×
Skakel na Engels

Swemwenke vir mense wat aan epilepsie ly

Wat jy móét weet voordat jy die water aandurf

Mense met epilepsie se kanse om te verdrink, is 19 keer groter as dié wat nie daaraan ly nie, het die Institute of Neurology van die University College in Londen bewys.

 

Baie van dié verdrinkings kan egter voorkom word. As jy aan epilepsie ly, volg dié wenke voordat jy die water aandurf:

  • Besoek eers jou dokter om vas te stel of jy enigsins mag swem.
  • Swem altyd saam met iemand wat weet hoe epileptiese aanvalle lyk, ’n goeie swemmer is, en weet wat om te doen indien jy wel ’n aanval kry.
  • Lig die lewensredder aan diens van jou toestand in.
  • As jy moeg of ongesteld voel, nie jou medikasie geneem het nie of die eerste tekens van jou aanval ervaar, moenie aanhou swem nie.
  • Vermy hiperventilasie (deur byvoorbeeld lank aanneen onder die water te swem), veral as dit in die verlede veroorsaak het dat jy ’n aanval kry.
  • Dra ’n duik- of sonbril met getinte lense as flikkerende ligte geneig is om aanleiding tot jou aanvalle te gee.

As jy in die water is saam met iemand wat ’n epileptiese aanval kry, volg dié basiese riglyne:

  • Beweeg agter die persoon in en buig sy kop agteroor sodat sy gesig nie onder water is nie.
  • Indien moontlik, probeer die persoon na vlakker water neem. Hou steeds sy kop bo die water.
  • Moet niks in sy mond sit nie.
  • Wanneer die persoon ophou ruk het, neem hom na droë grond.
  • Laat hom op sy sy lê om te herstel.

 

Wenke en riglyne met vergunning van Epilepsie Suid-Afrika.

Vir meer inligting, skakel 0860 EPILEPSY (0860 374537) of besoek www.epilepsy.org.za

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hou op stres

Bekommernis kan jou siek maak

Close