×
Skakel na Engels

SA skooldogter se rooibostoets help diabetiese honde

Hierdie toets het uitsonderlike bevindings opgelewer
rooibos

Toe Zaria Rule, ’n graad 7-leerder van Cornwall Hill College in Centurion, groen rooibostee as deel van ’n wetenskapprojek op verskeie diabetiese honde, insluitend haar eie, getoets het, sou niemand kon voorspel watter resultate haar eksperiment sou oplewer nie.

Nadat Zaria se hond, Jesse, in 2015 met diabetes gediagnoseer is, het sy opgemerk dat haar troeteldier se energievlakke ’n absolute laagtepunt bereik het. Toe sy in ’n radio-onderhoud hoor van die gesondheidsvoordele wat rooibos vir diabete inhou, het sy geweet dat sy dit op haar hond moes toets. Toevallig was dit ook die perfekte onderwerp vir haar skoolwetenskapprojek.

Zaria het met haar toetse begin deur vir Jesse en drie ander diabetiese honde vir die volgende vier weke elke dag een koppie (250 ml) groen rooibos, verdun met drie koppies kraanwater, te gee. Nie een van die honde is gedwing om die tee te drink nie, maar al vier het die smaak geniet en hul drinkbakke moes dikwels twee keer ’n dag volgemaak word. Zaria het spesifiek groen rooibos gebruik aangesien vorige studies getoon het dat dit die doeltreffendste ekstrak in die verlaging van bloedglukosevlakke in diabetiese rotte was.

“Gedurende die navorsingstydperk [van vier weke] het Jesse en die ander honde met hul voorgeskrewe diabetiese medikasie volgehou om te assesseer watter impak die een veranderlike faktor – rooibos – op die honde sou hê,” sê Zaria. “Na omtrent vier weke se rooibosaanvullings het Jesse so mooi reageer dat ons haar insuliendosis tot 10 eenhede twee maal per dag kon verminder.”

Voordat die rooibostee by Jesse se dieet geïnkorporeer is, was haar bloedsuikervlakke heeltemal buite beheer. Teen die einde van die vier weke was Jesse se bloedsuikervlakke meer stabiel as ooit tevore. Sy was weer haar ou self, met hope energie. Die ander drie honde het soortgelyk reageer. 

Zaria se ma, Caroline, sê sommige honde-eienaars mag dink dat dit ’n lawwe idee is om hul honde se dieet met rooibos aan te vul en dat hulle dit dalk nie wil probeer nie, maar deur dit te doen kan hulle wonderlike resultate misloop.

Verskeie studies deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR), die Landbounavorsingsraad (LNR, Infruitec-Nietvoorbij, Stellenbosch) en die Tokyo University of Agriculture and Technology bevestig rooibos se potensiaal om die aanvang en vordering van tipe 2-diabetes by diabetiese knaagdiere te vertraag. Dit is dus nie ’n verrassing dat Jesse so goed op die behandeling reageer het nie.

Zaria se projek het ook gehelp om die gemeenskap daarvan bewus te maak dat honde ook deur diabetes geaffekteer word, en dat vroeë bespeuring van die toestand hulle kan red en hul lewensgehalte dramaties kan verbeter. Al wat jy moet doen, is om die rooibostee vir drie tot vyf minute te kook, dit te laat afkoel en langs jou troeteldier se waterbak neer te sit of met sy kos te meng.

FOTO: iStock/K_Thalhofer

LEES OOK:

15 tekens dat jou hond siek is

Hoe om jou hond op jou nuwe baba voor te berei

Vraelys: Watter troeteldier is vir jou bedoel?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 maklike gesondheidswenke vir mense met tipe 2-diabetes

Klein veranderinge kan ’n reuse-verskil maak. Deur Natalie Healey

Close