×
Skakel na Engels

Só moet jy by ’n polisiepadblokkade optree

Nuttige raad en wenke oor jou regte as jy dalk afgetrek word . . . Deur Caira-Lee Durand
polisiepadblokkade

Dit is belangrik om te weet hoe jy moet optree en wat jou regte is indien jy deur ’n polisie- of verkeersbeampte gevra word om af te trek, veral noudat die feestyd om die draai lê en die polisie in alle erns op hulle pos gaan wees.

Pin hierdie artikel vir later. Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Hierdie inligting kan help dat jy binne die wet bly. “Alle landsburgers behoort te weet wat hul regte is wanneer hulle met die polisie- en verkeersbeamptes in Suid-Afrika omgaan,” sê Kirstie Haslam, ’n vennoot van CSC Prokureurs. Hier gee sy raad en wenke oor jou regte indien jy voorgekeer word.

Indien jy moet aftrek:

Indien ’n beampte wys dat jy by ’n blokkade moet stilhou of van die pad moet aftrek, behoort jy altyd die volgende riglyne te volg:

1. Trek af; moenie wegry nie.

2. Bly kalm, beleefd en toon respek.

3. Verskaf persoonlike besonderhede indien dit gevra word.

4. As daar ’n boete of oortredingskennisgewing aan jou uitgereik word, teken dit en vermy ’n argument; moenie ongeskik of aggressief raak nie.

5. Moenie by ’n omkopery betrokke raak nie; jy kan vervolg word.

6. As ’n polisie- of verkeersbeampte in uniform jou voertuig voorkeer en jou identiteitsbesonderhede vra, is jy verplig om dit te gee.

’n Verkeersbeampte het toestemming om vir jou ID-dokument en rybewys, wat jy altyd by jou moet hê wanneer jy bestuur, te vra. “In sommige gevalle mag ’n polisiebeampte ook daarop aandring om jou voertuiglisensie te sien, of vra dat jy dit binne ’n week by ’n polisiestasie gaan toon,” verduidelik Haslam.

Jou reg om die egtheid van ’n padblokkade vas te stel:

Daar was al gevalle van misdade wat gepleeg is deur misdadigers wat hulle as polisie- of verkeersbeamptes voordoen. Daarom, sê Haslam, is dit jou reg om te vra om ’n beampte se identifikasie (aanstellingsertifikaat) te sien. Versuim om daaraan te voldoen is ’n oortreding van artikel 334(2)(a) van die Strafproseswet.

“Indien ’n beampte weier om identifikasie te toon, kan jy ’n aantekening van sy of haar voertuigbesonderhede maak en dit later gaan rapporteer, maar hou kop en bly kalm.”

Sy sê verder: “Alhoewel jy nie die reg het om te weier om by ’n padblokkade stil te hou en selfs deursoek te word nie, mag jy daarop aandring om ’n geskrewe magtiging van die padblokkade deur die nasionale of provinsiale polisiekommissaris te sien voordat jy aan enige eise voldoen. Indien jy om enige rede nie van die egtheid van ’n padblokkade oortuig is nie, mag jy vra om na die naaste polisiestasie geneem te word.”

Lees: Wat om te doen wanneer jy padwoede het

Indien jou voertuig onpadwaardig verklaar word

Indien ’n polisie- of verkeersbeampte bevind dat jou voertuig onpadwaardig is, mag hulle een van die volgende doen: vra dat jy die motor slegs tot by jou bestemming of net ’n kort afstand bestuur; jou voertuiglisensieskyf van die voorruit verwyder; jou verbied om die motor verder te bestuur.

Aangesien wetstoepassers hier binne hul reg optree, is dit onwys om jou teen enige van hierdie stappe te verset, sê Haslam.

Inhegtenisneming vir uitstaande boetes

Jy het dalk al gehoor van bestuurders met agterstallige boetes wat geforseer word om daar en dan by ’n blokkade te betaal of anders onmiddellik gearresteer word.

Haslam sê dat jy nie gedwing kan word om te betaal nie, want dit is afpersing. “Jy kan ook slegs inhegtenis geneem word indien daar reeds ’n lasbrief vir jou arres uitgereik is en indien ’n beampte ’n afskrif van die lasbrief kan toon,” verduidelik sy.

“Indien ’n beampte versuim, maar jou steeds wil arresteer, moet jy daarop aandring om jou prokureur onmiddellik te skakel. Indien die beampte wel ’n lasbrief het, het die polisie die reg om jou aan te hou totdat jy die agterstallige bedrag kan betaal.”

Indien daar nie reeds ’n lasbrief is nie, mag die beamptes steeds ’n dagvaarding uitreik, mits die hofdatum daarop ’n minimum van twee weke in die toekoms is, uitsluitend Sondae en openbare vakansiedae. Indien jy versuim om vir jou verskyning op te daag, is jy skuldig aan minagting van die hof en sal ’n lasbrief uitgereik word.

Dronkbestuur:

Daar is streng stappe wat beamptes moet volg indien hulle dronkbestuur vermoed. Haslam sê dat jy op die volgende moet let:

1. Indien ’n beampte jou vra of jy gedrink het, moet jy eerlik antwoord. So nie sal jou leuen teen jou tel indien ’n asemtoets die teendeel bewys.

2. Jy mag nie onredelik weier om ’n asemtoets te ondergaan nie. Indien jou bloedalkoholvlak bo die wettige limiet is (0.05 g/dl), sal jy na ’n mobiele eenheid, kliniek of hospitaal geneem word vir ’n bloedtoets.

3. Jy het die reg om jou eie dokter te skakel, mits hy of sy betyds daar kan wees, en om op die gebruik van steriele, skoon toerusting (wat voor jou oopgemaak word) vir die bloedtoets aan te dring. As jy twyfel of daar aan hierdie gesondheidstandaarde voldoen word, mag jy weier om jou bloed te laat trek alvorens dit reggestel is.

4. Indien die vervolging van plan is om hul saak op die uitslag van die bloedtoets te baseer, moet hierdie bloedmonsters binne twee ure geneem word nadat jy voorgekeer is. Hou dus ’n oog op die tyd. ’n Laat toetsuitslag kan deur die hof verwerp word, asook uitslae van toetspakkies wat verval het.

5. ’n Polisebeampte moet teenwoordig wees wanneer jou bloed getrek word.

6. Jy mag aangehou word terwyl jou saak verwerk word. Jy behoort slegs saam met persone van jou eie geslag aangehou word.

Indien die ergste gebeur:

Indien jy gearresteer word, sê Haslam dat die volgende reëls gevolg moet word:

1. Jy moet onmiddellik van jou regte ingelig word.

2. Jy moet direk na die naaste polisiestasie geneem word.

3. Jy het die reg om binne twee dae in die hof te verskyn.

4. By die stasie mag jy ’n borgaansoek rig, tensy jy vir ’n ernstige oortreding aangehou word.

5. Jy het steeds die reg om professioneel en met respek vir jou menswaardigheid behandel te word.

Lees: 5 grootste redes waarom padongelukke in SA plaasvind

Onwettige arrestasies en polisiebrutaliteit:

Haslam sê dat onwettige arrestasies en polisiebrutaliteit ongelukkig ’n algemene verskynsel in Suid-Afrika is. “Indien jy ooit die slagoffer van onwettige, onregmatige optrede is, het jy redelike gronde om ’n persoonlike beseringsklag van polisiebrutaliteit of onwettige arres teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens of jou plaaslike polisiedepartement te lê.”

Om ’n persoonlike beseringsklag te lê:

Om suksesvol te dagvaar is dit belangrik om so gou moontlik ná die aanranding of onregmatige arrestasie met die proses te begin, want daar is afsnydatums wat in berekening gebring moet word.

“Ter voorbereiding moet jy die volgende insamel: die naam van die oortredende beamptes; getuie(s) se name en kontakbesonderhede; enige relevante mediese verslae en rekeninge; en foto’s van enige sigbare beserings,” sê sy.

As jy voel dat jy of ’n ander persoon sleg behandel of deur polisie- of verkeersbeamptes geboelie word, sê sy dit kan help om video- of fotobewyse te kry. “Maak egter seker van jou veiligheid voor jy enige iets afneem of verfilm. Om die polisie se optrede op te neem, kan jou juis ’n teiken maak,” waarsku sy.

Voordat daar ’n klag teen enige regeringsliggaam gelê mag word, moet daar eers aan sekere statutêre vereistes voldoen word. Aangesien die Suid-Afrikanse Polisiediens ’n regeringsliggaam is, wys Haslam daarop dat eise teen die polisie ingewikkeld kan wees en spesifieke kundigheid vereis. “Dit is dus die moeite werd om ’n betroubare persoonlike-beseringsprokureur te nader voordat jy ’n saak aanhangig maak,” sê sy.

Buiten die statutêre kennisgewingsperiode wat vir vervolging van SAPD-verwante sake vereis word (insluitend wat in die kennisgewing geplaas word, waarheen om dit te stuur, en of die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, direkteur van openbare vervolging ens. afhangende van omstandighede ingesluit moet word), sê sy dat die kliënt deur ’n kundige ingelig moet word of daar in die eerste plek ’n geldige skuldoorsaak is.

“Lede van die publiek verkeer dikwels onder die indruk dat hulle outomaties die reg het om die staat aan te kla indien hulle suksesvol gemotiveer het, klagtes teruggetrek is of indien hulle onskuldig bevind is (of suksesvol geappelleer het)” sê sy.

“Daar is egter verskeie faktore wat oorweeg moet word, en ongelukkig is daar in 90% van gevalle nie geldige gronde vir ’n siviele saak van onregmatige arrestasie en/of vervolging in hierdie omstandighede nie.” (Die klaer word uiteindelik dikwels van kwaadwillige aantygings aangekla wat deur die polisie ondersoek moet word, wat ongelukkig dikwels tot die arrestasie van die beskuldige kan lei.)

Sy voeg by dat dit moeilik is om die gronde van nalatigheid te bewys. “Of eerder, die regsmiddels tot die polisie se beskikking is dikwels geldig en baie suksesvol teen ’n klag van onregmatige arrestasie.”

“Die polisie sal dan enige negatiewe kostebevele afdwing wat teen die aanklaer toegestaan word. Hulle doen dit altyd. ’n Besluit om ’n siviele aksie teen die polisie in te stel, moet dus nie ligtelik of sonder die nodige regskundigheid geneem word nie aangesien dit op die ou end in ’n duur les kan ontaard.”

Bron: WOW

FOTO: iStock/kali9

LEES OOK:

Noodnommers wat jy nodig het wanneer jy op die N2 ry

ʼn Handige 9-stap-gids vir wanneer jy jou eerste motor koop

Die 10 bekostigbaarste motors in SA

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dinge gaan binnekort verander vir diegene wat na die VSA vlieg

Lugpassasiers wat na die VSA vlieg moet voortaan nog vroeër by die lughawe wees as gevolg van nuwe, strenger veiligheidmaatreëls...

Close