×
Skakel na Engels

Ruk jou huis reg voor Kersfees: 3 weke oor

Wenke vir ’n skoon, netjiese woonkamer!
Kersfees

3 weke oor: woonkamer

My skoonmaakreël: “Laat maak jou rusbanke en los matte een keer per jaar professioneel skoon”

Daar’s nie ’n beter tyd in die jaar om jou rusbanke en los matte te laat skoonmaak as voor Kersfees wanneer die hele familie kom kuier nie. Moenie te lank wag voordat jy dit doen nie, want skoonmaakdienste raak hierdie tyd van die jaar nogal besig en is dikwels lank vooruit vol bespreek.

Wanneer jy jou meubels, los en volvloermatte jaarliks skoonmaak, kan dit ook langer mooi bly. ’n Gereelde skoonmaak lei dus tot ’n langer leeftyd – en só wen almal.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Operasie skoonmaak: Tyd om daardie gordyne te takel!

Net soos die rusbanke en matte behoort jou gordyne ook jaarliks gewas te word. Maak seker jy was jou gordyne volgens die versorgingsaanwysings.

1. Masjienwas: Lees eers die wasaanwysings op die etiket. As jou gordyne se materiaal nie vooraf gewas is nie, is dit nie geskik vir masjienwas nie. Andersins kan jy dit op ’n delikate siklus en met ’n matige wasmiddel was.

2. Gebruik die ligste tolfunksie om kreukels te keer en laat die gordyne plat droog word sodat die materiaal nie rek nie.

3. Gebruik ’n stoomreiniger en werk van bo na onder. Hou dit ver genoeg van die materiaal af sodat die lap nie nat word nie.

4. Gebruik hierdie metode verkieslik vir swaarder gordyne en kies ’n warm dag sodat dit vinnig droog word.

1 uur vir ’n agtermekaar sitkamer 

Kry jou woonkamer in ’n japtrap vir gaste gereed:

15-MINUTE-TAAK: Vee alle oppervlakke met ’n mikrovesellap af, van die koffietafel tot sytafeltjies, fotorame en ligtoebehore.

30-MINUTE-TAAK: Om jou vensters behoorlik skoon te maak, spuit jou gewenste reiniger op en vee dit horisontaal. WENK: Kies ’n bewolkte dag omdat direkte sonlig die vloeistof te vinnig laat droog word en strepe kan maak.

15-MINUTE-TAAK: Troeteldierhare kan ’n pyn wees! Rol ’n kleefroller oor banke, kussings en lampskerms om hare en wolle te verwyder. Nog ’n maklike oplossing vir dierehare is om ’n rubberhandskoen aan te trek, dit klam te maak en meubels daarmee af te vee. Spaar veetyd deur die res met ’n handstofsuier skoon te maak.

Probeer dié produkte

Hou hierdie reinigingsprodukte byderhand om in die feestyd vinnig skoon te maak:

1. Speel gou klaar met stof met mikrovesellappe. R79,99 vir ’n pak met vier, MRP Home

2. Maak van koeldrank tot krummels skoon met die Hoover Gator-handstofsuier. R999, Takealot

3. Mr Muscle’s 5 in 1 Tile Cleaner dring maklik deur vetterigheid en laat teëls silwerskoon. R34,99

My praktiese reël: “Hou afstandbeheerders in ’n houer”

Die alewige gesoek kan jou tot raserny dryf. Hou dus ’n mandjie of boksie byderhand om dié toebehore in te bêre.

Operasie opruim: Herstel die orde in jou sitkamerkas

1. DVD’S EN TYDSKRIFTE: Spaar plek deur DVD’s in ’n lêer met sakkies vir kompakskywe (by musiekwinkels te koop) volgens kategorie te bêre. Sorteer tydskrifte volgens wat jy wil hou of weggooi, en sit artikels wat jy wil hou in ’n lêer.

2. BOEKE: Haal al die boeke van jou boekrak af en sorteer dit volgens genre (soos koffietafelboeke, romans en kinderboeke). Maak ook ’n hopie vir weggee of verkoop. Pak die boeke volgens genre terug – dit maak dit makliker om dit elke keer op die regte plek te bêre.

3. SNUISTERYE EN VERSAMELGOED: Stof jou snuisterye af, kies ’n paar om uit te stal en pak die res in bokse weg. Ruil dit elke paar maande met ander om.

10 minute vir ’n leefbare woonkamer

Knap dié ruimte op om die orde te behou wanneer gaste vir die vakansie kom kuier:

5-MINUTE-TAAK: Begin by daardie oorvol koffietafel! Sit ’n mooi skinkbord bo-op vir afstandbeheerders, ’n kers, ’n ornament of een of twee boeke.

5-MINUTE-TAAK: Voel jy dis tyd om jou sitgedeelte te herrangskik? Hoekom ruil jy nie jou bank en stoele om nie?

Dollie dit op

Gee jou woonkamer voor die Kerstyd ’n vars, moderne voorkoms met hierdie huishoudelike items:

1. Moden-boekrak R2 500, MRP Home

2. Geweefde mandjie R229, H&M 

FOTO: iStock/Portra

LEES OOK:

3 maniere om jou huis oor ’n naweek op te kikker

Dinge wat jy moet begin skoonmaak wanneer jy kinders het

5 huisskoonmaakfoute

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
25 oulike geskenke vir R150 en minder wat jy vir vriendinne kan koop

Ons maak dit maklik om die perfekte geskenk te kies

Close