou haartipe en verlangde styl moet jy jou hare altyd met ‘n geskikte produk voorberei.” “Vir volume kan jy mousse gebruik. Of vir ‘n natuurliker voorkoms kan jy ‘n goeie gehalte basislaag (primer) en hittebeskermer aanwend. Moet egter nie oorboord gaan nie. As algemene riglyn sal ‘n tiensentstuk-grootte perfek werk.”

8. Jy raak nie van oortollige water ontslae nie

“Maak jou hare handdoekdroog voordat jy jou stileerproduk aanwend. As jou hare papnat is, sal die produk deur die water opgelos word en dus minder doeltreffend wees.”

 9. Jy maak jou hare te droog

“Om jou hare kurkdroog te blaas kan dit dehidreer. Gebruik dus minstens een maal per week ‘n bevogtigende masker vir sagter, blinker hare.”

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Yuri_Arcurs

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 tuisgemaakte haarbehandelings vir elke haartipe

Maak ’n natuurlike behandeling wat spesifiek vir jou haartipe geskik is

Close