×
Skakel na Engels

Rustelose-bene-sindroom: Wat dit is en hoe om dit te behandel

Alles wat jy van rustelose-bene-sindroom moet weet
Rustelose bene sindroom

Rustelose-bene-sindroom (RBS), wat ook as Willis-Ekbom-siekte (WES) bekendstaan, is ’n algemene ongediagnoseerde dog behandelbare neurologiese toestand wat enige iemand, ongeag hul ouderdom, kan raak. Dit veroorsaak ’n oorweldigende behoefte daaraan om jou bene en moontlik ander dele van jou liggaam te beweeg, en dit gaan dikwels gepaard met onaangename sensasies wat gewoonlik met periodieke beenbewegingsteurnis geassosieer word. Dit kan ook jou slaappatrone beïnvloed.

Onlangse studies het geenvariante ontdek wat tot die risiko van RBS kan bydra. Dis dikwels oorerflik, maar kan ook as gevolg van ’n ander toestand voorkom, soos diabetes, Parkinson se siekte, gewrigsrumatiek, bloedarmoede weens ’n ystertekort, en ’n paar ander neurologiese siektes. Sommige middels kan blykbaar ook RBS veroorsaak.

Het jy RBS?

Die simptome:

  • ’n Onweerstaanbare drang om jou bene te beweeg, asook onaangename en ongemaklike sensasies in die bene (en soms die arms en ander dele van die liggaam).
  • Bogenoemde simptome vererger oor tyd en kom selfs voor wanneer jy rus of onaktief is (soos wanneer jy sit of lê).
  • Baie stap en strek help om die simptome te verlig. 
  • Simptome vererger in die aand of nag, of kom slegs in die aand of nag voor.
  • Simptome is nie uitsluitend as gevolg van ’n ander toestand nie (soos beenkrampe of beenswelling).

’n Akkurate diagnose is belangrik om die nodige behandeling vir RBS te kan kry. As jou simptome ernstig is, kan jou dokter medikasie voorskryf. 

Lees: 7 maniere om oor-die-toonbank-medikasie te ontsyfer

Hoe kan dit behandel word?

Daar is geen enkele kuur of behandeling nie. Jou dokter sal waarskynlik ’n kombinasie van leefstyl- en dieetaanpassings voorstel, asook medikasie voorskryf.

Aanbevelings om RBS-simptome te beheer:

  • Toets jou ystervlakke en pas dalk jou dieet met ysterryke kosse of ysteraanvullings aan.
  • Vitamiene en ander aanvullings kan jou help om die simptome te beheer.
  • Let op ander voorskrif-, oor-die-toonbank- en kruiemedisyne wat jy neem. Algemene medikasie vir hoë bloeddruk, naarheid, verkoues, allergieë en depressie kan snellers vir RBS wees.
  • Identifiseer en hou tred van gewoontes of aktiwiteite wat jou simptome vererger.
  • Volg ’n gesonde en gebalanseerde dieet.
  • Beperk of staak jou alkohol- en kafeïen-inname. (Dit behoort jou slaap te help verbeter.)
  • Vind aktiwiteite wat die simptome help verlig, soos stap, strek, ’n lang koue of warm bad, masserings, akupunktuur, of ontspanningstegnieke soos meditasie of joga.
  • Vind maniere om jou kop aan die gang te hou terwyl jy sit of lê, soos blokkiesraaisels, sudoku, naaldwerk of gesprekke.
  • Vermy nikotien.
  • Alternatiewe medikasie en behandelingsopsies kan ook ondersoek word.

As jy aan RBS ly, onthou dat jy nie alleen is nie. Gaan sien altyd jou dokter as jy enigsins oor jou gesondheid bekommerd is.

Hier is nog ’n paar bronne vir ekstra navorsing en ondersteuning:

https://rls.org

http://www.sassm.org/sleep-disorders/restless-legs-syndrome.htm

http://www.health24.com/Medical/Leg/Leg-problems/Drugs-may-help-relieve-restless-legs-syndrome-20130305

http://www.healthline.com/health/restless-leg-syndrome/treatments#overview1

Foto: iStock/Yulia-Images

LEES OOK:

7 dinge wat dokters wil hê vroue van hul seksuele gesondheid moet weet

Oefen jou brein vir meer slaap

8 gesondheidsfeite wat jy met jou dokter moet deel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dokters deel 5 maniere om jou risiko vir demensie te verlaag

Hierdie leefstylveranderinge sal jou brein gesond hou namate jy ouer word. Deur die Britse Good Housekeeping-webspan

Close