×
Skakel na Engels

Ruk jou huis reg voor Kersfees: 4 weke oor

Wenke vir ’n salige, skoon slaapkamer!
Kersfees

4 weke oor: slaapkamer

My skoonmaakreël: “Trek jou skoene uit voordat jy die slaapkamer binnegaan”

Maak al die kamers skoenvrye sones tot en met Kersfees. Só sal daar minder vuiligheid op die vloere wees, wat minder skoonmaak beteken.

Skoene bring vuiligheid, modder en bakterieë in die huis in en verinneweer boonop jou matte. Rig dus ’n “skoenstasie” by die deur in, en maak seker daar is ook een vir kuiergaste wat gedurende die feestyd kom oorslaap.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Operasie skoonmaak: Maak só ’n matras skoon

Kies ’n sonnige naweek en dra elke kamer se matras een vir een buitentoe. Begin met die grootste matras en dan die kleineres. Só takel jy die grootste werk wanneer jy nog vol energie is. Volg hierdie eenvoudige stappe om elke matras in jou huis skoon te maak:

1. Trek al die linne van jou bed af en gooi dit in die wasmasjien. Stofsuig nou die matras met die stoffeerhegstuk.

2. Maak enige vlekke skoon en laat droog word. Besprinkel die hele matras met koeksoda en laat staan vir 24 uur (buite in daglig indien moontlik).

3. Stofsuig weer en ontreuk met witasyn. Onthou om ’n matrasbeskermer te gebruik om jou teen stofmyte en jou matras teen moontlike vlekke te beskerm. Ons hou van Protect-A-Bed mattress protectors (vanaf R309, Takealot).

1 uur vir ’n silwerskoon kamer

Hierdie skoonmaaktruuks sal jou hope tyd spaar en boonop elke hoekie en gaatjie skoon laat. 

20-MINUTE-TAAK 1: Vee deure, vensterbanke, vloerlyste en skakelaarplate met ’n klam mikrovesellap en ’n bietjie reiniger af.

20-MINUTE-TAAK 2: Vee blindings met ’n mikroveselskoonmaker vir blindings af (ons hou van die Addis Blind Cleaner, R79,99, Pick n Pay). Gooi dunner gordyne in die wasmasjien.  

My praktiese reël: “Jou slaapkamer is vir rus en ontspan, nie vir opgaar nie”

Verseker dat jou slaapkamer en die deel van jou huis net buite jou kamer nie oorvol is nie om die beste nagrus te verseker. Só sal jy meer krag en energie vir al die aktiwiteite van die feestyd hê.

Operasie opruim: Pak jou kas in 3 maklike stappe reg

Kort ná Kersfees breek die nuwe jaar aan, en voordat jy jou oë uitvee, is jy weer volstoom aan die gang. Kry dus vanjaar ’n voorsporng en pak nóú jou kaste reg. Vra sommer jou man en kinders om hul kaste ook uit te sorteer.

Vra jouself hierdie 3 vrae oor elke item in jou kas:

1. Het ek dit die afgelope jaar gedra?

Behalwe vir ’n paar sentimentele items, weet jy wat om te doen as die antwoord nee is.

2. Het ek dit nodig en hou ek daarvan?

As jy nie op een van die twee ja kan antwoord nie, is dit tyd om daarvan ontslae te raak.

3. Kan ek dit weer gebruik?

As ’n naald en gare, ’n ritssluiter of ’n nuwe soom ’n kledingstuk kan red, hou dit, maar gee jouself ’n sperdatum of laat dit gaan.

1 uur vir ’n salige slaapkamer

Verdeel ’n groot taak in kleiner en korter stappe en jy sal dit in ’n tjoef-tjaf kan afhandel:

20-MINUTE-TAAK 1: Kies twee plekke wat aandag nodig het. Van ’n deurmekaar bedkassie tot ’n laai vol herlaaikabels en gemors, dis tyd om goed op hul plek te bêre.

30-MINUTE-TAAK 2: Kry beheer oor ’n bepaalde gedeelte van jou klerekas, soos skoene of serpe, en neem tyd om dit op te deel tussen wat jy wil verkoop, weggee of laat regmaak. Herhaal dié taak elke paar dae totdat jou hele klerekas netjies en uitgesorteer is.

10-MINUTE-TAAK 3: Gebruik weer die stoel in die hoek om daarop te sit – nie as bergplek vir klere nie. Bêre skoon klere en besluit waarvan jy ontslae wil raak.

Kopies vir ’n pragkamer

1. ’n Hoë laaikas het baie pakplek en is ideaal vir ’n klein kamer. Benet Tallboy R6 299, @home

2. Hierdie opvoubare kis is ideaal vir winterklere en komberse. R500, MRP Home

3. Trek jou bed met ’n Vencasa-katoen-duvetstel in ’n vintage-styl oor. Vanaf R1 100, www.vencasa.co.za

4. ’n Laaikas wat ook as ’n bedkassie dien, werk twee keer so hard. Cresthil-laaikas R9 995, Coricraft

FOTO: iStock/AntonioGuillem

LEES OOK:

Ruk só jou slaapkamer reg vir ’n goeie nagrus

10 nuttige wenke as jy nie kan slaap nie

Die beste kopies vir ’n skoonheidslapie wat wérk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ruk jou huis reg voor Kersfees: 5 weke oor

Wenke vir ’n skoon, netjiese kombuis!

Close