×
Skakel na Engels

Selfdoen-dekorprojekte vir Kersfees saam met jou kinders

Maak Kersvoorbereidings ’n geleentheid vir die hele gesin met hierdie cool idees
selfdoen-dekorprojekte

Hierdie maklike selfdoenprojekte sal jou en jou gesin in ’n feestelike bui kry met van vernuftige geskenktoedraai-idees tot tuisgemaakte lekkergoed vir jou gaste.

Handgekleurde linne:

Skep ’n kleurryke somertafel deur jou eie ombré-lapservette te kleur – met net vyf minute se werk.

1. Laat week ’n wit katoenservet in water (of hou dit onder ’n lopende kraan), druk die oortollige water uit en plaas dit op ’n bedekte oppervlak.

2. Begin van onder af en verf lae met lapverf. Voeg water by soos jy opbeweeg – ’n paar eetlepels op ’n slag – om die verf te verdun.

3. Hang dit op om oornag droog te word.

4. Stryk die materiaal om die verf te laat set.

Skitterende kersversierings:

Omskep ou en geblaasde gloeilampe in pragtige Kersversierings.

1. Verf  kouelym aan en sprinkel blinkers daaroor. Laat droog word.

2. Bind dit in ’n string vas en hang dit aan die Kersboom.

3. Dit sal net so mooi in ’n glasvaas lyk.

Maak ’n somersneeuman vir Kersfees:

Skep die gevoel van ’n wit Kersfees met hierdie vernuftige sneeuman.

1. Stapel drie wit potte onderstebo opmekaar.

2. Verf ’n gesiggie op die boonste pot.

3. Trek vir jou sneeuman ’n hoed en ’n serp aan, of wat jy ook al wil.

Lekkers van gekleurde ‘glas’:

Skep ’n bietjie Kersfees-bekoring binne 10 minute.

1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

2. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.

3. Maak harde suiglekkers fyn. (Probeer Beacon Sparkles.)

4. Plaas ’n koekiedrukker op die bakpapier en vul met die fyn lekkers.

5. Plaas in die oond vir 10 minute.

6. Haal uit die oond, laat vir 10 minute afkoel en sit dit op jou snoeptafel.

Pompon-geskenkversiering:

Dié outydse tossels is so cool om in die Kerstyd te gebruik!

1. Draai jou presente toe en kies dan een of twee kleure wol. (Stukkies lint kan ook werk.)

2. Draai die wol of lint om ’n stuk karton totdat dit ’n lekker dik band vorm.

3. Glip dit van die karton af, bind dit in die middel vas en knip die punte oop.

4. Pof jou pompon op en knip die punte netjies.

5. Speel met skaal – ’n oorgroot pompon lyk oulik op ’n klein pakkie.

LEES OOK:

9 watertandresepte van Kersfees-oorskietkos

10 Kersfeeswenke van Suzelle DIY

10 beste aanlyn winkels vir Kersinkopies

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om jou Kersuitgawes te beheer

Gebruik hierdie vyf riglyne om vandag nog vir die nuwe jaar te begin spaar

Close