×
Skakel na Engels

Ruk jou huis reg voor Kersfees: 5 weke oor

Wenke vir ’n skoon, netjiese kombuis!
Kersfees

5 weke oor: kombuis

My skoonmaakreël: “Ruim jou toonbanke op voordat jy gaan slaap”

Kom in die gewoonte om jou kombuis ná aandete of ’n kuier op te ruim. Teen die tyd dat Kersfees aanbreek, sal jy al ingeoefen wees. Só verseker jy dat daar geen vuil borde en glase die volgende oggend vir jou wag nie. 

Niks sit so ’n demper op jou dag soos toonbanke wat nog vol van gisteraand se skottelgoed staan nie. Om te keer dat jy die hele vakansie in die kombuis deurbring, vra die hele gesin om te help en gee vir elkeen ’n spesifieke taak sodat julle die werk vinnig kan klaarkry. 

Pin hierdie artikel vir later. Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Operasie skoonmaak: Só was jy ’n vuil skottelgoedwasser

Hierdie toestel werk gewoonlik oortyd tydens Kersfees, en daarom is dit belangrik dat jy dit vooraf behoorlik skoonmaak. Hier is 3 maklike stappe om dit soos nuut te laat lyk en ruik:

1. Giet 1 koppie witasyn op die bodem van die masjien. Voeg ’n koppie koeksoda by en los dit om oornag te week.

2. Skrop die binnekant van die skottelgoedwasser met ’n skuursponsie. Skakel dit nou op die kragtigste siklus aan.

3. Haal die filter uit, was dit in warm, seperige water, spoel af en sit dit terug.

1 uur vir ’n vars kombuis

Dit kan baie oorweldigend voel as jy jou hele kombuis moet skoonmaak. Ons het dit dus in hanteerbare 20-minute-take opgedeel sodat jy die hart van jou huis eksie-perfeksie kan laat lyk.

20-MINUTE-TAAK 1: Pak die skottelgoedwasser en skakel dit aan. Vul potte en panne met warm, seperige water en plaas dit eenkant.

20-MINUTE-TAAK 2: Verwyder alles uit die yskas wat verval het. Vee die rakke en die binnekant van die deur met warm, seperige water af, en vee dit met ’n skoon lap droog. Pak die orige kos terug.

20-MINUTE-TAAK 3: Maak jou toonbanke en tafel aan die kant en vee dit af. Vee en mop die vloer en maak dan die vullisdrom leeg.

Nuttige kopies

Hierdie produkte sal jou help om jou kombuis in ’n japtrap op te ruim:

1. Natural Orange Bio Laundry Soap bevat natuurlike bestanddele. Dit beskerm dus jou klere én keer dat grondwater besoedel word. R140, Faithful to Nature

2. Die koolstoffilter in hierdie stylvolle komposhouer keer dat jou kosafval ’n klankie kry. R499, Yuppiechef.com

My praktiese reël: “Hou ’n inventaris van droë kruideniersware om te keer dat jy dubbel koop”

Plak notas op van hoeveel jy van wat het om te keer dat jy onnodig geld uitgee, en ook dat produkte verval nog voordat jy dit kan gebruik. Skryf ook dadelik neer wanneer iets op is sodat jy weet wat om volgende keer te koop. 

’n App soos Out of Milk help jou  om tred te hou van die kruideniersware en bestanddele wat jy vir jou gunstelinggeregte nodig het. Dis die ideale manier om dié feestyd georganiseerd te bly.

Operasie opruim: Skaal jou kombuisgoed tot net die nodigste af

Jou kombuis gaan waarskynlik die bymekaarkomplek dié vakansie wees. Maak dus seker dat daar geen onnodige en oortollige kombuisgoed rondstaan nie.

1. POTTE EN PANNE: Wat jy nodig het: 1 klein en 1 groot pan, 1 klein, 1 middelslag- en 1 pastakastrol, asook 1 vergiettes en 1 spatskerm.

2. OONDBAKKE: Wat jy nodig het: 1 klein, 2 middelslag- en 2 tot 3 groot oondbakke.

3. SNYPLANKE: Wat jy nodig het: 1 vir brood, 1 vir vleis en 1 vir groente, asook 1 tot 2 kleiner planke om goed op te sny of te kap.

1 uur vir ’n ordelike koskas

Hierdie 20-minute-take sal jou help om tydens die feestyd orde te handhaaf:

20-MINUTE-TAAK 1: Maak die kas heeltemal leeg en plaas alles wat verval het eenkant. Vee die rakke en binnekant van die deur af.

20-MINUTE-TAAK 2: Gebruik vlak plastiekmandjies om taakverwante goed bymekaar te hou, soos speserye, olies en souse, of bakgoed. Gooi ontbytpap, suiker, boontjies, pastas en grane in deursigtige houers oor.

20-MINUTE-TAAK 3: Tik en druk ’n inventaris uit van hoeveel voorraad jy van noodsaaklike kruideniersware het. Die idee is om produkte af te merk namate jy dit opgebruik. Neem ’n foto met jou selfoon sodat jy vinnig in die winkel kan kyk wat jy nodig het.

FOTO: iStock/izusek

LEES OOK:

6 planne vir ’n geordende kombuis

Knap só jou kombuis in ’n naweek op …

6 maniere om in die kombuis water te spaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ons 10 beste Kersfeeskoekie-resepte

Hier's ons lys van die lekkerste koekies om self te geniet of as geskenke te gee

Close