×
Skakel na Engels

Ruk só jou slaapkamer reg vir ’n goeie nagrus

Skep die regte atmosfeer vir ’n behoorlike nagrus. Deur Natalie Healey
nagrus

 

Min mense se slaapkamer tuis kan kers vashou by die rustigheid van ’n hotelkamer, daarom is dit onnodig om jouself te verknies oor jou slaapplek wat nie minimalisties – vars linne en al – genoeg ingerig is nie. Sukkel jy wel om ’n goeie nagrus te kry, kan ’n paar veranderinge in jou kamer ’n reuse-verskil maak.

Christabel Majendie, ’n slaapterapeut van NaturalMat in Brittanje, verduidelik:

“Die meeste mense se slaapkamers is dikwels eintlik glad nie geskik vir ’n goeie nagrus nie. Navorsing wys dat ’n beter slaapomgewing jou kans op ’n goeie nagrus aansienlik kan verhoog.”

Maar wat kan ons prakties doen om ons slaapomgewing te verbeter? Majendie gee raad:

1. Dink stil, donker en koel

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar ’n donker kamer sal help dat jou liggaam behoorlik baat vind by slaap. Belê dus in dik gordyne (wat werklik die straatligte buite jou kamer uitdoof).

Beperk elektroniese toerusting in jou kamer tot ’n minimum weens die blou lig wat dit uitstraal. Verban die wifi-roeteerder na ’n ander vetrek indien moontlik.

Jy kan selfs ’n gemaklike (en stylvolle) oogmasker probeer – jy sal beter slaap en boonop soos ’n filmster voel!

Geraas is nog ’n slaapkamer-euwel wat uitgeroei moet word. As jy naby ’n besige straat woon, is oorpluisies noodsaaklik.

As jou kamer te warm is, kan dit ook slaapprobleme veroorsaak. Hou ’n venster oop indien moontlik, veral in die somer, sê Majendie. Dit sal jou help om gouer aan die slaap te raak.

2. Pak jou pajamas weg

Volgens navorsing kan jy die gehalte van jou nagrus aansienlik verbeter as jy in jou evas- of admasgewaad slaap, sê Majendie.

“Dit help jou om jou liggaamstemperatuur te reguleer, wat beteken jou slaap sal nie deur oormatige hitte onderbreek word nie.”

3. Raak ontslae van tegnologie

Jou slaapkamer is regtig net vir seks en slaap bedoel, sê Majendie. Ja, jy het reg gelees!

“Vra jouself: Het ek werklik al hierdie toerusting in my kamer nodig? Hou jou slaapplek so tegnologievry as moontlik en jy sal makliker aan jou slaapkamer dink as die plek waar jy, wel, slaap!”

4. Skryf jou sorge neer voordat jy gaan slaap

Laat jou probleme buite jou slaapkamerdeur, sê Majendie. Bekommernisse is een van die grootste redes vir ’n tekort aan slaap.

“Wat dit ook al is waarmee jy in jou binneste worstel, verklaar ’n wapenstilstand en kry vrede. Jy sal beter slaap. Jy kan altyd die stryd in jou kop die volgende dag verder voer.”

Majendie stel voor dat jy elke dag 10 tot 15 minute afstaan om jou bekommernisse neer te skryf, en ook wat jy daaraan gaan doen.

5. Kies beter beddegoed

Kies linne van goeie gehalte vir ’n beter nagrus. Hoe gemakliker jy is, hoe makliker sal jy aan die slaap raak. 

Majendie stel voor jy kyk uit vir beddegoed met die volgende kenmerke:

  • Dit is deurlugbaar: ’n Matras wat “asemhaal” help om jou liggaamstemperatuur te reguleer, wat beteken dat jy gemakliker sal wees terwyl jy slaap.
  • Dit is hipoallergenies: Allergieë kan jou heelnag wakker hou. As jy allergies is vir gewone vesels, is dit belangrik om beddegoed met teen-allergiese beskerming te kies.
  • Dit beskerm teen stofmyte: Daar is produkte beskikbaar wat voorkom dat stofmyte ’n broeiplek van jou bed maak. Dis die moeite werd om te oorweeg, aangesien dié klein karnallies jou vel kan irriteer en só jou slaap onderbreek.

Van: Net Doctor UK

Foto: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

Gaan jy langer jonger lyk as jy op jou rug slaap?

8 kosse om jou beter te laat slaap

Oefen jou brein vir meer slaap

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Eet dít om beter te slaap

Peusel ’n uur voor slaaptyd aan dié lekker kosse vir ’n behoorlike nagrus

Close