×
Skakel na Engels

Spysverteringskwessies wat jou gewig beïnvloed

Dit kan verklaar waarom jy bly gewig aansit. Deur Locke Hughes
Spysverteringskwessies

Wanneer alles glad verloop, is die lewe goed. En ons praat nie net van ’n suksesvolle eerste afspraak of ’n foutlose voorlegging by die werk nie. Jou spysverteringskanaal tel ook. En wanneer dinge daar skeefloop, kan dit op die skaal wys.

“Maagdermkanaal- en spysverteringsprobleme het ongetwyfeld ’n groot invloed op die manier waarop ons eet en die manier waarop ons liggaam kos opneem en verteer, en gevolglike gewigsverlies of -toename,” sê dr. Kenneth Brown, ’n gastroënteroloog. “Die meeste spysverteringsprobleme is geneig om gewigsverlies te veroorsaak weens swak voedselopname, maar daar is ’n paar situasies waar dermgesondheid tot gewigstoename kan bydra.” 

As die skaal bly sê dat jy gewig optel en jy nie seker is waarom nie, kan die skuld by een van hierdie ses algemene spysverteringsprobleme lê:

1. Suurrefluks

Hierdie toestand, ook bekend as gastro-esofageale reflukssiekte (GERS), lei tot ’n pynlike brandsensasie, of sooibrand, in die laer borskas wanneer maagsure in jou esofagus opstoot. En vir mense wat daaraan ly, neem die term “trooskos” ’n splinternuwe betekenis aan, want om te eet bring letterlik verligting. “Eet bied tydelike verligting, want die kos self sowel as die speeksel neutraliseer die suur,” verduidelik Brown.

Die enigste probleem? Sodra daardie kos verteer is, sal die simptome – opgeblasenheid, naarheid, ’n konstante gehik – gewoonlik terugkom, en dis gewoonlik aggressiewer as gevolg van die terugslag-suurproduksie. Maar omdat mense verligting soek, beland hulle in ’n gevaarlike ooreet-siklus wat tot gewigstoename lei.

DIE OPLOSSING:

Alhoewel baie aanlyn bronne beweer dat boererate soos appelasyn en aloe vera kan help, is daar volgens dr. Brown geen wetenskaplike bewyse daarvoor nie. Hy beveel ’n oor-die-toonbank-medikasie soos omeprasool of ranitidien aan (jou dokter kan jou help besluit wat die beste vir jou sal wees), waar gewigstoename nie ’n algemene newe-effek is nie. 

2. Maagsere

Hierdie ongemaklike sere, ook bekend as duodenale ulkusse, ontwikkel gewoonlik in die wand van die maag of dunderm, en is gewoonlik die gevolg van te veel suurproduksie. En net soos by GERS, kan eet ook die pynlike simptome verlig – insluitend opgeblasenheid en konstante naarheid – aangesien die ulkus tydelik met ’n beskermende lagie bedek word wat die maagsure neutraliseer, verduidelik dr. Su Sachar, ’n gastroënteroloog wat in bariatrie, welstand en optimale gesondheid spesialiseer. Nodeloos om te sê sal die meer gereelde eet en oortollige kalorieë tot gewigstoename lei.

DIE OPLOSSING:

Die beste manier om ’n maagseer te behandel, is om ’n dokter oor die beste medikasie vir jou te raadpleeg. Dit sal waarskynlik die neem van teensuurmiddels behels. Bly weg van niesteroïdale anti-inflammatoriese middels – of NSAID-pynmedikasie – soos ibuprofen of aspirien, want dit kan interne bloeding veroorsaak en lewensgevaarlik vir mense met maagsere wees. Gebruik eerder parasetamol wanneer jy iets vir pyn nodig het.

Soortgelyk: 5 dinge wat jou maag vir jou probeer sê

3. Hardlywigheid

Wanneer jy verstop voel, kan daai swaar gevoel ’n aanduiding van gewigstoename wees. Maar daar is goeie nuus: Jou lyf neem nie regtig meer kalorieë op nie, sê Brown; dit is dus nie ware gewigstoename nie, maar eerder die gevolg van ekstra ontlastingstowwe wat jy op die skaal sien.

Hardlywigheid self maak dit dan ook nie makliker om gim toe te gaan en ’n strawwe oefensessie deur te draf nie. Daar is ’n baie groter kans dat jy traag en swaar voel … en die bank jou naam hoor roep. 

DIE OPLOSSING:

Om … wel, gereeld te bly, stel Brown voor dat jy ’n gebalanseerde dieet van onverwerkte kosse met minstens 25 tot 30 gram vesel per dag volg, genoeg vloeistof inneem (probeer een tot twee liter water per dag drink) en gereeld oefen.

4. Bakteriële oorgroei

Lees gerus verder – dis nie so grillerig soos wat dit klink nie! Jou ingewande bevat basies goeie en slegte bakterieë, en navorsing toon dat die goeie soort ’n noodsaaklike rol in jou algehele gesondheid speel deur inflammasie te verminder en jou gewig te reguleer. 

Dit raak egter problematies wanneer die hoeveelheid bakterieë toeneem, of wanneer die tipe bakterieë se balans versteur word. (Dink daaraan as ’n wipplank – vir optimale gesondheid moet die goeie en slegte in perfekte balans wees.) Wanneer dit gebeur, kan ’n bakteriële oorgroei in die dunderm (SIBO) voorkom en dit kan op twee maniere tot gewigstoename bydra, sê Brown.

Eerstens kan die bakterieë metaangas produseer wat “die algehele funksie van die dunderm vertraag sodat die intestinale villi — klein vingeragtige uitsteeksels in jou dermwand – meer kalorieë per hap absorbeer,“ verduidelik hy.

Met ander woorde, presies die teenoorgestelde van wat jy wil hê. Tweedens kan SIBO jou metabolisme vertraag en jou insulien- en leptienweerstandigheid, wat albei help om jou versadigingsensasies te reguleer, beïnvloed. Die gevolg is dat jy waarskynlik na koolhidrate gaan wil gryp en tien teen een steeds honger gaan voel nadat jy geëet het, selfs al is dit ’n ordentlike bord kos, sê Sachar.

DIE OPLOSSING:

Om SIBO te voorkom stel Brown voor dat jy, indien moontlik, antibiotika vermy. Of oorweeg ’n probiotika om jou weer op dreef te kry.

5. Prikkelbaredermsindroom (PDS)

Die term PDS word deesdae dikwels gebruik aangesien “dit die algemeenste gediagnoseerde dermkanaaltoestand is, en dit oorvleuel dikwels met ander spysverteringsprobleme soos voedselsensitiwiteit, ‘n “lekkende derm” en ’n wanbalans van goeie en slegte bakterieë,” sê Sachar. En net soos hardlywigheid (’n simptoom van PDS), kan dit opgeblasenheid en chroniese inflammasie veroorsaak wat op hul beurt weer tot gewigstoename kan lei.

DIE OPLOSSING:

By PDS is dit belangrik om by die oorsaak van die probleem uit te kom. Jou dokter kan jou help om jou goeie bakterieë met probiotika op te bou, en spysverteringsensieme byvoeg om kos te help afbreek sodat dit nie in jou derm agterbly en inflammasie veroorsaak nie, verduidelik Sachar.

Brown sê dit kan help om ’n glutenvrye dieet of ’n lae gasvormende dieet, soos FODMAP, te volg aangesien dit opgeblasenheid kan help verminder en onnodige gewigstoename onder beheer bring.

Soortgelyk: 7 redes waarom jou urine vreemd ruik

6. Crohn se siekte of ulseratiewe kolitis

Alhoewel Crohn se siekte en ulseratiewe kolitis (albei ongeneeslike chroniese inflammatoriese toestande) deur ’n kleiner aptyt en kwaai gewigsverlies gekenmerk word, kan presies die teenoorgestelde gebeur sodra iemand behandeling ontvang wat steroïede behels – wat gewoonlik die eerste stap is in ’n poging om ’n medikasie te vind wat vir jou werk, sê Sachar.

“Steroïede is geneig om jou lus vir koolhidrate te laat toeneem, water terug te hou en jou opgeblase te laat voel,” sê Sachar. “ ’n Mondelinge steroïed soos prednisoon kan ook daartoe lei dat jou liggaamsvet herversprei; in plaas daarvan dat dit in jou maag of boude sit, kan dit na jou gesig of nek beweeg.”

Gelukkig is dit gewoonlik nie te moeilik om die gewig te verloor wanneer die steroïede gestaak word nie. Dit gebeur gewoonlik sodra ’n skielike verergering – of die opflikkering van simptome soos diarree, hardlywigheid, rektale bloeding en koors – bedaar en simptome beter onder beheer is.

DIE OPLOSSING:

In die eerste plek is jou algehele gesondheid belangriker as ’n paar ekstra kilogramme; dit is dus noodsaaklik dat jy jou dokter se behandelingsplan volg. Maar sommige dokters, soos Brown, is kopsku vir steroïdes aangesien hy weet hoe onaangenaam die newe-effekte kan wees. Elke pasiënt reageer egter anders op medikasie; gesels dus met jou dokter om uit te vind wat die beste vir jou werk.

Van: Redbook US

FOTO: iStock/AJ_Watt

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief