×

Sakpas skoonheidswenke om jou tot by betaaldag te kry

Platsak ná die feestyd? Probeer hierdie goedkoop skoonheidswenke
skoonheidswenke

 

Het jy ’n bietjie te veel geld uitgegee in die feestyd? Moenie bekommerd wees nie, ons het ook. Soos die spreukwoord sê: Daar is net te veel maand aan die einde van ons geld oor. Hierdie skoonheidswenke sal jou help om wat jy het lank te laat hou!

1. Laat jou produkte dubbeldiens doen

’n Lipstiffie werk net so goed soos ’n roomblosser, en selfs as ’n oogskadu.

Is jou droë sjampoe op? Deursigtige gesigpoeier kan ’n olierige haarlyn verdoesel.

Sukkel jy met wegstaanhare, maar jou serum is op? Vryf ’n ertjiegrootte-hoeveelheid lyfroom aan jou hande en gebruik dit om jou hare glad te stryk.

Vaseline kan maklik as ’n grimeringverwyderaar gebruik word en is veral nuttig om hardnekkige maskara en oogomlyner te verwyder.

2. Verhelder jou gelaat met stoom

Ons is dol oor die stoom wat in gesigsbehandelings gebruik word om jou vel ’n hupstoot te gee, maar omdat Januarie geldgewyse so ’n lang maand is, stel ons voor dat jy sommer ’n tuisbehandeling doen. Die proses is baie maklik: Kook ’n liter water, plaas dit in ’n skottel of bak, drapeer ’n handdoek oor jou kop en leun oor die skottel. Voeg ’n paar druppels essensiële olie by om jou daardie spagevoel te gee!

3. Kyk wat jy in jou kombuis het

Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind hoeveel skoonheidsoplossings in jou kombuiskaste skuil.

  • Is jou hakskene gekraak? Vryf ’n bietjie olyfolie aan jou voete voordat jy gaan slaap, trek skoon sokkies aan en word wakker met ’n sagter vel.
  • Terwyl ons nou van olyfolie praat: Meng een deel olyfolie met twee dele suiker en ’n druppel essensiële olie vir ’n luukse lyfskrop.
  • Klapperolie hoef nie net vir gesonder maaltye gebruik te word nie, maar is ook fantasties om jou hare diep te bevog.
  • Rou heuning gemeng met hawermout is nie net ’n gesonde ontbyt nie, maar ook ’n uitmuntende gesigsmasker.
  • Sukkel jy met produkte wat in jou hare opbou? Appelasyn sal dit regstel en sommer ook jou hare laat blink.

Lees ook:

Verwyder naellak sonder naellakverwyderaar

Pragtige hande vir minder as R40

Skitterende naels

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief