×
Skakel na Engels

Seil langs die Turkse kus vir minder as R15 000!

’n Weeklange seilvakansie langs die Turkse kus is pure sielsgenot
Turkse kus

As jy, soos ek, voel of daar hopeloos te min tyd vir alles is en as die gedagte aan die reël van ’n oorsese reis haas onmoontlik voel, veral met al die ander administrasie en uitgawes in jou lewe, vertrou my dan wanneer ek sê dat ’n vakansie langs die Turkse kus op ’n boot waar elke liewe ding, selfs kos en drankies, vír jou hanteer word, dalk presies is wat jy nodig het.

As jy smag na ’n wegbreek waar jy eksotiese plekke kan sien, maar jy sien nie kans vir die beslommernis daarvan om jouself van een bestemming tot by ’n volgende een te kry nie, of as jy uitsien na sondeurdrenkte dae waar jou belangrikste besluit is of jy ná middagete gaan swem of (nog) ’n glas yskoue rosé gaan drink, dan is ’n bootreis beslis vir jou. En as ek ’n bietjie soos ’n fanatikus klink wat ’n dissipelagtige mantra herhaal, is dit omdat ek dink ek ís een.

Jy sien, ek het jare gelede ’n aanhanger van hierdie soort vakansie geword toe ek die eerste keer my voete op ’n manjifieke ScicSailing-houtseilboot gesit het. My man, Justin, is ’n kranige seevaarder en sy idee van hel is ’n stadsvakansie. Die ding is, ’n stadsvakansie is vir my hemels! Gelukkig hou ek ook van lui wees. ’n Turkse seilvakansie werk dus vir ons al twee. Ons kan vir ’n paar dae die ontwerp- en antiekbuurte in Istanbul verken en inkopies in die Grand Bazaar doen.

Vicki en haar man, Justin

Daarvandaan is dit ’n kort vlug na die kus in Bodrum of Marmaris, na gelang van die vertrekpunt daardie week, waar ons op ’n boot klim en vaar na waarheen die wind ons ook al neem. Hy kan bootgoed dink, doen en praat, en ek kan ontspan. Nog ’n rede hoekom ons van ’n Turkse vakansie hou, is omdat jy Istanbul maklik met ’n bekostigbare en regstreekse vlug van Kaapstad, Johannesburg of Durban af kan bereik.

As jy die Saterdagaand uit Istanbul vlieg, is jy die Sondag teen middagete tuis. Turkye is amper op dieselfde tydlyn, wat beteken dat jy nie vlugvoos sal voel nie, en dis baie eksoties (moenie dat ek eens begín praat van die kos, geskiedenis en kultuur nie) en bekostigbaar vir Suid-Afrikaners. Ons het dié reis al vier keer aangepak en ek kan nie wag om vanjaar nóg van Turkye met ScicSailing te verken nie.

Lees: Vliegtuigetiket 101

Onvergeetlike ervaringe: Na elkeen se smaak

ScicSailing word deur Loes Douze besit, ’n entrepreneur wat al langer as 30 jaar in die Turkse seilbedryf is. Loes bestuur haar maatskappy soos ’n streng seekaptein. Haar spanne van jong Turke kan deur ’n ring getrek word met hul netjies gestrykte bermuda-kortbroeke en polohemde. Hulle is onberispelik opgelei, hetsy in seevaart of gasvryheid, en hulle is ywerig sonder om lastig te wees.

Loes is baie op detail ingestel – wanneer die bote in die wintermaande herlaai en herstel word, word haar sjefs deur Michelin-ster-spesialiste opgelei en die gemagtigde kenners wat gaste op hul landuitstappies begelei, word deur Loes self gekeur.

Oor die jare het ons al die antieke ruïnes op die Liciese Weg saam met ’n doktor in argeologie besoek, Symi in Griekeland (in die somer besoek Scic ook die Griekse eilande) saam met ’n vrolike plaaslike inwoner verken wat al 70 jaar daar woon, en tradisionele Anatoliese kos saam met ’n gesin op hul geweefde matte op die heuwels bo Fethiye geëet.

Antieke ruïnes by Knidos wat jy gedurende jou seilvakansie kan besoek

Loes het ’n vakansie-ervaring geskep presies soos sy daarvan hou. “Ek het nog altyd meer waarde aan eg tradisionele eerder as toeristiese ervaringe geheg en dis my passie om die minder bekende skatte van Turkye met my kliënte te deel,” sê sy.

Haar “versteekte skatte”-benadering sorg vir talle merkwaardige oomblikke – van om vir die aand anker te gooi in ’n stil, maanverligte baai met geen ander boot in sig nie (dit wil gedoen wees in die somermaande!) tot om markte in die berge te besoek wat slegs vir plaaslike inwoners is of om na ’n matwinkel te gaan en ’n handgemaakte mat te kies wat binne ’n 10 km-radius gemaak is.

Droëvrugte en neute te kus en te keur

Dis die soort ervaringe wat ’n vakansie besonders maak en waarvan jy jou vriende vertel wanneer jy by die huis kom. Maar haar benadering beteken nie dat jy net na afgeleë plekke gaan nie – Fethiye se beroemde vismark, waar jy jou seekos kan kies en kyk hoe dit gaargemaak word, is ’n móét as jy langs die Turkse Turkooiskus vaar, en Loes maak seker dat jy ’n voorsmakie daarvan kry.

Die sjiek kusdorpies Kas, Kalkan en Göcek word elke seisoen deur Loes en haar span ondersoek en gaste kry ’n samevatting van watter plekke die moeite werd is om te besoek en watter vermy moet word. En natuurlik sal sy jou inlig oor watter winkels jy nie in Bodrum of Marmaris moet misloop nie.

Lees: Bly só gemotiveerd vir oefening in die vakansie

Tyd vir ontspan …

Die dae op ’n ScicSailing-boot is hipnoties. Die see in dié dele is baie kalm. Ná jou oggendswem om wakker te word, volg ’n tradisionele Turkse ontbyt met koffie wat die hare op jou nek sal laat regop staan, sappige vars vrugte, soutige wit kaas, olywe, hardgekookte eiers en varsgebakte witbrood. Dan lig die kaptein ons van die dag se koers en bestemming in, waarna ons met die enjins aan begin vaar.

Teen later die oggend sal ons al ’n keer of twee geswem het, ’n glas of twee Turkse tee gedrink het en dalk ’n slapie (of twee) geniet het. Party gaste (die ScicSailing-boot kan van agt tot 16 gaste in dubbelkajuite huisves) lees, baai in die son of slaap op die dek, terwyl ander hul backgammon-vaardighede opskerp.

En ek? Ek hou daarvan om my in die tydskrifte te verlustig wat ek in die belastingvrye winkel koop, om my man in rummy te klop (dit raak nooit afgesaag nie!) en om na die see te staar en die pragtige skakerings van die Egeïese See in te drink. Middagete, soos aandete, is altyd ’n fees van Turkse geregte. As ons ná middagete nie iewers op land rondloop nie, is dit gewoonlik tyd vir seil.

En dis die deel van die dag waarna ons almal die meeste uitsien, want anders as 90% van bote wat in dié gebiede vaar, kan ons regtig séil. Met die enjins afgeskakel en die seile gespan jaag ons die wind – soms seil ons teen die spoed van wit lig, maar die meeste van die tyd is dit ’n rustige vaart, een wat jou skoon rustig wieg.

Die seile word gespan

Dis amper soos ’n soort meditasie en wanneer die lewe jou gespanne laat voel, is dit presies die soort blaaskans wat jou batterye sal herlaai. Dis hoekom ons weer en weer terugkeer. ’n Week op ’n ScicSailing-boot is gewoonlik genoeg om hierdie ma se moederbord uit te wis en my nuwe energie te gee.

Hoewel gesins- en vriendegroepe die grootste deel van haar kliëntebasis vorm, het Loes oor die jare gekonfyt geraak daarin om kleiner groepe gaste saam in te deel wat mekaar dalk nie ken nie, maar wat graag wil seil en ’n eg Turkse vakansie wil beleef.

En sy ken haar storie – van gesinne met kinders wat ewe oud is tot mense wat ewe veel hou van seil en om antieke ruïnes te verken, en enkellopendes wat wil vakansie hou sonder daardie onvermydelike “tafel vir een”-scenario’s word saam ingedeel. Met 70% terugkeerbesprekings is dit duidelik dat haar metode goed werk.

Elke dag lewer ’n nuwe bestemming of uitstappie op en ondanks al die ontspantyd is jy nooit verveeld nie. ScicSailing bied ook ’n reeks temaweke, van ’n kunstenaars- tot ’n kook- en fynproewerswegbreek en jogaweke – daar is selfs ’n nudisteweek as dit jou ding is! Ons is egter doodtevrede om te gaan waarheen die boot ons neem. Geen dag of bestemming is dieselfde nie, elke baai bied nuwe swemplekke en elke ete is lekkerder as die vorige een. Dis ek-tyd en ons-tyd – en ’n skaars geleentheid om albei te geniet.

Inwoners smous hul produkte

GH se leefstylredakteur, Vicki Sleet, het met vergunning van Turkish Airlines na Turkye gevlieg en saam met ScicSailing gereis.

Vrae?

1. Suid-Afrikaanse paspoorthouers kan aanlyn om ’n Turkse e-visum aansoek doen. Dit word ná betaling aan jou ge-e-pos.

2. Elke ScicSailing-boot het vier tot agt kajuite en elke kajuit bevat twee enkelbeddens, ’n dubbelbed of ’n dubbelbed met ’n enkelbed bokant dit.

3. Elke kajuit het sy eie badkamer met ’n stort en spoeltoilet.

4. Alle etes en drankies is vir die agt dae aan boord ingesluit. Gaste moet egter self vir etes en drankies aan wal betaal.

5. Hulle maak voorsiening vir verskeie soorte watersport. Gaste moet voor hul vertrek aandui waarin hulle belangstel, soos kajakroei of seilplankry.

6. Besoek www.scicsailing.eu vir reisplanne. Seilpryse begin by €949 (R14 943) per persoon wat deel.

Uit en tuis

1. Turkish Airlines vertrek daagliks vanaf Johannesburg en Kaapstad, en op Maandae, Dinsdae, Donderdae en Saterdae vanaf Durban.

2. Die vliegtyd van Kaapstad na Istanbul is 11 uur. Dis 1 uur van Istanbul na Bodrum en 25 minute van Istanbul na Marmaris.

3. Die gewigsbeperking vir inboekbagasie is 30 kg.

4. Turkish Airlines vlieg na 296 bestemmings in 120 lande.

5. Turkish Airlines is in 2016 vir die sesde opeenvolgende jaar deur Skytax as Europa se beste lugredery aangewys. Besoek www.thy.com vir nog inligting.

FOTO’S: Vicki Sleet

LEES OOK:

5 maniere om jou tas soos ’n kenner te pak

10 reise waarop elke vrou behoort te gaan

Kontrolelys vir jou vakansiereis

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief