×
Skakel na Engels

Hierdie buitengewone “troeteldiere” lei letterlik ’n koninklike lewe

Raai watter “troeteldiere” het die prins van Monaco se suster hom oortuig om in sy agterplaas aan te hou!

 

As die dogter van die ikoniese Grace Kelly sou jy dink dat prinses Stéphanie van Monaco ’n glansryke en bedorwe lewe lei, maar dis egter nie die geval nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Die jongste dogter van prins Rainier III en prinses Grace is ’n voormalige model, modeontwerper en popsangeres, en tog bring sy nie die meeste van haar tyd in die familiepaleis of die Monte-Carlo Beach Club deur nie. Nee, sy maak haar hande vuil in die heuwels bo die Middellandse See waar sy vir twee buitengewone “wesies” sorg oor wie sy haar ontferm het.

Baby en Nepal is twee afgetrede sirkusolifante wat in Frankryk bekend geraak het toe daar in 2010 (verkeerdelik) tuberkulose by hulle gediagnoseer is en ’n genadedood hul lot was. Nadat ’n vier jaar lange regstryd om hulle te red misluk het, het Stéphanie ingetree en aangebied om die olifante na Roc Agel – die koninklike familie se plaas bo Monaco – te skuif en self na hulle om te sien.

 

#anniversaire #babyetnepal #princessestephanie

A post shared by Baby et Népal (@babyetnepal) on

In ’n onderhoud wat vroeër vanjaar in People verskyn het, het Stéphanie se broer, prins Albert II, wat met die Suid-Afrikaner Charlene Wittstock (nou prinses Charlene van Monaco) getroud is en die eienaar van Roc Agel is, erken dat hy gedink het dié skuif is net tydelik. Hy het toegegee dat die projek sy suster goed doen, veral omdat sy aan leënessindroom lei noudat haar drie kinders, Louis, Pauline en Camille, almal volwasse is en hul eie onafhanklike lewens lei.

Dit blyk dat die prins nou aanvaar het dat daar twee olifante in sy agterplaas gaan woon aangesien hy vroeër vanjaar die vierde herdenking van die stigting van die Baby-en-Nepal-vereniging saam met sy jonger suster gevier het. Baby en Nepal het natuurlik ook die vieringe bygewoon.

 

#anniversaire #babyetnepal #princessestephanie #princealbert

A post shared by Baby et Népal (@babyetnepal) on

Stéphanie is baie vertroud met sirkusdiere én die sirkuslewe. Sy het in 2001 groot opspraak verwek toe sy saam met die Switserse Knie-sirkus getoer het, waartydens sy in ’n karavaan gewoon en dié avontuurlustige leefstyl ten volle geniet het. Ná die dood van haar pa in 2005 het sy ook oorgeneem as die voorsitter van die gesogte internasionale Monte-Carlo-sirkusfees, ’n jaarlikse geleentheid wat in Monaco aangebied word en die beste sirkuskunstenaars van oor die wêreld heen vereer.

 

 

#babyetnepal #anniversaire #princessestephanie

A post shared by Baby et Népal (@babyetnepal) on

Foto: iStock/davidevison

LEES OOK:

Twee sirkusolifante herenig ná 22 jaar

Maak jou huis troeteldierbestand

Wat ouers van ’n leë nes wil hê ander ouers moet weet

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jy kan nou sowaar by Tiffany’s gaan ontbyt eet

Audrey Hepburn sou vir seker in haar noppies gewees het!

Close